Willem Botha en Charné Marnewick by vanjaar se Ghoema-toekennings
FOTO: Twitter

Willem Botha en Charné Marnewick by vanjaar se Ghoema-toekennings FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Willem Botha oor sy eerste hoofrol in blyspel met Bles Bridges se musiek

Die sanger Willem Botha het sy eerste hoofrol losgeslaan in die musiekblyspel Reik na die sterre met Bless Bridges se musiek.

“Dit was my moeilikste oudisie nog,” vertel Willem oor die oudisie wat reeds in November plaasgevind het. Hierin moes hy wys dat hy nie net kan sing nie, maar ook kan dans en toneel speel.

“Sing was natuurlik die maklikste, maar ek moes eers die res suksesvol doen in die oudisie,” sê hy. ’n Paar weke later het hy gehoor dat hy die rol gekry het.

Die hele toneelgeselskap, wat bekendes soos Sarah Theron en Richard van der Westhuizen insluit, begin volgende maand repeteer, maar Willem begin dié week al repeteer. Dit is sodat hy al die danspassies betyds onder die knie kan kry.

Sarah Theron en Richard van der Westhuizen tydens 'n fotosessie agter die skerms van Reik na die sterre FOTO: Twitter (@RNDS_Musical)

Sarah Theron en Richard van der Westhuizen tydens ‘n agter-die-skerms-fotosessie van Reik na die sterre.
FOTO: Twitter (@RNDS_Musical)

“Ek het elke bietjie hulp nodig wat ek kan kry as dit by dans kom,” lag hy.

Reik na die sterre gaan oor Stefan (gespeel deur Willem), ’n tiener wat op soek is na die ware betekenis van liefde. Wanneer hy die 19-jarige Jana (die nuweling Kristen Raath) ontmoet, raak hy dadelik verlief. Maar dan moet Stefan in ’n oorlog gaan veg en wanneer hy terugkeer huis toe, het als verander.

“Kristen is in matriek, so sy is nog baie jonk en vars. Dis vir my lekker om dié pad saam met haar te stap,” vertel hy. Sarah en Richard gaan die ouers van die jong Stefan speel.

“Ek is baie opgewonde om saam met hulle te werk. Ek het met Richard op die kassie grootgeword.”

*Reik na die sterre is vanaf 10 Julie tot 3 Augustus op die planke by die Staatsteater in Pretoria.