Het jy gehoor?

Zara Phillips die voorbladgesig

In die Tatler-onderhoud in die Oktober-uitgawe vertel Prins William en Harry se niggie dat sy en haar man, die Engelse rugbyspeler, Mike Tindall (32), baie graag kinders wil hê, maar nie nou al nie. Die paartjie is in Julie vanjaar in Skotland getroud, maar het selfs vir professionele redes hul wittebrood eers bietjie uitgeskuif. Dis ook nog onseker of haar skedule haar gaan toelaat om Mike in Nieu-Seeland tydens die Wêreldbeker by te staan.

Dié perdry-kampioen en haar ma, Prinses Anne, is bekend vir hul toegewydheid. G’n wonder ‘n Olimpiese medalje is ook een van Zara se groot doelwitte nie!

Sy het pas haar eie perdry-kinderklerereeks vir Musto bekendgestel. Sy het al voorheen met dié handelsnaam saamgespan om ‘n perdry-klerereeks vir volwassenes saam te stel.

Vir sosiale netwerke is sy maar versigtig, verklap sy. Al het haar ouma, die koningin, ‘n aktiewe Facebook-blad, sien Zara Facebook as ‘gevaarlik’.

* Sien die volle onderhoud in die Oktober-uitgawe van Tatler.