Jason Jacobs

Jason Jacobs

Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor Jason Jacobs

Ons is om baie redes opgewonde oor 2017 en nie nét oor 2016 verby is nie. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot musikante – wat ons opgewonde maak oor die jaar. Hierdie mense is die voorlopers, innoveerders en kreatiewes en maak ons trots oor wat in ons land aan die gebeur is.

Vandag vertel ons jou meer van Jason Jacobs, akteur, skrywer en teatermaker. As jy hom nog nie ken nie, is dit ons voorreg om jou aan Jason bekend te stel. Ons is opgewonde oor sy projekte en sy naam is saam met al ons vorige name op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

Afrikaans is in sy grein – dit is liefde, haat, vriende en familie, dit is tee, skinder en hare op stoepe vleg. Afrikaans is onthou. Afrikaans is die ou stemme wat hom laat dink en dinge in die nag besoek. Dit is God se asem in sy oor. Hy baklei met Afrikaans, want hy moet homself soms daarmee kaal uittrek. Dieper kyk. Dis scary, maar ná elke gedig of monoloog of net klomp sêgoed in sy hartstaal voel hy weer heel.

Aan die woord is die veelbekroonde skrywer, akteur en teatermaker Jason Jacobs, 2016 se wenner van die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys vir sy bydrae tot toneel- en skryfwerk. Hy is ook kreatiewe hoof van die onafhanklike toneelproduksiehuis KleiSand en hooffasiliteerder vir die Mothertongue Project se Jeugteater-geselskap op McGregor waar produksies vir kinders tussen 2 en 7 en selfs babas geskep word.

“Skryf is vir my belangrik. Ek werk aan twee nuwe dramas – Duskant die lig en Die grondgrawers – dit kom mooi aan  en ek beoog om my digbundel teen die einde van die jaar klaar te skryf.’’

Jason sit voorts nie stil by vanjaar se KKNK nie. In wag van, Kalahari Swaan en Stof Rooi – drie van sy produksies – is daar te sien. In wag van is ook by die Woordfees.

Hy put baie inspirasie uit sy grootwordjare daar in Kharkams, naby Vredendal. Pa Anthony is ’n krag in sy lewe. “Hy skryf en sing soos ’n droom. Ek hou van woorde van my kindertyd, dis ’n konneksie met ‘huis’, ’n onthou van waar ek kom, die mense wat my steeds ondersteun. Die Afrikaans van my huis is ook lekker snaaks en laat my soms lag in tye wanneer ek bietjie down voel.”

jason jacobs

FOTO Verskaf

Daar is nog baie werk om teater in Suid-Afrika uit te bou, reken hy. “Baie Suid-Afrikaners ken mekaar nog nie as mense nie. Ons vrees verandering en vind dit moeilik om ander se kulture, waardes en identiteite te aanvaar, te verstaan. Ons land bloei nog steeds. Daar is so baie stories om te vertel, maar min geld en geleenthede.

“Daar is wel iets exciting wat met die nuwe stemme gebeur. Jong Suid-Afrikaners in die teaterbedryf verstaan die rol en verantwoordelikheid wat ons het om die komplekse misverstand van self en ander aan te spreek. Ek sluit nie ons legendes, die ouer generasie uit nie, maar die nuwe stemme maak my opgewonde. Dit beteken teater het steeds ’n plekkie. Ons moet nie bang wees om ervare mense te nader om mentorskap nie. Daar is soveel rykdom en geskiedenis in die lived experience. Dit is ook belangrik om kinderteater ernstig op te neem, daar is hopeloos te min produksies vir die kleintjies.”

Ja, hy sal vir seker oorsee wil werk. Ek is game vir nuwe ervaring en geleenthede om werk te skep met ander kulture, om ander mense te leer ken.”

Jason ontspan darem ook soms. Vir kalmte en inspirasie lees hy klassieke dramas en kortverhale. “En as jy kom kuier, sal jy my altyd kry met ’n koppie tee en blokkiesraaisels op my skoot. Dis lekker.”

Lees nou

Roelof Temmingh

Refentse Morake

Irma Venter

Dean Smith