FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Ons praat met

10 jaar-reünie vir Riaan en Bennie

Die akteur, skrywer en regisseur Bennie Fourie (ook SARIE.com se rugby-blogger tydens die Wêreldbeker) het 10 jaar gelede ’n droom gehad om ʼn TV-nuusleser te word.

“Toe ek op hoërskool was, het my ma se kerk ʼn damesoggend gehou by die St. Mary’s DSG in Pretoria. Riaan Cruywagen was die gas. Ek het hom ontmoet en gesê ek wil graag ʼn nuusleser word. Hy het gereël dat ek ʼn dag saam met hom op toer gaan by die SAUK. Riaan is ʼn flippen nice ou,” vertel Bennie. 

En toe Bennie gisteraand ’n gas was op die kykNET-program Flits by die Stark-ateljee in Randburg, Johannesburg, ontmoet hy weer sy nuusheld. Flits volg net ná die nuus wat vanuit dieselfde ateljee uitgesaai word. “Ek het gedink hy het ophou nuus lees. Toe ek hom sien, toe dink ek net waaaat.”

Riaan sê hy probeer altyd jongmense help waar hy kan. “In die 50 jaar in die uitsaaiwese het my werkgewers so baie in my belê. Dit sal selfsugtig wees om nie terug te ploeg nie. Ek geniet dit ook baie om te sien hoe jongmense genot put uit my vaardigheid en kundigheid.” Riaan onthou vir Bennie, al het hy deur die jare al baie mense ontmoet.

“Toe ek hom sien, toe dink ek, ‘my wêreld’! Bennie was in matriek en het ’n aand by my in die ateljee deurgebring. Ek is bly om te sien hy het nie van sy drome ontslae geraak nie en dat hy dit uitleef vandag.”

Riaan sê daar is nog ʼn loopbaan in die uitsaaiwese ten spyte van digitale media. Sy raad aan aspirant-nuuslesers is om te studeer in verkieslik joernalistiek, politieke wetenskap of kommunikasiekunde.

“En dan het jy natuurlike talent ook nodig!”

FOTO: Riaan en Bennie in 2006 (bo) en gisteraand met hul tweede ontmoeting (onder).

bennie fourie riaan cruywagen