a
kykNET Silwerskermfees

Vryslag – kykNET Silwerskermfees 2015

Marcel van Heerden se debuut-radiodrama Vryslag het in 2013 RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie gewen. Onder spelleiding van Leon van Nierop en met Marcel in die hoofrol, is dit deur RSG vervaardig en uitgesaai. Die radioteks is nou in ’n draaiboek vir ’n Silwerskermfees-kortfliek omskep.

Vryslag vertel die verhaal van Francois van Niekerk, ’n bekende akteur. Oral waar hy gaan word hy herken en bewonder, maar as enkelouer en enigste broodwinner omseil hy net-net die daaglikse onkostes. Wanneer sy seun, Markus (12), se privaatskool aandring op betaling van lank agterstallige skoolfooie, word Francois in ’n oënskynlik onoorkombare krisis gedompel.

Die landskap is Johannesburg – ’n stad van dramatiese donderstorms en goue lig; ’n stad van tydelikheid, waar mense gewoonlik kom om iets te bereik en dan weer aanbeweeg.

Vryslag is ’n spel binne die spel en ’n soort spanningsverhaal. Dit ontgin temas van verpligting en liefde, van roem en vervreemding, werklikheid en skyn.

Regisseur en draaiboek: Marcel van Heerden
Vervaardigers: Cati Weinek, Dumi Gumbi en Pieter Grobbelaar
Met Gerard Rudolf as Francois

Lees meer oor die kykNET Silwerskermfees HIER.