FOTO verskaf

FOTO verskaf

Bekendes

Jack Parow verruil pet vir valhelm

Gelukkig vir sy bewonderaars gaan Jack Parow darem nie ontslae raak van sy lang pet nie. Hy dra die motorfietsvalhelm net vir sy nuwe televisiereeks.

Hy sal eersdaags saam met sy vriend Hardus van Deventer op die kassie wees in Dis hoe ons rol wat van 1 Julie op kykNET uitgesaai word.
Oor die nuwe reeks sê Parow:

“Ek is baie trots op die show. Dis lekker om mense te wys Suid-Afrika is eintlik cool.

“Ons gaan deur ’n moeilike tyd in die land, met die politiek en die ekonomie. Dit sit swaar op ons hart. Dis soms moeilik om aan te hou veg vir die land, maar ná ek al die mense ontmoet het in die show, is ek van vooraf trots op Suid-Afrika en wil ek nou weer harder veg vir ons land. Jy weet mos ons Suid-Afrikaners is ’n spesie van ons eie.”

Hy en Hardus het vir 30 dae met motorfietse deur die nege provinsies van Suid-Afrika gereis om die program te maak. Hulle het interessante mense besoek, onderhoude gedoen, en in die aande moes Parow weer die lang pet opsit en konsert hou.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Dis hoe ons rol is nie ’n tradisionele reisprogram nie, verduidelik Zander Tyler (Parow se geboortenaam). Toe hy en Hardus begin praat het “oor die idee om dalk ’n show aanmekaar te sit … het ons besluit om in die middel te ontmoet en al die idees saam te gooi in een show, ’n reis/realiteitsreeks/onderhoude/kos/braai/bars/bikes/alles”, verduidelik hy.

“Ek en Hardus ken mekaar van ná skool af. Hy kom van Pretoria af en ons het ontmoet deur vriende van vriende. Ek kan nie regtig my vinger daarop lê van presies van waar en hoe ons ontmoet het nie. Maar ons is al 14 jaar vriende. Ek vergeet soms hoe lank ek uit die skool is.”

Nie hy of Hardus is regtig ou gesoute bikers nie. Hy het op skool ’n poegie gery en toe hy klaar is met skool moes hy besluit of hy ’n motorfiets of ’n goedkoop kar gaan koop. Die kar het gewen. “Toe het ek nie regtig weer motorfiets gery nie, maar ek het sowat ’n jaar en ’n half gelede vir my ’n Harley gekoop. Die gogga het toe weer gebyt. Mens vergeet hoe lekker dit is om motorfiets te ry. Dit laat jou weer soos ’n kind voel. Dis fun en free. Toe ek eers weer opgeklim het, wou ek nie weer afklim nie”, lag hy. Maar hy moet toegee dat hy weer motorfietsfiks moes word, want hulle was lang ure per dag op die pad.

Hy verduidelik dat die program in twee dele geskiet is. Die eerste been van die reis was van Kaapstad na Durban. “Maar ek moes van Durban af terugvlieg Kaap toe, sodat ek Holland toe kon vlieg vir ’n konserttoer daar. Die optredes was bespreek lank voor ons met die TV-program begin het. Dit sou beter gewees het as ons die program aaneen kon maak. Toe ek teruggekom het uit Holland, moes ek van Kaapstad af Durban toe vlieg. Toe is ons weer op die fietse, deur die res van land, Mpumalanga, Noord-Kaap, Vrystaat en so. Dit was hectic. Die kykers moet asseblief besef ek het nie een of ander slaaplose regime aangevat nie. Soos die reeks aangegaan het, het die kringe onder my oë net swarter en groter geword. Dit was so hectic dat ek dink ek moet self die show kyk om alles weer te ervaar.”

Op die vraag wat vir hom die interessantse ervaring was, antwoord hy: “Beslis bungee- jump. Ek het erge hoogtevrees en ek moes van die Bloukransbrug af bungee. Dis die hoogste brug-jump in die wêreld. Maar die ander ding wat regtig great was, is die mense wat ons geinterview het. Hulle was off the beaten track. Daar’s hierdie een ou, hy is ’n melkboer en ’n surfboard shaper. Dit wys mens hoe cool die nuwe generasie is. Ons was by ’n ander ou in Morgan Bay. Hy het 650 bikes, een van die grootste persoonlike versamelings. Dis in die middel van nêrens en hy het ’n vliegtuig wat deur die Rolling Stones en David Bowie gebruik is. Toe hy dit gekoop het, toe vlieg hy tot in PE en hy mag  nie verder vlieg nie. Toe tou hy dit al die pad Morgan Bay toe.”

Hy en Hardus kon met mekaar praat terwyl hulle gery het, want hul valhelms was toegerus met klanktegnologie. Ná die trippie is hul vriendskap nog sterker, sluit hy af. “Al het ons mekaar so nou en dan gebyt. Dan het ons maar bietjie gestop en net so effe gechill.”

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Dis hoe ons rol, die nuwe reeks met Zander Tyler, oftewel Jack Parow, en sy avontuurlustige vriend Hardus van Deventer, word vanaf 1 Julie op Vrydae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.