Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor … Appel

Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers en musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

As jy hom nog nie ken nie, is dit ons voorreg om jou aan Christoph Kotzé, beter bekend as Appel, voor te stel. Ons is opgewonde oor sy splinternuwe album en sy naam is saam met al ons vorige name op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

Wie is Appel?

Appel het naam gemaak as liedjieskrywer vir plaaslike kunstenaars soos Jan Blohm, Theuns Jordaan en Karlien van Jaarsveld. Hy vertel dat hy sy passie vir musiek en lirieke al op hoërskool ontdek het. “Ek was in standerd ses en het eendag ’n matrikulant hoor kitaar speel. Ek het dadelik gevoel daar móét lirieke by die kitaarspel wees. Van toe af het ek begin kitaar speel en liedjies skryf.”

Wat hou 2017 in?

Vanjaar bring Appel die eerste keer sy eie album, Lei my na die water, uit. “Ek het gevoel ek het my eie storie om te vertel en is baie opgewonde om dié album en my musiek daar uit te kry.”

Wat is die inspirasie agter die album?

Appel vertel die inspirasie agter Lei my na die water is grootliks sy vrou, Sally-Ann, en hul dogter, Luna-Bella. “So twee jaar gelede het ek ’n breinabses ontwikkel. Ek was vir drie maande in die hospitaal en moes verskeie hoërisiko-operasies ondergaan. In daai tyd was Sally-Ann elke dag langs my sy. Danksy haar ondersteuning het ek waarlik besef wat ’n vrou vir ’n man kan beteken, soveel meer as enige aardse dinge, en dis ook die boodskap agter die titelsnit op die album.”

I love living with Muso’s #hesteachingherwell #piano #daddysgirl #musicfordays #ilovethem A post shared by Sally-Ann Kotzé (@sallyannkotze) on

Waarmee is jy nou besig?

Drie liedjies op dié kontemporêre popalbum is reeds bekend gestel: die titelsnit, “Lei my na die water”, asook “Kom en lê my neer” en “Vroumens”. “Ons is nou besig om die musiekvideo’s vir die liedjies te skiet. Die video’s gaan op mekaar volg en amper soos ’n kortfilm afspeel.”

Vanwaar die naam “Appel”?

“Dis ’n bynaam wat ek reeds op skool gekry het. Sedertdien noem al my vriende en familie my Appel. Ek stel myself selfs voor as Appel en nie as Christoph nie. Vandag is die naam so deel van wie ek is dat ek dit ook as my stage-naam wou hou.”

En jou gunsteling- Afrikaanse liedjie?

“Daar’s baie, maar ek sal sê dis “Breyten se brief” van Jan Blohm. Elke keer as ek die liedjie hoor, voel ek elke emosie in die lirieke.”

Gaan luister na Appel se liedjies “Lei my na die water”, “Kom en lê my neer” en “Vroumens” wat tans op iTunes beskikbaar is. Die volledige album word op 6 Mei vrygestel.

Dié Suid-Afrikaners is ons ook opgewonde oor …

Irma Venter

Refentse Morake