Zanne Stapelberg

Het jy gehoor?

Zanne, Zoid & Zolani ‘rock’ saam op Woordfees

Die drie groot vroulike Z’e in die SA sangbedryf: Afrikaans se rock chick Karen Zoid, operaster Zanne Stapelberg en Zolani Mahola, hoofsanger van die popgroep Freshlyground, snoer kragte saam in Zoid. Zanne. Zolani by die Woordfees* op Stellenbosch vanjaar. **

“Dit is ’n soort opera rocks Africa-vibe,” lag operaster Zanne Stapelberg met haar guitige bloedrooi lippe.

“Ons drie is al jare lank vriendinne en groot aanhangers van mekaar se musiek. Ons praat al hóé lank daarvan oor hoe wonderlik dit sal wees om iets saam te doen. Ek en Karen het al heelwat saamgesing en só ook sy en Zolani. Maar dis ’n eerste vir die drie van ons. Die proses van musiek ontgin, waar ons dit saam interpreteer en aan die gehoor kommunikeer, is baie opwindend. Ons gemene deler is dat ons die gehoor wil roer . . . En ons deel natuurlik ’n liefde vir lekker lag. Daardie lewensvreugde gaan hopelik duidelik wees wanneer ons optree. Ons is ook al drie ware verhoogdiere!’’

Die produksie staan glo bekend as een met “’n hart”, juis omdat daar baie “kruisbestuiwing’’ tussen die kunstenaars is.

“Ja, ek het by Karen geleer hoe om ‘harregat’ met hart te wees!,” bevestig Zanne dié stelling, “Sy het dit as kind nie altyd maklik gehad nie en is volkome eerlik; dis een van haar mooiste eienskappe. Zolani is weer van die goedhartigste mense op aarde. Sy het ware grasie. Om dop te hou hoe sy mense hanteer herinner my aan die woorde ‘grootheid van gees.’ Ek is so lief vir hulle.’’

Die show is deurspek met ’n verskeidenheid musikale genres: opera, rock, Xhosa, pop, Afrikaans.

Zanne (of soos vriende haar noem, Zaza) se grootste uitdaging van dié show is dat sy haarself toelaat om as kunstenaar “soos ’n boom te groei’’. Sy vertel: “Hoe ouer en groter hy word, hoe dieper raak sy wortels, hoe meer water kan hy drink, hoe wyer kan sy takke strek, en hoe meer blare kan hy dra.”

Sy reken dat elke nuwe produksie wat sy aanpak, nuwe kamers in haar kop (en verbeelding!) oopmaak. “Die vreugde en uitdaging lê daarin om die kamers te verf en versier op ’n manier wat jou – as kunstenaar – maar ook ánder mense sal begeester en ontroer.”

Zaza sien so baie uit na dié produksie soos wat sy uitgesien het na haar nuwe rok vol blinkers vir die matriekafskeid. “Om die verhoog te deel met twee sulke uitnemende musiekwesens is ’n vreugde wat jy kwalik in woorde kan uitdruk. Dit maak dat ek steeds, ná al die jare van sing, dink: ‘is dit regtig my wérk?’”

…. Lees HIER wat sê Zaza oor haar 3 kinders.

*Die Woordfees begin 12 Maart. **Dié show is ook op 23 en 24 September in Kunstekaap, Kaapstad, te sien.