Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor … Lynelle Kenned!

Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Waaroor ons die meeste opgewonde is, is wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante – vanjaar alles doen. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

Is sy die volgende Maria Callas? Talentvol, beeldskoon en elegant. Met ’n suiwersoet stem bekoor die operasangeres Lynelle Kenned gehore dwarsdeur die land. Maar haar talente ken geen einde nie. Op TV vermaak sy sedert 2012 kykers as aanbieder op die SABC2-leefstylprogram Pasella. En by die Nelson Mandela-teater in Johannesburg vertolk sy tans die hoofrol van Maria in die musiekblyspel West Side Story waarvoor sy verlede jaar ’n Fleur du Cap-toekenning gekry het. Lynelle maak ons opgewonde oor die kunste en een ding is seker: Dié kunstenaar gaan nog jare op die voorgrond wees.

Wat maak jou opgewonde oor 2017? 

2017 gaan die beste jaar nog wees! Wat produksies betref, is ek tans besig met West Side Story in Johannesburg en daarna volg Heidi by die Woordfees, waar ek ook gaan optree saam met Koos Kombuis, Amanda Strydom en Brandon October. Dan in Augustus word een van my drome bewaarheid wanneer ek die hoofrol vertolk in die wêreldpremière van ’n nuwe musiekblyspel, Calling Me Home – ’n saamspanpoging tussen Shy Music en Sony Music Publishing.

Ek en my vriendinne beplan ook ’n roadtrip Mosambiek toe in Maart omdat dit my eerste ruskans in ses maande sal wees. Sound of Music het my verlede jaar van Oktober tot einde Desember besig gehou. Tussendeur is dit TV-werk, seremonies, corporate gigs, motiveringspraatjies.

Ek werk ook al ’n hele ruk aan my fiksheid en gesondheid en wil vanjaar my eerste halfmarathon aandurf en dansklasse begin neem.

lynelle

FOTO Jesse Kramer

Watter lewensles wat jy geleer het, koester jy veral? En hoekom.

Commit to the work, not the result, and the right opportunities will present themselves at the right time. Baiekeer beperk ’n mens jouself omdat jy met oogklappe aan werk vir ’n doelwit, en dan gebeur dit nie, en sit jy met teleurstelling. As selfontwikkeling die fokus is, groei jou potensiaal saam met jou nuwe eienskappe, en behaal jy selfs meer as wat jy ooit kon droom.

Wees altyd dankbaar, en werk jou gat af!

Watter kunstenaar(s) inspireer jou? 

Ek het die grootste talent crush op Tinarie van Wyk-Loots. Ek wil alles kyk waarin sy optree. Haar werketiek en talent is ongeëwenaar, en boonop is sy net so ’n stunning plat-op-die-aarde mens. Haar mooi straal van binne af buitentoe.

Lees nou

Ons is opgewonde oor Refentse, Roelof, Irma en Dean!

Ons is opgewonde oor … Jason Jacobs!