Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor Germandt Geldenhuys

Die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante – en wat hulle vanjaar doen maak ons opgewonde oor 2017. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

Jy ken hulle dalk alreeds, maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie opkomende sterre bekend te stel. Vandag is ons opgewonde oor die Germandt Geldenhuys!

Dié 27-jarige akteur het sy eerste verskyning op die kassie in die sepie Binnelanders gemaak en sedertdien het hy nog nie teruggekyk nie.

Ná sy studie aan die Waterfront Theatre School in Kaapstad het hy sy merk in drie musiekblyspele – Sneeuwitjie, Sister-Act en Sweeny Todd – gemaak. Maar sy loopbaan as sanger is vir hom net so belangrik soos akteur-wees. “Ek het twee talente by God gekry en kan nie die een hoër ag as die ander nie. Die een kry dalk net meer aandag, want hy betaal die rekeninge so hy lyk belangriker, maar eintlik is hy nie.”

Wat doen jy?

Ek vertel stories vir ’n lewe. Deur dié stories vermaak ek mense en dra ek lewenslesse oor, ek glo ook ek verryk lewens op hierdie manier.

germandt binnelanders

FOTO Verskaf

Waaroor is jy in 2017 opgewonde?

Ek het in Desember 2016 in my eerste fliekrol gespeel (die rolprent word in 2017 vrygestel). Ek gaan ook ’n eenmanvertoning in die teater opvoer waaroor ek baie opgewonde is. Die lewe het my ’n bietjie ingesluk in die verlede en ek het nou besluit om meer tyd vir myself en my gesondheid te maak. Ek het weer voltyds begin gim en volg nou ’n eetprogram. 2017 gaan ’n jaar van gesondheid wees. Ek behoort vir ten minste nog ’n jaar in Binnelanders te wees. So my karakter gaan nog baie uitbrei en ek begin nou die medium van TV lekker verstaan.

Wie is jou rolmodel?

In die bedryf is my rolmodel beslis Hugh Jackman. Hy het my dream job – hy doen films, TV-reekse en musiekblyspele. In die daaglikse lewe is dit my ma; ons het nog altyd ’n baie goeie verhouding gehad. Sy is die belangrikste mens in my lewe en ons praat ten minste een maal per dag met mekaar.

Wat is jou gunsteling-kleur?

Oranje, nog my hele lewe lank. Dis seker omdat ek in die “Oranje-Vrystaat” tussen al die Cheetah-ondersteuners grootgeword het.

Ons sien ook uit na hierdie Suid-Afrikaners se 2017:

De Klerk Oelofse

Regardt Scheepers

Lynelle Kenned

Refentse Morake