Het jy gehoor?

Wolwedans in die skemer terug op radio

Toe Wolwedans in die skemer in 1980 sy debuut op radio gemaak het, het die verhaal binne 6 weke ’n sensasie veroorsaak en gou bekend geraak as die gewildste radioverhaal sedert Die Du Plooys van Soetmelksvlei.

Skoolkinders het sport gemis en huis toe gejaag daarvoor. Vergaderings is rondom die verhaal  geskeduleer en feitlik elke Afrikaanse huisgesin het op een of ander manier na die storie geluister.

Dit het later ook ’n TV-reeks en ’n roman geword. Sedertdien het luisteraars sonder ophou gevra dat die verhaal moet terugkeer na die radio. En nou gebeur dit.

Ter herdenking van die SAUK se 75ste verjaardag het Leon van Nierop die storie aangepas en gemoderniseer vir 2012. Daar is ’n paar ekstra storielyne en nuwe kinkels ingeskryf om luisteraars aan die raai te hou. Wie pleeg al die moorde in Hotel Njala in die Hazyview-vallei en waarom?

Boonop is daar ook ’n fliek geskiet wat van 5 Oktober 2012 landwyd te sien is.  

Al die spelers wat in die radiodrama gehoor kan word, sal ook in die fliek te sien wees. Hulle is Rolanda Marais, David Louw, Desiré Gardner, Gerard Rudolf, Lelia Etsebeth en Karen Wessels.

[box:full:grey:both]

Die oorspronklike spelers van Wolwedans in die skemer

[/box]

Die oorspronklike Wolwedans in die skemer-spelers

Dié foto is geneem toe die verhaal 1 jaar op die lug was en aangewys is as die gewildste moderne radioverhaal.

Van links is Charles Gentle (byklanke), Mieder Olivier (Conrad Nolte), Patrick Mynhardt (Oom Tooi), Ryno Hattingh (Ryno), Bettie Kemp (Sonja), Leon van Nierop (skrywer en Armand), Lerina Erasmus (Adéle), Annemarie Muller (Diana), André du Toit (klank).

[box:full:grey:both]

Die nuwe spelers in Wolwedans in die skemer

[/box]

Agter: Gerard Rudolf (Conrad Nolte), Jacques Bessenger (Armand) en Karen Wessels (Bertha). Voor hulle is Lelia Etsebeth (Maggie) in die oranje toppie en Desiré Gardner (Adéle). Voor hulle is Leon van Nierop (Jan) en Rolanda Marais (Sonja). Heel voor sit David Louw (Ryno) en Amor Tredoux (Diana).