Die brein agter Afri-Frans, en nou ook Afri-Spaans

Deur Marguerite van Wyk, SARIE - April 2011

Die brein agter Afri-Frans, en nou ook Afri-Spaans Foto’s: Des Ellis

Matthys Maree, wat die Afri-Frans musiekproduksie bekend gestel het, doen dit vanjaar wéér met Afri-Spaans. Waar kry hy rus vir sy siel?

Water doen net iets vir hom. “Van die moerige windwaaidae met dik, grys wolke en groot branders tot die perfekte bloulugvroegoggende waar daar nie ’n luggie roer nie en die water seepglad lê en wag op ’n ambisieuse waterskiër,” vertel Matthys Maree, pianis, musiekregisseur en CD-vervaardiger.

Hy en sy vrou, Anneke, ’n dieetkundige wat nou tuisbly-ma is, en hul kinders Daniël (8), Emilie (4) en
Stephane (7 maande), gaan elke Desember Knysna toe. Hy gaan ook soontoe op pad na die KKNK op Oudtshoorn of as hy iewers in die Suid-Kaap optree.

“As klein seuntjie het ek saam met my ouers, Susan en Kobus, en my broer, Andries, ’n prokureur op Stellenbosch en suster, Cobie, ’n arbeidsterapeut in Durbanville, vir twee jaar op Knysna gewoon. Tien jaar later het my ouers ’n huisie op Leisure Isle gekoop waar ons tot vandag toe nog heerlik as gesin kuier,” vertel hy.

Knysna is ’n plek waar hy onmiddellik ontspan.

“Sodra ek van Sedgefield se kant af ry en vir die eerste keer die Knysnastrandmeer sien waar ek jare gelede agter die oesterplate leer ski het, dan verby die Waterkant tot waar jy van die grootpad af regs draai op die sementpad Leisure Isle toe ...dis dán dat ek genoeg energie het om in my ouers se huis in te strompel en op die bruin bank neer te slaan.

“Daar’s altyd tyd vir ’n lekker vuurtjie in die braaikruiwa voor die huis.” Matthys klim minstens twee keer per dag in ’n boot en dink aan ’n verskoning om iewers heen te ry.

“Ek is mal daaroor om vriende al die hoeke en draaitjies te gaan wys. Aan die oorkant van die strandmeer waar die bote vasmeer, kyk ons seeperdjies en drink die plaaslike bier, Forresters. Daarna ry ons
na die Waterkant, klim met ’n leer aan wal en eet vis en tjips. Dan lê ’n lang skof voor onderdeur die treinbrug tot by die wit brug waar ons sommer die boot op die sand trek en ons weer verfris by die kuierplek Crabs Creek.”

Sommige aande trek die gesin hulle warm aan en gaan skep harders met ’n lig. “Ongelooflik hoe hulle op die oppervlak duidelik sigbaar is en nou en dan die boot rakelings mis met ’n duikslag.”

Matthys het al dikwels daarvan gedroom om sy hele klankateljee op te pak en ’n projek in Knysna te gaan opneem.

In Januarie het hy Afritalia saam met die Italiaanse sanger Cristian Mangano in Lommiswil in die Switserse Alpe opgeneem. Hulle het daar gewerk in klankateljees by ’n vriend se 300 jaar oue plaashuis, waar Matthys gereeld musiek opneem.

“Ek en die Colombiaanse sangeres Marta Gómez het ook die opnames vir Afri- Spaans 2 daar voltooi. Albei CD’s word vanjaar by die KKNK bekend gestel.

“Die Afri-Spaansverhoogproduksie begin ook by die KKNK en toer dan landwyd met Marta, Steve Hofmeyr, die kitaargroep CH2 en Anna Davel. Sandra Prinsloo doen die regie.”

Hoewel Matthys erken dat sy werk in die Alpe ’n groot voorreg is, besef hy altyd, wég van sy land, ook hoe mooi Suid-Afrika is.

’n Liedjie wat hy sterk met Knysna verbind, is Nat King Cole se “Unforgettable”. “My ouers het dié kasset altyd in die motor gespeel as ons daarheen gery het.”

SARIE is die hoofborg van die Afri-Spaans-verhoogstuk.

Kyk op bl. 81 van die April-uitgawe van SARIE, waar dit oral opgevoer word en hoe jy kan bespreek.

Lees ook die onderhoude met Steve Hofmeyr (bl. 36), Marta Gómez (bl. 42) en Sandra Prinsloo (bl. 160).
 

Verwante artikels

  • Afri-Spaans se KKNK-openingsaand 'n reuse sukses

    Afri-Spaans se KKNK-openingsaand 'n reuse sukses

    SARIE - April 2011 | Kommentaar: 1

    Gisteraand was die heel eerste vertoning van Afri-Spaans. En wat ’n vertoning was dit nie! Die sitplekke was heeltemal uitverkoop, en die kunstenaars was uitstekend.

  • Kyk wat doen SARIE by die KKNK

    Kyk wat doen SARIE by die KKNK

    SARIE - April 2011

    SARIE kuier dié week weer oudergewoonte op Oudtshoorn. Ons stalletjie by die KKNK het nou al ’n instelling en heerlike kuierplek geword.

  • Ontmoet Afri-Spaans se Marta Gómez

    Ontmoet Afri-Spaans se Marta Gómez

    SARIE - April 2011

    SARIE en Afri-Spaans se landwye toer begin eersdaags by die KKNK. Kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Sandra Prinsloo en Anna Davel is ook daarin te sien. Maar die groot ster is sonder twyfel, Marta Gómez.

  • SARIE se  Afri-Frans skop af by KKNK

    SARIE se Afri-Frans skop af by KKNK

    SARIE - April 2010

    Net ’n paar note van die Koos Kombuis-treffer “Lisa se klavier” in Frans – en dit was genoeg om SA musiekliefhebbers te oorrompel. Moenie dié produksie met Laurika Rauch, Mathys Roets, Myra Maud, Anna-Mart & Anna Davel misloop nie!

  • Steve: "Daardie duiweltjie in my kuiltjie"

    Steve: "Daardie duiweltjie in my kuiltjie"

    SARIE - April 2011 | Kommentaar: 10

    Hy's uitgesproke en omstrede, maar ook 'n kunstenaar wat mense bly verras. en nou sien ons Steve Hofmeyr in SARIE se Afri-Spaans én in 'n nuwe fliek.

  • VIDEO: Afri-Frans op All Access

    VIDEO: Afri-Frans op All Access

    SARIE - April 2010

    Woensdagaand 14 April 2010 het Afri-Frans 'n draai op Kwêla gemaak en vanaand (Vrydag 16 April) kuier Tammy-Anne Fortuin, aanbieder van die joernaalprogram All Access, saam met die Franse sanger Myra Maud op die klein dorpie Philadelphia.

Kommentaar

  • Goeinaand Matthys, Ek het vannaand op Kweal na jou en Mathys Roets gekyk. Daat is 'n vertoning Afritale wat jy in April in Pretoria gaan opvoer Kan jy asb laat weet waar bespreek ons, wil vertoning baie graag bywoon Groete Izak Badenhorst

    28ste Des. 2011, 21:50

Web Development by FormFunction