FOTO: Verskaf deur kykNET Silwerskermfees

FOTO: Verskaf deur kykNET Silwerskermfees

kykNET Silwerskermfees

Silwerskermfees: Milan Murray gesels oor ‘van lyn af’

Milan Murray gesels oor sosiale media en haar regisseursdrome. 

van lyn af is een van die kortfilms wat by vanjaar se kykNET Silwerskermfees te sien is. Ciska se toewyding aan haar aanlyn-lewe kry haar man, Du Preez, onder. Hy voel’n mens leef jou herinneringe, jy neem hulle nie die heeltyd af nie. Ciska is verslaaf aan die drama van haar aanlyn-familie en merk skaars op dat haar man vereensaam.

Dan is daar Ciska se sussie, Janie. ’n Onopgesmukte, interessante vrou wat gehoop het sy kan ‘n maat deur sosiale media vind. Sy loop haar egter keer op keer in verdagte karakters vas. Sosiale media infiltreer op een of ander wyse die drie se lewe, of hulle daarvoor gevra het of nie, en hoe harder hulle soek, hoe minder vind hulle.

Die draaiboek is deur Karen van der Merwe en die regisseur is AJ van der Merwe. Die rol van Ciska word vertolk deur Milan Murray, Stian Bam is Du Preez en Martlize Kolver is Janie.

Milan Murray het ’n paar vrae oor die kortfilm en die filmfees beantwoord

van lyn af is ’n interessnte tema oor ‘n vrou wat aan sosiale media verslaaf is. Dink jy mense gaan met ander oë na sosiale media kyk as hulle die film gesien het?

Die film kommunikeer nie ’n nuwe waarheid nie, maar laat jou dalk net regop sit oor dit wat jy reeds weet. Mense sal nie noodwendig nuut na sosiale media kyk nie – ons almal weet mos hoe dit alledaagse kommunikasie beïnvloed – maar dalk kyk jy nuut na jouself en jou eie gebruik van sosiale media.

Kyk na die lokprent van dié kortfilm hier:


Wat beteken die kykNET Silwerskermfees vir mense in die filmbedryf?

Dit beteken werk! Maar dit gee ook ’n platform vir ons om te eksperimenteer. Daardie paar duisend rand se befondsing help dat jy daadwerklik jou voet by die deur uitsit of voor jou rekenaar inskuif en daai teks skryf of jou hand aan regie waag. Finansies kan enige kreatiewe siel lamlê. Daardie finansiële hupstoot gee jou die moed om te begin.

Waarna sien jy die meeste uit by die fees?

Ek hou die meeste van die besprekings. Onderwerpe soos spelleiding, teksredigering en ontwerp in film word deur ’n paneel kenners bespreek en my hand is gewoonlik eerste op wanneer daar ‘n geleentheid vir vrae is. Dis die ideale plek om te leer en idees te kry. Die kuier met ou bekendes is natuurlik ook heerlik.

Het jy drome om self regisseur te wees?

Ek doen volgende maand die regie van my eerste kortfilm. Kaapland Films het my genader om ’n Engelse kortfilm vir internasionale feeste te skryf en te regisseer. Ons mik om betyds vir volgende jaar se Sundance-filmfees in Amerika te wees.

Wat is die belangrikste ding vir feesgangers van die kykNET Silwerskermfees om te weet?

Die kortfilms toets verskillende genres. As jy verwag om ’n tipiese, veilige, goed-voel fliek te sien, gaan jy soms teleurgesteld wees. Daar is rillers, fantasie, drama en baie eksperimentele films.

Kom met ’n oop gemoed en laat Suid-Afrika se talent jou verras met hoe internasionaal kompeterend en gevorderd ons filmbedryf kan wees.

Van-Lyn-Af-Poster

*Die kykNET Silwerskermfees is van 26 tot 29 Augustus en word by The Bay Hotel in Kampsbaai gehou. Kaartjies is by www.ticketpro.co.za beskikbaar.

Hou SARIE.com en ons sosiale media-blaaie in dié tyd dop vir al die agter-die-skerms-aksie.

Dié onderhoud is deur die kykNET Silwerskermfees gevoer.

Lees ook