Christa Steyn met ’n pragroos vereer

Deur Willie Straus, SARIE November 2011

Christa Steyn met ’n pragroos vereer Foto’s: verskaf Galery

Die bekende en geliefde musikant, liedjieskrywer en komponis Christa Steyn vermaak gehore al vir 25 jaar met haar unieke musiekstyl en liedjies. Christa is veral bekend vir treffers soos “Ek wil vir jou” en “Aan die einde van die reënboog”.

Christa is vroeër vanjaar met bors- en lewerkanker gediagnoseer.

Nog ’n bekende en geliefde Pretorianer, die rooskweker Ludwig Taschner, het ’n nuwe roosvariëteit “Christa Steyn LUD” gekweek as blyk van waardering vir die bydrae wat Christa dekades lank tot die musiekbedryf en die ontwikkeling van jong talent in Suid-Afrika maak.

Die “Christa Steyn” is ’n basiese wit roos met ’n sweempie ligpienk wat op die rande van die blare sigbaar is en het ’n ligte roomkleur diep in die hart van die welgevormde blomkop. Hierdie besonderse roos kombineer al Christa se gunstelingkleure, en om alles te kroon het dit ’n lieflike geur.

Meer inligting oor die roos:

Die roosboom groei tot skouerhoogte en dra welige blomme dwarsdeur die seisoen. Die roos is reeds by uitgesoekte kwekerye beskikbaar en behoort ’n welkome geskenk in enige roosliefhebber se Kerskous te wees. Skakel gerus vir Ludwig’s Roses by 012 544 0144 as u meer inligting oor die roos wil bekom.

Om Christa finansieel by te staan in die tyd wat sy chemoterapie moet ondergaan en nie kan werk nie, word daar landwyd fondsinsamelings-konserte gehou.

Meer oor Christa se konserte

Christa se Kaapse Konsert word op 21 November 2011 by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch aangebied. Bekende name soos Anna Davel, Lize Beekman, David Kramer, Valiant Swart en Anton Goosen sal by die geleentheid optree. Besprekings kan by Computicket gedoen word en die kaartjies kos R125.

Op 23 November 2011 word daar nog ’n fondsinsamelings-konsert vir Christa by die Pierneef Teater in Pretoria gehou. Bekende sangers soos Rina Hugo, Helena Hettema, Manuel Escorcio, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock sal deel van die program uitmaak. Bespreek asseblief direk by die Teater deur 012 379 0709 te skakel. Die kaartjieprys vir die vertoning is R125.

Kyk hier na Christa se onderhoud met Copenie de Villiers op Kwêla vroeër vanjaar

Verwante artikels

  • Christa Steyn se genadetyd

    Christa Steyn se genadetyd

    SARIE Maart 2012 | Kommentaar: 57

    Sy’s nie bitter of kwaad nie, nie eens terneergedruk nie – en sy sal aanhou komponeer, aanhou werk, aanhou veg. Christa Steyn, een van SA se grootste musieksterre, praat oor goue oomblikke en haar stryd teen kanker.

Kommentaar

  • Kan iemand my dalk help soek die CD se naam die konsert wat hulle gehou het vir Christa Steyn. Daar is mense wat dit soek in NZ, ek gaan einde Mei na NZ en wil dit graag saamvat vir die mense. Asseblief help want die CD winkels kan my nie help nie. GROOT ASSEBLIEF

    4de Apr. 2012, 08:25
  • Christa, God sien elke traantjie wat jy stort en terwyl Hy jou styf teen Hom vasdruk weet net dat jy nie alleen is nie. Jy is so pragtig nes jou naamgenoot! Ons dra jou op in ons gebede. Liefde in Jesus

    13de Des. 2011, 21:14
  • Sjoe Christa ek het jou onderhoud met Coenie nou gesit en kyk. Jy is 'n inspirasie vir elke vrou. Mag jy kanker oorwin en nog lank gespaar bly vir jou mense. Groete uit Amerika.

    22ste Nov. 2011, 01:40
  • Christa verdien dit om met so 'n pragtige roos vereer te word. Knap gedaan Ludwig - en DANKIE Christa vir jou pragtige musiek van baie jare.

    19de Nov. 2011, 16:45
  • Daardie roos is 'n gelukkige roos om so 'n mooi naam te kry, om met so 'n besonderse mens geassosieer te word.

    19de Nov. 2011, 08:29
  • Met daardie stralende glimlag van Christa, kan daar net hoop wees; en is die twee nie pragtige rose nie! Liefde en koestering vir jou.

    18de Nov. 2011, 15:17
  • Ek was so geskok toe ek destyds verneem het van haar siekte, daarom is dit FANTASTIES om 'n roos na haar te vernoem. Mens gee mos blomme aan iemand(of soos in haar geval) terwyl sy dit self kan waardeer.Ek het net weer die afgelope maand besef hoe kosbaar die lewe is en daarom probeer ek VOLUIT LEEF!!!! Christa Steyn, BAIE STERKTE, Die Here is met jou elke dagxxx

    18de Nov. 2011, 10:49
  • dis die mooiste roos!!

    18de Nov. 2011, 10:21
  • Wonderlik, sy is soos 'n roos vir ons!

    18de Nov. 2011, 09:08

Web Development by FormFunction