Casper de Vries vloek vir eers nie meer nie

Deur Madge Booth, SARIE - Desember 2010

Casper de Vries vloek vir eers nie meer nie Foto’s: verskaf Galery

Ná die herrie oor Casper de Vries se uitlatings teenoor mense wat nie van sy gevloek hou nie, speel hy sowaar nou in 'n skoon toneelstuk.

Die gesoute akteur en komediant speel vir die eerste keer in 19 jaar in 'n produksie wat nie deur homself geskep is nie. Vettie! Vettie! is 'n verwerking van Charles Laurence se trefferkomedie My Fat Friend wat deur Johan Bernard verwerk is en vertaal is deur Pierre van Pletzen. Tobie Cronjé doen die regie, so jy kan maar weet jy gaan skater van die lag!

"Hierdie komedie is gesinsvermaak! Ek kry 'n teks waarby ek moet hou, wat beteken dat ek nie één lelike woord op die verhoog mag of kán sê nie! Vir 'n volle ses maande gaan ek in die skoonste komedie in Suid-Afrika speel," lag De Vries. "Ek is seker daar is nou mense wat na hul asems snak en wat dit nie glo nie. Maar ek daag hulle uit om Vettie! Vettie! te kom kyk en om lekker te kom lag!"

Vettie! Vettie! steek die draak met vroue se nimmereindigende stryd teen hul gewig.  Karen Wessels vertolk die rol van Vicky, wat haar droomman ontmoet en nou maer wil word... Casper speel die rol van haar beste vriend, Henri, en hy is maar skepties oor dié dieet. Gert (gespeel deur Johan Botha) is 'n gourmet-kok wat in die geheim verlief is op Vicky en hy bederf haar met allerhande lekkernye.
 
Vettie! Vettie! gaan vanaf 27 Januarie landwyd te sien wees. Hulle maak eerste 'n draai by die Roodepoortse Promusica-teater. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

TOERPROGRAM

27 Januarie - 20 Februarie 2011 - Joburg Promusica Roodepoort
22 Februarie - 6 Maart 2011 - Carnival City - Mardi Gras
22 Maart - 10 April 2011 - Pretoria Staatsteater
19 - 24 April 2011 - Port Elizabeth Operahouse
26 April - 8 Mei 2011 - Artscape Drama Kaapstad

 

Verwante artikels

Kommentaar

  • Ek sal beslis ook nie kyk nie .... seker daai grillerige tongetjie sal menigmale heen-en-weer ..... in-en-uit die mondjie beweeg.

    14de Des. 2010, 17:40
  • Net omdat hy daarin speel sal ek dit nie kyk nie, hy is pateties!

    13de Des. 2010, 17:13
  • Who cares??????? In watter uitgawe kom die artikel dat ek dit tog nie koop nie! Nie lus om my lekker bui waarin ek is as ek my Lieflings-tydskrif lees, so op te foeter nie. O watter mooi woord is Foeter nie! Ook 'n F woord maar 'n mooi F woord, hoor jy Casparus? Sien jy, Casparus? Daar IS mooi F-woorde in ons mooi Afrikaanse taal! Die rede vir die "Nie-Vloek" is omrede dit nie sy eie verwerking is nie - dis maar al! So dis maar nie Casper wat nou so wonderbaarlik aan't verander is nie!

    13de Des. 2010, 16:24

Web Development by FormFunction