marciel
Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor Marciel Hopkins

Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers en musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

Jy ken hulle dalk alreeds, maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie opkomende sterre bekend te stel.

Vandag is ons opgewonde oor die voormalige Mej. SA-finalis Marciel Hopkins, wat deesdae bedrywiger is as ooit. Sy speel model vir internasionale handelsname, lewer motiveringspraatjies en blog vir SARIE.com, om maar ’n paar van die dinge op haar program te noem. Onthou dié naam, jy gaan nog baie van haar hoor en lees!

Wat is jou droom vir 2017?

Ek wil my volle potensiaal as kurwemodel bereik en met soveel as moontlik kliënte werk, plaaslik en internasionaal. Dis ’n voorreg om Suid-Afrika as ’n internasionale kurwemodel te verteenwoordig.

My grootste droom as model is om die eerste Suid-Afrikaanse kurwemodel te wees wat op die voorblad van Sports Illustrated verskyn.

Ek wil ook soveel moontlik motiveringspraatjies lewer wat mense inspireer en my opleiding in lewensafrigting voltooi.

Wat is die één ding wat vroue oor hulself moet glo?

Jy ís goed genoeg, ongeag hoe jy lyk, waarvandaan jy kom of wat mense van jou dink.

Hoe hanteer jou kêrel die uitdagings van die modelwêreld? Was dit vir hom ’n aanpassing?

Hy ondersteun my ten volle en weet hoe belangrik my loopbaan vir my is. Hy droom saam met my en maak seker al my finansies is in orde. Ons het gedurende die Mej. SA-kompetisie ontmoet, so ons moes van die begin af aanpas by die langafstandverhouding en aandag van die publiek.

marciel

FOTO Instagram (@Marcielhopkins)

Hoe hanteer jy kritiek?

Ek waardeer opbouende kritiek wat my bewus maak van aspekte van myself waaraan ek nog kan werk. Maar daarmee bedoel ek my professionele en persoonlike lewe, glad nie hoe ek lyk nie. Ek sal my liggaam vir niemand verander nie.

Wat doen jy op jou af-tye?

Ek lewer motiveringspraatjies by werksessies, universiteitskoshuise, skole, ens. Ek studeer ook tans lewensafrigting, so in my vrye tyd coach ek kliënte en werk aan my take sodat ek einde vanjaar as ’n lewensafrigter kan kwalifiseer.

Wou jy nog altyd doen wat jy nou doen, of het jou lewe anders uitgedraai as wat jy gedink het? Watter lewenslesse kan jy deel?

As dogtertjie was dit my groot droom om ’n model te wees, maar teen hoërskool het ek besef ek sal nooit maer genoeg wees nie. Ek het vrede gemaak daarmee en besluit om eerder ’n aktrise te word, wat my steeds ’n platform sou bied om “van geweet te wees”. Ek lewe my droom en my loopbaan oortref alle verwagtinge wat ek ooit gehad het.

Lewenslesse wat ek graag wil deel: Jou werksetiek en hoe jy met mense werk is van kardinale belang. Hanteer alle mense met respek en menswaardigheid, jy is ’n lopende CV van jouself. Ons wêreldjie is klein en mense praat met mekaar. Maak seker jou naam maak jou paaie vorentoe gelyk en nié dat dit dit versper nie.

Wie is jou heldinne?

Plaaslik: Tanya van Graan en Anna-Mart van der Merwe. Albei is merkwaardig en ek is so bevoorreg om hulle my mentors en rolmodelle te kan noem.

Internasionaal: Iskra Lawrence en Ashley Graham, wat baanbrekerswerk vir groter diversiteit in die modebedryf doen.

Ons sien ook uit na húl 2017:

Jean-Marc Johannes

Appel

Roelof Storm

Klara van Wyk