Jennifer Aniston LEES NOU ONE USE
Bekendes

Jennifer Aniston groet vervreemde ma voor haar dood

Jy kan maar net met empatie wonder wat in Hollywood-ster Jennifer Aniston se kop aangaan ná haar ma se dood verlede Donderdag. Hartseer, selfverwyt, dalk net ’n groot leemte, ’n niks?

Of dankbaarheid dat sy haar twee weke voor haar dood die eerste keer in sowat vyf jaar besoek het? Dat sy kon groet? Beroerte het haar ma se vermoë om te loop en praat aangetas.

FOTO: Instagram  @mrchrismcmillan

FOTO: Instagram @mrchrismcmillan

Nancy Dow, aktrise en model, is op 79 na ’n lang siekte oorlede. Tussen haar en haar beroemde dogter was daar meer as ’n dekade ’n stilte, kilte. Sy was glo nie verlede jaar by die Hollywood-ster se troue met die akteur Justin Theroux nie. Nes met Jen en Brad Pitt s’n sestien jaar gelede.

FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Jen en Nancy se verhouding was altyd moeilik. “Sy was krities, baie krities teenoor my. As model was sy pragtig, verruklik. Ek was nie, nog nooit nie. Ek het eerlikwaar nooit so aan myself gedink nie,” het sy verlede jaar aan The Hollywood Reporter vertel. “Sy het ook nie maklik vergewe nie, wrokke gekoester wat vir my kleinlik was.”

Nancy se onthullende memoires, From Mother and Daughter to Friends (Prometheus Books, 1999), was skynbaar die laaste strooi. Dit was juis toe Friends-koors, waarin Jen naam gemaak het, hoog loop. En Jen en Brad die wêreld se gunsteling-glinster-paartjie was.

Maar sy is nie al Hollywood-ster met ‘n moeilike ma-dogter-verhouding nie.

Brooke Shield se alkoholis-ma het haar op 11 maande modelwerk laat doen. En op twaalf die rol van ’n prostituut laat speel. Brooke het die dominerende Teri in 1995 as haar sakebestuurder die trekpas gegee. Verbasende genoeg is die Pretty Baby-ster se voete vandag oënskynlik stewig op die grond.

Maria Callas se verhouding met haar ma, Litza Kalogeropoulos, was vol tweespalt. Dit het die primadonna van die operawêreld haar lewe lank gegrief dat Litza haar ouer suster, Jackie, voorgetrek het.

Ma-en-dogter – waarskynlik die mees passievolle en betekenisvolle band in ’n vrou se lewe. Dit beïnvloed jou op maniere wat jy nie eens besef nie. Al is julle komplekse en uiteenlopende inidvidue, kan julle beste vriende wees. Of dit kan ’n skaduwee skep wat jou lewenslank agtervolg.

Só sterk is dit dat dit alles in jou lewe beïnvloed – van jou gesondheid en selfwaarde tot al jou ander verhoudinge, sê dr. Christiane Northrup, skrywer van Mother-Daughter Wisdom (Hay House, 2006). “Dis die sterkste band in die wêreld, in lief en leed. Die stelinkleding vir al jou verhoudinge.”

En: “Ons neem op ’n sellulêre vlak in hoe ons ma voel oor vrouwees. Wat sy van haar liggaam dink, na haar gesondheid kyk en glo moontlik is in die lewe.”

Goed om te hoor is dat die ma-dogter-verhouding vir die meeste van ons uiteindelik vervullend is. Ten spyte van konflikte en kompleksiteite, reken 80-90% van vroue in hul middeljare tog dit is/was goed, volgens Amerikaanse navorsing.

En as dit nie is nie? Die manier hoe jy jou emosies oor die negatiewe verhouding met jou ma hanteer, is baie belangrik, sê James de Villiers, sielkundige van Kaapstad. As jy nie jou pyn daaroor positief verwerk nie, loop jy gevaar om dieselfde tipe verhouding met jou eie kinders te herhaal. Verwerk jy dit wel goed, sal jy potensiële konflik en verskille in jou verhouding met jou lewensmaat en kinders met groter begrip en empatie benader. Navorsing het bewys jou sosiale verhoudinge, veral intieme verhoudinge, word hoofsaaklik bepaal deur die manier waarop jou ouers hul emosies hanteer het, sê hy.

Lees nou

Miljoene vir dié babafoto’s

Madonna maak mode-opslae