Kurt se nuwe deuntjie
Die sanger Kurt Darren gaan op Sondag, 12 Julie, sy spinternuwe radioprogram Jukebox op Radio Jacaranda aanbied. Hy bied Sondagaande dié gelyknamige program op kykNET aan en is báie opgewonde oor die nuwe uitdaging in sy lewe.
Hy het met Margeurite van Wyk gesels oor 'n rol in die sepie Binnelanders, 'n rolprent wat wink en sy gholf-voorgee ...
Hoe het dit gebeur dat jy Jukebox op Jacaranda Radio aanbied?
Hulle het my genader en ek is ongelooflik opgewonde. Ek kan nie verveeld by die huis rondsit nie en dis 'n groot uitdaging. Dis die grootste onafhanklike radiostasie in die land en hulle doen baie vir Afrikaanse musiek. In die drie uur wat ek dit elke Sondagmiddag (van 2 tot 5) gaan aanbied, gaan ek báie Afrikaanse musiek speel. Vyftien van die liedjies wat ek gaan speel, gaan ooreenstem met die musiek wat die aand op kykNET se Jukebox gespeel gaan word. Die laaste uur van die program gaan daar 'n gas wees. Nie noodwendig 'n musiekgas nie. My eerste gas is Ray Dylan.
Gee ons 'n voorsmakie van ander gaste . . .
Steve, Romanz, Ryk Neethling, Springbok-rugbyspelers, ag, daar is só baie!
Is daar lekker verrassings vir luisteraars?
Ja, dis lekker interaktief. Dit word uitgesaai vanuit 'n ateljee in Montecasino wat 'werk' soos 'n vistenk. Mense kan inkyk. Ek gaan nou en dan uitstap en vir mense vra of hulle boodskappe het wat ons moet uitsaai. Mense sal ook op Facebook en Twitter kan deelneem en die program gaan sy eie blog hê.
Hoe lank gaan die program op die lug wees?
Ons het 'n kontrak vir 'n jaar geteken.
Dis jou eerste keer op die radio, hoe voel jy?
Almal sê ek is mal. Maar dis my passie om alle vorms van vermaak uit te probeer. Wie weet, miskien wil ek eendag 'n vervaardiger van CD's word. Ek hou van nuwe dinge. Dis nie asof ek nié besig is nie, my musiek hou my baie besig. Dit gaan 'n groot aanpassing wees om net mens se stem te gebruik om mense te bereik, maar ek wil dit aanpak.
Dink jy dit gaan werk?
Ek dink Jacaranda is briljant. Die tyd van die middag wat die program uitgesaai word, is mense lekker rustig ná 'n braai. Óf mense ry terug ná 'n naweek weg en is in die regte bui om na lekker Afrikaanse musiek te luister.
Wat het jy als geleer by Jukebox op TV wat jy kan toepas in die radioprogram?
Wees net jouself. Ek het op TV altyd gesê ek gaan nie 'n akteur wees nie. Dit werk nogal. 'n Mens leer om normaal te praat soos op die telefoon, asof jy met jou beste vriend praat. Dít gaan my baie help op die radio.
Wat beteken dié skuif in jou loopbaan?
Ag, ek weet nie. Ek is baie besig met my CD's. Dit gee my net nóg 'n dimensie in my werk. 'n Ander kant van die besigheidswêreld wat ek leer verstaan. Ek is in die lekker posisie om te sien hoe als inmekaarskakel.
Sal jy daarvan hou om soos Oprah jou eie kletsprogam elke dag te hê?
Jukebox is bietjie van 'n chat show. Ons sal maar sien. Ek dink nie TV betaal so goed nie en ek dink nie ek sal my songs prysgee vir so iets nie. Daar is nog te veel musiek in my.
En sal jy nie graag in 'n sepie speel nie?
Net as 'n gasspeler. In Augustus speel ek twee weke lank as Kurt Darren in Binnelanders. Ek is te bekend (ek weet nie of dit bekend of berug is nie!) vir die skrywers om vir my 'n karakter te skep! Ek kyk wel na 'n rol in 'n fliek ... Daar is gróót beweging daar. Maar ek gaan niks uit die mou laat nie.
Jy het nou al so baie dinge uitprobeer. Wat volgende?
Ek vat die lewe soos dit kom. Elke ding wat ek aanpak, wil ek tops wees. Ek doen nie dinge halfhartig nie. En ek wil my gholfvoorgee verbeter. Ek speel al jare lank gholf, maar dit is moeilik as mens nie genoeg oefen nie. Op die oomblik is my voorgee vyftien. Teen die einde van die jaar hoop ek dit is minder as tien.
Verwante artikels
-
Dunay Nortjé - Kurt se verloofde
-
Kurt Darren - Ster sonder skandes
SARIE - Mei 2009 | Kommentaar: 3
Hy het van sy lang hare, oorbel en ’n paar ekstra kilo’s ontslae geraak en sy heupe gegooi – toe raak Kurt Darren só gewild dat vreemde vroue hul liefde bely. Boonop maak hy nooit moles nie.
-
Kurt en Laurika sing saam
SARIE - Junie 2009 | Kommentaar: 3
-
SHOUT SA - Danny K, Steve, Kurt, Karen Zoid en ander sing teen geweld
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 2
Ná die sinnelose dood van Lucky Dube het die SA musikante Danny K en Kabelo besluit tot hiertoe en nie verder nie en die SHOUT-projek begin. Talle bekende SA musikante is genader om die Tears for Fears-treffer Shout van die 80's op te neem.

















Kommentaar
Maureen Naudé het gesê:
Hi Kurt, ek wil graag vir jou vra my seun wil baie graag sing en stel belang in drama, hy doen op die oomblik Ballroom Dancing, maar wil baie graag sing. Hoe kan ek maak dat iemand na hom kan luister, ek is 'n enkelma en wil graag vir hom tevrede stel. Kan jy asseblief vir my help net om raad te gee. Ek woon in Ceres. Baie Dankie
29ste Jul. 2009, 15:46Hester het gesê:
Haai Kurt, jy is so 'n pragtige mens, en sing so mooi. Wil jy nie asseblief 'n verandering in jou haarstyl aanbring nie. Jy weet as 'n baba seuntjie klein is maak die ma altyd sy hare soos 'n koketiel met 'n krul in, waarom moet julle grootmanne deesdae sulke koketiel kywe dra. Jou hare was voorheen so mooi as dit plat op jou kop is, kyk maar na van jou ou fotos, Kom nou man, doen iets daaraan. Jy sing pragtig en bied Jukebox goed aan, Voorspoed wense vir jou
11de Jul. 2009, 13:31