Ons praat met

10 Jaar van sukses – Juanita: ‘Oor dié 10 dinge droom ek’

Sy is nog dieselfde Suidwes-meisie van tien jaar gelede, al is dit vanjaar ’n dekade sedert sy haar talent ontdek het. En haar reis na sukses begin het: Tot hier waar sy vandag meer CD’s as enige ander Afrikaanse sangeres verkoop.

Weg van die verhoog se ligte, gestroop van al die glansrokke en grimering, is Juanita du Plessis op haar gelukkigste as sy Sondagmiddae touch rugby saam met haar familie op die grasperk kan speel. “Sus Juta is fyn en vroulik, maar sy kan jou duik dat jy hik,” vertel haar broer, Pieter Naudé. “Ons is familiemense en nie kolligmense nie,” gesels Doepie, haar man, terwyl hy eenkant in die ateljee in Pretoria sit en kyk hoe Juanita nog mooier word vir SARIE se Kersvoorblad.

Vir Doepie – met die kortbroek en plaassandale – sal sy altyd die blonde meisiekind wees wat hy as sy vrou uitgesoek het toe hy ’n jong onderwyser en sy ’n matriekmeisie aan die Hoërskool Windhoek was. “Ek het haar nie as ’n skoolkind gesien nie. Ek het dadelik geweet sy’s die vrou vir my,” vertel hy. Sy was net 19 toe hulle getroud is. Daar is destyds baie geskinder, maar Doepie glo die sak sout wat hulle saam opgeëet het, het hul verhouding versterk en dis hoekom hulle steeds na aan mekaar is. Ná byna 20 jaar saam sukkel hy om woorde te kry om te beskryf wat Juanita vir hom beteken.

“Ek kon nie vir ’n meer toegewyde ma vir my kinders gevra het nie.” Van Woensdag tot Saterdag is sy die sangeres op die verhoog. Die res van die week is sy Doepie se vrou en ma van Ruan (17) en die tweeling Franja en Mario (13) by hul huis in Die Wilgers, Pretoria, en hul plasie op Hammanskraal.

 

Ek wil ’n ligdraer wees en vir mense leer dis beter om te gee as om te ontvang

 

“Ons kinders word in die stad groot, maar ons maak hulle soos plaaskinders groot. Hulle MXit vir ’n vale, maar plaasbloed loop dik in hul are,” vertel Juanita. Ruan, die groot krieketspeler in die gesin, is aanstaande jaar die Hoërskool Die Wilgers se hoofseun. Franja is haar ma se ewebeeld en het ook haar sang- en sporttalent geërf. Mario het beslis sy ma se hoogspring-talent gekry.

“Hulle kry dit alles op eie stoom reg. Hulle sien my soms min, maar ons maak hulle selfstandig groot,” sê Juanita. Sy besef die roem-ding is nie altyd lekker vir haar gesin nie. Maar hulle weet hulle moet haar met haar bewonderaars deel. “Ons probeer die kinders uit die kalklig hou. Hulle moet kan kind wees. Ek wil graag soos ander ma’s langs die netbalveld staan of help pannekoek bak, maar ek vermy dit, want dit plaas my kinders in ’n moeilike posisie. Kinders kan wreed wees as jou ma beroemd is.”

Haar musiekloopbaan het afgeskop toe sy in 1997 die Country Association van Namibië se liedjiewedstryd gewen het. Die volgende jaar is haar eerste CD, Young Hearts, uitgereik. Met meer as 60 000 verkope het haar loopbaan begin koers kry. “Teen 2001 moes sy haar vlerke buite Namibië begin sprei,” vertel Doepie. Hy is deesdae Juanita se klankman en bestuurder, asook die bestuurder van Juanita Records, die maatskappy wat hulle in 2002 gestig het en wat al Juanita se kommersiële CD’s hanteer.

Ná tien jaar in die bedryf kyk Juanita terug na meer hoogtepunte as laagtepunte. “Ek tob nie oor negatiewe situasies nie,” sê sy. Sy is ’n toegewyde Christen en het haar twee gospelalbums, Altyd Daar en Vlieg Hoog, as liefdes- en sielstake aangepak en nie as vinnige geldmakers nie. Vir haar gaan dit oor die boodskap wat sy oordra. Albei dié albums en die meeste van haar kommersiële CD’s het dubbele platinumstatus bereik.

“Ek’s bevoorreg dat sy gekies het om gereeld saam met my op te tree,” sê die sanger Theuns Jordaan, self ’n topverkoper. Hy is ’n bekende korrelkop en sê Juanita het die vermoë om hom rustig te maak. “Sy straal ’n vreedsaamheid uit en behandel almal om haar met deernis en respek. Sy het nie airs en fieterjasies nie.” Theuns en Juanita neem op 7 Desember hul DVD Bring jou hart by Carnival City aan die Oos-Rand op. Dis gegrond op die gelyknamige suksesvolle duet wat hulle saam sing. Sy werk ook aan ’n kommersiële CD wat middel November uitgereik word. Haar volgende groot projek is Pieter se CD. (Sy eerste CD, Mooiste Meisie, is drie jaar gelede uitgereik.) Hy is vier jaar ouer as sy en beskou haar as “die beste kleinsus ter wêreld”. Hoewel hy haar vreeslik as kind geboelie het, is sy nou vir hom ’n mentor. “Ek was op ’n verkeerde koers en sy het my loopbaan en lewe nuwe rigting gegee. Ons pa is dood toe sy in sub A (graad 1) en ek in standerd 4 (graad 6) was. My ma, Fransie, het ons alleen grootgemaak en is eers baie jare later met ons stiefpa, Wally, getroud.”

Pieter was in standerd 5 en Juanita in sub B toe ’n seun hom eendag geboelie het. “Toe ek weer sien, sit sy wydsbeen oor hom en laat hom goed verstaan hy moet my uitlos.” Hulle het op skool in die koor gesing en in revues opgetree, maar hy’t eers besef sy het musiekaanleg toe sy by ’n atletiekbyeenkoms spontaan agter die tromme ingeskuif het toe die tromspeler nie opdaag nie. Sy kan ’n stel tromme behoorlik looi, spog hy. Vanjaar gaan hulle weer as ’n familie saamtrek vir ’n tradisionele Kersfees met geskenke en ’n lang tafel.

Met byna 200 konserte vir die jaar agter haar, is Juanita uitgeput. Haar grootste Kerswens is om meer tyd vir haar gesin te kan gee. Sy huil elke stukkie voorbladgrimering af as sy vertel hoe graag sy vir Doepie meer van haar geduld wil gee. “Hy is so ’n goeie man. My perfeksionisme en moegheid maak my soms so ongeduldig met hom.” Sy tree net tot 20 Desember op. Daarna is dit gesinstyd. Dan wil sy net Juanita, die meisie van Suidwes, wees.

Juanita se 10 drome

Ek wil nog . . .

 

Reis na Nashville om regte countrymusiek te gaan sing. Ek wil beslis eendag ’n pelgrimstog na Jerusalem onderneem om in Jesus se voetspore te stap en ek wil my gesin Disney World toe neem.

 

Lees Elke boek wat evangelis Joyce Meyer nog gaan skryf. Ek het al haar vorige boeke gelees. Sy is my aardse mentor. Ek kan nie so gereeld kerk toe gaan nie, want mense hou my heeltyd dop. My kerk is in my hart. As Christen in die vermaakbedryf kyk mense met arendsoë ingeval jy verkeerd trap. Joyce inspireer my om op die pad te bly.

 

Ontmoet My droom om Joyce te ontmoet het onlangs waar geword toe sy Suid-Afrika besoek het en my gevra het om by haar praatjies op te tree. Weens ander verpligtinge kon ek dit net een keer doen, maar dit was ’n seën. Ek het “Vlieg hoog” in Afrikaans gesing: Oor die deel in Jesaja wat sê as jy op die Here vertrou, raak jy nie moeg nie en vlieg jy op
arendsvlerke. Joyce kon nie verstaan wat ek sing nie, maar die laaste deel van haar preek het op presies dieselfde vers gefokus.

 

Sien Ek wil graag die uittog van die massa wildebeeste op die Serengeti en die noorderligte by die Noordpool sien, en ’n wit Kersfees saam met my kinders beleef. En eendag, my eerste kleinkinders . . .

 

Bemeester Ek wil ’n goeie pianis word. Ek is spyt ek het nie as kind die klavier of kitaar leer speel nie. Ek het my kinders vir musieklesse gestuur en wou saam met hulle leer,
maar ek is te besig en hulle is my al ver voor. Ek kan ’n bietjie op gehoor speel. As ek liedjies skryf, voel ek dit in my kop.

 

Ontslae raak van my perfeksionisme en onvermoë om af te skakel. Ek is gedrewe en baie krities op myself. Ek wil dinge dadelik gedoen hê.

 

Koop As ek eendag baie geld het, gaan ek ’n perdeplaas koop. Een soos in die flieks waar die perde op groen vlaktes wei. As ek perdry, voel ek ’n band met die dier. Ek voel sy ritme en ek drink die stilte in.

Proe
Niks sal ooit by boerekos kom nie. Ek is vol fiemies vir vreemde kosse. Ek verkies braaivleis of Doepie se potjies.

 

Gee Ek wil ’n ligdraer wees en vir mense leer dis beter om te gee as om te ontvang. Ek wil my kinders voorberei op die lewe en hulle leer van respek en verdraagsaamheid vir ander.

Bereik
Ek wil ’n beter liedjieskrywer word en as kunstenaar groei. Maar dit gaan nie net oor musiek nie. Ek wil mense bereik. Ek is reeds so geseënd. Ek het van kleins af oor
roem gedroom en die Here het elke droom laat waar word. Hy laat my op arendsvlerke vlieg.