wessel pretorius
Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor Wessel Pretorius

Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

As jy hom nog nie ken nie, is dit ons voorreg om jou aan Wessel Pretorius bekend te stel. Ons is opgewonde oor sy projekte en sy naam is saam met al ons vorige name op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

wessel pretorius

FOTO Eksteen Jacobsz

Sy solostuk Die ontelbare 48, wat verlede jaar in onder meer die Baxter in Kaapstad op die planke was, bly bekoor, en is net nog ’n rede waarom die 30-jarige boorling van Nelspruit een van Suid-Afrika se sterkste jong teaterstemme is.

Sy pad het ook al wye paaie internasionaal geloop. Nadat hy in 2014 by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad met die gesogte Standard Bank Ovation-toekenning (goud) bekroon is vir sy Undone, die Engelse vertaling van sy eenmanstuk Ont, is hy na die Afrovibes-fees in Nederland en van daar na die Wiener Festwochen in Wene, Oostenryk. In 2014 is hy ook na die toonaangewende Edinburgh Festival Fringe in Skotland.

Tans is Wessel nog tot 25 Februarie in Geoffrey Hyland se Shakespeare-produksie Twelfth Night in die Maynardville-opelugteater in Kaapstad te sien.

Die ontelbare 48 speel af op ’n Laeveldse dorp waar 48 inwoners byeenkom om na die rolprent The Sound of Music te kyk. Een van hulle is ’n moordenaar met ’n sluwe plan. Die stuk is meesterlik aanmekaar gesit met Wessel wat ook self daarin speel. Op 5, 6 en 8 Maart gaan dit Woordfees toe en daarna na die KKNK (8, 9, 11, 12 en 13 April).

“Ek debuteer ook by die KKNK met die verlengde Uitkampteaterstuk Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie saam met David Viviers. David is by die Fiëstas benoem as beste opkomende kunstenaar vir sy werk in dié oorspronklike 20 minuut lange produksie.’’

Nog is het einde niet – op dieselfde fees (8 tot 15 April) speel hy in die Afrikaanse vertaling van Roland Schimmelpfennig se komedie Die koninkryk van die diere. Groot name in die Afrikaanse teaterwêreld soos Dawid Minnaar, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Joanie Combrink en Ludwig Binge speel saam met hom, met die legendariese Marthinus Basson wat die regie behartig.

Wessel is deeglik geskool in die teater: voorgraads aan die Universiteit van Pretoria met daarna ’n honneurs aan die Universiteit Stellenbosch. Toe is daar geen keer aan hom nie. Hoogtepunte sluit in ’n rol in Christiaan Olwagen se Woza Andries!?, sy Ont, wat die pryse laat instroom het (vier Fiëstas, die Aardklop-toekenning vir die beste toneelspel deur ’n akteur, en ’n Woordfees-trofee vir die beste dramaproduksie), ’n rol in Saartjie Botha se veelbekroonde Balbesit … die lys is so lank, dit maak jou skoon uitasem.

Hy is mal oor Afrikaans. “Koester en karringmelk is twee van my gunsteling-woorde. Eersgenoemde, want ons doen dit nie genoeg nie en dit impliseer liefde en veiligheid. En karringmelk roep beelde op van my ma, my ouerhuis se kombuis. Die nat deug van ’n lepel aflek, van snoesigheid op.’’

Lees nou

Dean Smith

Irma Venter

Jason Jacobs

Lynelle Kenned