10 dinge waaroor Juanita du Plessis droom + sy wys haar foto's

Deur Martie Swanepoel, SARIE - April 2010

10 dinge waaroor Juanita du Plessis droom + sy wys haar foto's Foto’s: Clinton Lubbe Galery

In 'n vorige SARIE-artikel deel Juanita met lesers die 10 dinge wat sy nog wil doen

Reis na Nashville om regte countrymusiek te gaan sing. Ek wil beslis eendag ’n pelgrimstog na Jerusalem onderneem om in Jesus se voetspore te stap en ek wil my gesin Disney World toe neem.

Lees Elke boek wat evangelis Joyce Meyer nog gaan skryf. Ek het al haar vorige boeke gelees. Sy is my aardse mentor. Ek kan nie so gereeld kerk toe gaan nie, want mense hou my heeltyd dop. My kerk is in my hart. As Christen in die vermaakbedryf kyk mense met arendsoë ingeval jy verkeerd trap. Joyce inspireer my om op die pad te bly.

Ontmoet My droom om Joyce te ontmoet het waar geword toe sy Suid-Afrika besoek het en my gevra het om by haar praatjies op te tree. Weens ander verpligtinge kon ek dit net een keer doen, maar dit was ’n seën. Ek het “Vlieg hoog” in Afrikaans gesing: Oor die deel in Jesaja wat sê as jy op die Here vertrou, raak jy nie moeg nie en vlieg jy op arendsvlerke. Joyce kon nie verstaan wat ek sing nie, maar die laaste deel van haar preek het op presies dieselfde vers gefokus.

Sien Ek wil graag die uittog van die massa wildebeeste op die Serengeti en die noorderligte by die Noordpool sien, en ’n wit Kersfees saam met my kinders beleef. En eendag, my eerste kleinkinders . . .

Bemeester Ek wil ’n goeie pianis word. Ek is spyt ek het nie as kind die klavier of kitaar leer speel nie. Ek het my kinders vir musieklesse gestuur en wou saam met hulle leer, maar ek is te besig en hulle is my al ver voor. Ek kan ’n bietjie op gehoor speel. As ek liedjies skryf, voel ek dit in my kop.

Ontslae raak van my perfeksionisme en onvermoë om af te skakel. Ek is gedrewe en baie krities op myself. Ek wil dinge dadelik gedoen hê.

Koop As ek eendag baie geld het, gaan ek ’n perdeplaas koop. Een soos in die flieks waar die perde op groen vlaktes wei. As ek perdry, voel ek ’n band met die dier. Ek voel sy ritme en ek drink die stilte in.


Proe
Niks sal ooit by boerekos kom nie. Ek is vol fiemies vir vreemde kosse. Ek verkies braaivleis of Doepie se potjies.

Gee Ek wil ’n ligdraer wees en vir mense leer dis beter om te gee as om te ontvang. Ek wil my kinders voorberei op die lewe en hulle leer van respek en verdraagsaamheid vir ander.


Bereik
Ek wil ’n beter liedjieskrywer word en as kunstenaar groei. Maar dit gaan nie net oor musiek nie. Ek wil mense bereik. Ek is reeds so geseënd. Ek het van kleins af oor
roem gedroom en die Here het elke droom laat waar word. Hy laat my op arendsvlerke vlieg.

KYK OOK DEUR HAAR FOTO'S IN DIE GALLERY HIERONDER

Juanita as baba

Verwante artikels

Galery

  • Juanita du Plessis
  • Juanita as baba
  • Sy was 'n goeie hoogspringatleet
  • Juanita, Doepie en die kinders
  • Juanita en haar ma, Fransie
  • Juanita en Doepie in die Drakensberge
  • Juanita en haar broer, Pieter
  • By die Deuriemikke-karnaval op Loftus, 2007
  • Juanita en Theuns Jordaan
  • Amor Vittone, Juanita en Nianell by Skouspel

Kommentaar

  • Ons in Namibie sal altyd trots wees op ons Jesus kind uit Namibie. Juanita en my dogter was saam op skool en ek onthou steeds die pragtige langbeen skooldogter. Dis wonderlik om te sien hoe jy en jou familie jul christenskap waarlik uitleef. Jy is 'n aansporing en voorbeeld vir oud en jonk.

    27ste Jan. 2012, 14:05
  • Dankie vir die amazing voorbeeld wat jy vir ons almal....asook ons tieners en jongmense stel. My seuns is 23 en 26 en geniet jou musiek nes ons! Ek was so lekker verras om 'n link van jou te kon luister op Kuduclub se Facebook....bring heimwee hier ver in UK!

    29ste Apr. 2010, 10:44
  • Juanita - jy is die toonbeeld van vroulikheid! Ek is mal oor jou en sal altyd bly. Bo en behalwe jou ongelooflike talent - bly jy ook 'n voorbeeld vir elkeen van ons deur altyd jou Christelikheid uit te leef. Mag jy meer "blessings" kry as wat jy ooit verwag!

    28ste Apr. 2010, 12:06
  • BAIE BAIE DAKNIE! Geniet altyd om te lees en te sien van Juanita. Ons ken haar vanuit Namibië - die Here is werklik so goed vir haar! Kan nie so gereeld die SARIE! koop nie (moet maar eers aan die brood en botter dink) - so dit is eintlike 'n WONDERLIKE VOORREG om SARIE so te lees.

    28ste Apr. 2010, 09:21