roelof temmingh
Ons is opgewonde oor

Ons is opgewonde oor Roelof Temmingh

Ons is om baie redes opgewonde oor 2017 en nie nét oor 2016 verby is nie. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot musikante – wat ons opgewonde maak oor die jaar. Hierdie mense is die voorlopers, innoveerders en kreatiewes en maak ons trots oor wat in ons land aan die gebeur is.

Vandag vertel ons jou meer van Roelof Temmingh. As jy hom nog nie ken nie, is dit ons voorreg om jou aan Jason bekend te stel. Ons is opgewonde oor sy projekte en sy naam is saam met al ons vorige name op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

Roelof temmingh

FOTO Verskaf

Sy pa was die internasionaal bekende komponis Roelof Temmingh (in 2012 oorlede), sy ma is die befaamde orrelis en pianis Zorada Temmingh (saam met die pianis Elna van der Merwe ook een van die gewilde Blondes wat klassieke musiek in jazz verwerk), en dit is dus geensins vreemd dat die musiekgene dik deur sy are loop nie.

Roelof, wat in 2014 in vyf van die ses kategorieë in die Hennie Joubert-klavierkompetisie vir jong Suid-Afrikaanse musici aan die Stellenbosse Konservatorium geseëvier het, is tans in sy tweede jaar aan die Royal College of Music in Londen.

“Ek is mal oor kamermusiek en is vanjaar baie bevoorreg om met ongelooflike musikante (mede-studente) baie kamermusiek te speel – ek is veral opgewonde oor ons konsert in Sevilla, Spanje, in Mei!”

Hoewel hy dit gate uit geniet oorsee, mis hy Suid-Afrika. “Die vriendelike mense en die kos (nou ja, my ma se kos). Ek het skoon nostalgies geraak toe ek nou weer, op pad terug na Londen, op die lughawe in die Kaap gestaan het en die meisie by die Woolies-bakkery hardop vir my begin lag toe ek nie kon besluit watter pastei ek wil hê nie (en toe ek uiteindelik kies, vra sy: “Is djy sieker?”).

Roelof is ’n fyn siel en vertel iemand het hom geleer: “Jou eie toetskol sal jou soos ’n kompasnaald deur die seë en storms van kunstenaarskap navigeer.’’

“Ek probeer altyd besluite neem volgens wat op die lange duur sal saak maak – as iets werklik belangrik is vir ’n mens, hou daaraan vas.” Die pianis het gepraat. En hy’s skaars mondig.

Lees nou

Refentse Morake

Irma Venter

Jason Jacobs