Nuwe TV-reeks, Vloeksteen, CSI van die Weskus
Vloeksteen is die splinternuwe Afrikaanse dramareeks wat op Dinsdag 17 April 2012 om 20:30 op kykNET begin. Marius Weyers, Neels van Jaarsveld, André Jacobs, Dorette Potgieter, Erica Wessels en Oscar Peterson sorg vir naelbyt-aksie, en met regisseur Regardt van den Bergh aan die stuur van sake, blyk dié misdaadreeks 'n hoogtepunt op die kassie te wees.
SARIE was op 27 Maart by die bekendstelling van Vloeksteen. Die reeks is geïnspireer deur die ware ondervindings van Ludwig Oberholzer (‘n boer van Ficksburg wat aan die tweede reeks van kykNET se werklikheidsreeks Boer soek 'n vrou deelgeneem het), wat as geheime agent deel was van ‘Operasie Steenbras’.
Tydens dié hoogs geheime sending is voorkom dat sowat 1 177 ongeslypte diamante met ‘n straatwaarde van ongeveer R1 miljoen op die swartmark verhandel is.
Altesame 53 verdagtes is op aanklag van die onwettige handel in diamante in hegtenis geneem.
Die storie handel oor die lewens van ‘n sleutelgroep hoogs opgeleide geheime agente en hul hanteerders verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad. ‘n Groot deel van die reeks speel af in een van dié eenheid se takke op ‘n fiktiewe kusdorp êrens langs die Diamantkus van Suid-Afrika. Skote vir die reeks is op verskeie dorpe aan die kus geskiet vanaf Alexanderbaai tot in die Strand.
Die eerste seisoen bestaan uit 13 episodes wat elk 'n uur lank is. Dis geskryf deur Hein Eksteen.
Ontmoet die karakters
![]() |
Koert Adler (Marius Weyers) is ‘n welaf delwer, gemeenskap-steunpilaar en -leier. ‘n Gesiene burger, gesinsman, eggenoot en vader. Hy is ook die man wat Spook nader om die polisie van finansiering te voorsien vir ‘n nuwe agent. Koert is eintlik die "Godfather" van die plaaslike smokkelwêreld, maar is nie deur en deur ‘n skelm en ‘n smokkelaar nie. |
![]() |
Ayla Adler (Trudy Gunther) het aanvanklik niks met die familie se smokkelary te doen nie. Sy het egter ‘n donker geheim of twee wat sy tot elke prys probeer beskerm. |
![]() |
Bling (Oscar Peterson) is Jantjie Links se broer, en op die oog af is hy ‘n lieftallige en eerlike man – maar alles is nie altyd soos dit lyk nie. Bling is een van die Adlers se handlangers, en onder die lieftalligheid skuil ‘n koelbloedigheid wat glad nie met die blote oog bespeur kan word nie. |
![]() |
Elle Fourie (Erica Wessels) is Spook se assistent en mede-hanteerder van die geheime agente. Elle is veelsydig, pligsgetrou, doelgerig – en heimlik verlief op Spook, maar verdoesel haar emosies met die vaardigheid van ‘n geheime agent. Die grootste stres in Elle se lewe is om haar werk en emosionele lewe sorgvuldig van mekaar geskei te hou. |
![]() |
Jantjie Links (Marvin-Lee Beukes) werk as ontvangspersoon by Georganiseerde Misdaad se tak. Hy is ‘n saggeaarde en beleefde jong man. Vir Jantjie is sy werk as polisieman en sy sin vir reg en geregtigheid belangriker as enigiets anders. |
![]() |
Ludwig Swart/Donny Basson (Neels van Jaarsveld) Ludwig is 'n los kanon wat maar net nie by die reëls wil bly nie. In vergelyking met die res van die geheime agente is hy maar nog ‘n groentjie, maar hy maak hy op daarvoor met sy durf en gretigheid. Donny is ‘n rykmanskind wat sy geld in die Kaap verkwis en sy tannie, Ann-Marie, gaan hom help om sy lewe reg te ruk op die klein kusdorpie waarheen sy hom nooi. |
![]() |
Spook (André Jacobs) is die hanteerder verantwoordelik vir die geheime agente. Soos sy naam aandui, is Spook op die oog af iemand wat byna nie bestaan nie, maar onder daardie dekmantel skuil doelgerigtheid, staalhardheid en koelbloedigheid. Gewoonlik is ‘n hanteerder en sy mede-hanteerder slegs vir een agent op ‘n slag verantwoordelik, maar begrotingsbeperkings en die vloed van smokkelaars dwing hom om al drie die agente te hanteer. Spook lewe onder geweldige stres, en sy aandag is noodwendig verdeel. Hy is hardkoppig en in beheer – meeste van die tyd. |
![]() |
Sandra Cilliers (Dorette Potgieter) is ‘n ‘algemene agent’ wat ook as geheime agent werk. Sy is ‘n geskeide vrou, en ‘n ervare skubaduiker. Sandra kan met minimale vermomming die meeste mense om die bos lei, en is gereeld besig met haar eie ondersoeke wat niks met die agentskap uit te waai het nie. Sandra is ‘n diamantduiker, wat joviaal voorkom. Sy is ‘n uitstekende aktrise, en haar skoonheid moet dikwels ingespan word vir infiltrasie onder die meestal manlike smokkelaars. |
![]() |
Zander Loots/Kallie Gagiano (Albert Maritz) Zander het alles in sy lewe verloor omdat hy geen ander lewe ken, of wil ken, as dié van 'n geheime agent nie. Zander is ‘n manne-man: hard, sterk, troebel, al te veel kere deur die spreekwoordelike meul, sinies, en een wat nie maklik oorgee nie. Kallie is ‘n uitgeboerde Afrikaner wat spreekwoordelik op die verlate Namakwalandse kus uitgespoel het en nou ‘n bestaan maak uit die bymekaarmaak van skrootmetaal en enigiets anders waarop hy sy hande kan lê. Zander se teikengroep is die "klein smokkelaars" – in ‘n poging om by die groot kanonne uit te kom. |
Verwante artikels
-
'My man kan', 'n werklikheidsreeks vir paartjies
SARIE April 2012 | Kommentaar: 10
As jy nog altyd deel van ’n werklikheidsreeks op TV wou wees, is hierdie dalk net jou kans...
-
Akteur André Jacobs se grootste oomblik
Hy’t ’n ellelange CV. Baie daarvan internasionale flieks. En steeds vra mense: Jy was mos ’n akteur, wat doen jy nou? Maar ná sy rol as Spook in die kykNET- drama Vloeksteen gaan dit nie sommer weer gebeur nie. Hy verklap 'n paar dinge van homself wat jy nie geweet het nie . . .
-
Akteur Stian Bam word pa
SARIE Julie 2012
Akteur Stian Bam is in sy noppies oor sy grootste rol nog, dié van pa.
-
Al die Ghoema-musiekwenners 2012
SARIE Maart 2012 | Kommentaar: 1
Steve, Bobby, Karlien, Sarah - hulle was almal wenners by die eerste Ghoema-musiektoekennings wat gisteraand (11 Maart) by Carnival City in Johannesburg gehou is. Hierdie toekennings-geleentheid vereer Afrikaanse musiek
-
kykNET Fiestas - Oscars van Afrikaans
SARIE Januarie 2012
Nominasies vir die glansryke kykNET Fiestas – ‘n swierige toekenningsgeleentheid waar Afrikaans se talentvolste, opkomende en gevestigde kunstenaars vereer word - is onlangs aangekondig. Dit is "klop op die skouer vir Afrikaanse feeste en kunstenaars."
-
Oupa en Ouma nou op TV!
SARIE Maart 2012
Legendariese akteurspaar Johan en Lida Botha se gewilde Oupa en Ouma-verhoogproduksie, uit die pen van Leon Kruger, wys binnekort op kykNET































Kommentaar
Daleen Pienaar het gesê:
Vloeksteen was 'n uitstekende drama met uitstekende akteurs wat regtig hul karakters baie goed uitbeeld. Ons is dol daaroor.. Waaroor almal wonder is egter die volgende: WANNEER BEGIN DIE TWEEDE SEISOEN DAN????
30ste Okt. 2012, 17:19Andre het gesê:
Stunning show, and stunning showcase of local acting, writing and directing talent.
18de Mei. 2012, 20:39Dorette Potgieter het gesê:
Ons is sooooooo gelukkig! Dankie aan een en elk wat Vloeksteen kyk en so ons ondersteun!
17de Mei. 2012, 11:58Annatjie het gesê:
Ek sien nogal uit na die program. Julle sal maar die eerste episode by my moet kom kyk (honde kinders ingesluit, miskien maar vir Minkie by die huis los) :o) Bye, veilig huis toe ry julle !
10de Apr. 2012, 15:41Teresa het gesê:
Met sulke" ROOM van die OES" mis ek dit vir niks! WOW UITSTEKENDE BELOWENDE AKTEURS!!!
29ste Mar. 2012, 14:25