sr1104nataniel-533x800
Bekendes

Nataniël weer ‘piekfyn’ ná rooftog

Sanger, liedjieskrywer en SARIE-rubriekskrywer Nataniël is die naweek meer R100 000 se skade berokken toe ’n groep mans hom beroof het.

Nataniël het drie weke gelede ’n sinusinfeksie opgedoen wat gelei het tot bronchitis en middeloorontsteking. Ná vier suksesvolle vertonings verlede week kon hy skaars praat en het toe die hele dag in die bed gebly om te probeer gesond word vir Saterdagaand se vertoning.

Die vertoning sou by  D’Aria in Durbanville plaasvind, berig Netwerk24.

“Ek het eers gedink dit is die skoonmakers wat nuwe handdoeke bring, maar die stemme het meer geword,” skryf hy op sy Facebook-blad oor die gebeure.

Sy kamerdeur is oopgeruk en dadelik weer toegeklap toe hulle hom daar sien lê. “Ek het gemaak asof ek slaap, want ek was bang hulle het vuurwapens.”

Ná ’n rumoer buite die kamer is sy deur weer oopgemaak en sy sak en selfoon gegryp.

Nataniël skryf hulle het uitgehardloop en hy het opgespring. Toe hy buite kom, was hy net betyds om te sien hoe hulle in ’n wit bakkie wegry.

Terug in sy kamer het hy agtergekom vier ontwerpersbaadjies, twee leersakke, skoene, grimering, mikrofone en R40 000 kontant is onder meer gesteel.

Nadat die polisie ontbied is, het Nataniël glo al hoe sieker begin voel. Hy het besef dit is die medikasie en het weer gaan slaap.

Twee uur voor sy vertoning is Nataniël hospitaal toe omdat hy baie siek gevoel het. Volgens die dokter was dit weens ’n kombinasie van uitputting, skok en gebrek aan slaap.

As gevolg hiervan het hy die vertoning by D’Aria misgeloop, waar meer as 405 mense vir hom gewag het. Volgens Trudie Pienaar van D’Aria het net een persoon sy geld teruggeëis, berig Netwerk24.

“Ek bedank almal wat begrip vir alles gehad het,” sê Nataniël.

Volgens polisiewoordvoerder konst. Noloyiso Rwexana word ’n saak van roof en diefstal ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie, berig Netwerk24.

Nataniël sê hy is “terug in Pretoria en piekfyn”. Hy stel op Facebook Saterdagaand se gehoor gerus dat die vertoning herskeduleer sal word.

“Niks op aarde gaan in die pad kom van ’n konsert nie!”


BRON: Netwerk24