Ontbytsake maak 'n CD saam met bekendes
Aanbieders van die kykNET-oggendprogram, Ontbytsake, het hul rol as aanbieders eenkant toe geskuif om 'n album op te neem.
Jan Harm Schutte, Dawie Roodt, Ulla Pakendorf, Milan Murray en Carla van Niekerk het saam met verskeie sangers en selfs Blou Bulle-rugbykaptein en Springbok-slot, Victor Matfield, agter die mikrofoon ingeskuif vir 'n goeie doel.
"Ons het die album basies vir twee redes opgeneem. Buiten die feit dat dit lekker is, gaan dit ook vir 'n goeie doel", sê Schutte. 'n Gedeelte van die album, getiteld Ontbytsake & Vriende, se verkope gaan ter ondersteuning geskenk word aan die vakbond, Solidariteit, se Helpende Hand Fonds. Dié sytak van Solidariteit poog om "armoede te voorkom en maatskaplike nood te verlig" deur hoofsaaklik finansiële bydraes, maar ook deur fisies betrokke te raak by die projekte wat hul handhaaf.
Die vrystelling van die album is op 9 Junie vanjaar gehou by LemonJack Studios in Centurion, die plek waar die aanbieders en betrokke kunstenaars hul dae deurgebring het tydens die liedjie-opnames. Die vrystelling is bygewoon deur onder andere al die betrokke aanbieders en van die sangers wat aan dié projek deelgeneem het. Dr. Danie Langner, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, en Lindie van Eeden, voormalige Egoli-aktrise en huidige skakelbeampte vir die fonds, het as verteenwoordigers vir dié organisasie die geleentheid bygewoon.
Die funksie is ook bygewoon deur Mel Botes, wat 'n integrale rol in die maak van die CD gespeel het. Hy was verantwoordelik vir al die verwerkings van die liedjies op die album en het ook as musikale regisseur opgetree. Die liedjie op die album wat nuut geskryf is, Plekkie in die Son, is deur Botes spesiaal vir die Ontbytsake-span geskryf.
Luisteraars kan uitsien na verskeie Afrikaanse liedjies soos Skipskop, Tussen Treine, Waar is Jy? en Kring Om Die Maan. Een van die snitte is selfs 'n opera-medley met Roodt wat bietjie opera probeer. "Dit was my kortstondige opera-loopbaan," sê hy.
Kunstenaars op die album is Chris Chameleon, Richard van der Westhuizen, Coenie de Villiers, Jan Blohm, Klopjag, Lucas Maree, Kevin Leo, Manuel Escorcio, Karla du Plessis, Riku Lätti, Bacchus Nel en Veraz.
Verwante artikels
-
Barbara en Herman op Ontbytsake
SARIE - Mei 2010
SARIE KOS se Barbara Joubert en SARIE se Herman Lensing demonstreer die perfekte steak en tjips uit die nuwe SARIE KOS vir mans op Ontbytsake. Kyk die insetsel hier.
-
Die boek wat my verander het - Ontbytsake-aanbieder, Carla van Niekerk
SARIE Maart 2010
-
Irene van Wyk se laaste CD: Hoe dit haar dogter laat voel
SARIE - Februarie 2010 | Kommentaar: 1
-
Mathys Roets se CD saam met SARIE
SARIE - Februarie 2010 | Kommentaar: 1
Die CD bestaan uit Afrikaanse én Engelse liedjies. Mathys het reeds verlede jaar sy verhoogoptredes aangepas en dit na Droomvrouens herdoop.
-
Veelsydige Milan Murray: aktrise, sangeres, skrywer. Wat volgende?
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Sy kan nie nét toneelspeel nie. Haar nuutste skepping is sowaar `n boek wat later vanjaar uitgegee word! Koemelaat (dis haar tweejarige seun se woord vir `n skoenlapper!).
















Kommentaar
Ronél Spangenberg het gesê:
Waar kan ek die Ontbytsake CD (1) bekom?
6de Feb. 2012, 15:47Brenda het gesê:
WAAR KAN EK DIE ONTBYTSAKE CD BEKOM / KOOP???? DRIGEND VIR KERSFEES.
12de Des. 2010, 21:11