Frankie du Toit van JacarandaFM en kykNET se Hoor-Hoor
FOTO: verskaf

Frankie du Toit van JacarandaFM en kykNET se Hoor-Hoor FOTO: verskaf

Ons praat met

12 vrae aan Jacaranda & kykNET se Frankie du Toit

Op radio het ons hom leer ken vir sy program Workzone op Jacaranda FM. Op TV is hy die aanbieder van kykNET se Hoor-Hoor. SARIE.com vra 12 vrae aan die besige Frankie du Toit.

Wat is jou gunsteling-vakansiebestemming?

Enige plek aan die kus in die Wes-Kaap.

Wat kan jy kook? 

Ek moes maar op die harde manier leer kook toe ek die huis verlaat het. ’n Paar weke se bully beef sal enige man motiveer om ’n resepteboek op te tel. So, ja, ek kan ’n paar interessante geregte kook, maar ’n lekker Sondagoggend-ontbyt is my spesialiteit. Ek sal julle moet nooi om die Frankie Brêkvis Buffet te kom geniet!

Wat maak jy die graagste?

Ek hou van enige seekos. Ek kan ’n lekker paella maak en ook ’n paar goedjies bak, maar ek dink ek sal myself vir seker net in die verleentheid stel op Die Nataniël Tafel. Ek glo wel om saam met vriende en familie om ’n tafel te sit en eet is van die lekkerste oomblikke.

Wat is die beste geskenk waarmee jy iemand al verras het?

Die meeste van my ma se familie bly in die Kaap, so ons sien hulle nie baie gereeld nie. Toe het ek vir my ma se 60ste verjaardag met haar werk gereël dat sy die dag afkry en haar verras deur haar douvoordag wakker te maak en te sê: “Klim in die kar en trek gemaklike skoene aan.”

Dit was in die middel van die week en ons het afgevlieg Kaapstad toe. Natuurlik was die res van haar dag vol verrassings en familie-kuiers. Die aand laat het ons weer teruggevlieg hoëveld toe. Ek sal nooit vergeet hoe gelukkig sy daai dag was nie.

Hou jy van verrassings?

Ek hou baie daarvan, maar ek is ook maar ’n moeilike ou om te verras. Ek kry vining snuf in die neus as mense planne maak. My vriende is ook gewoonlik te grootbek om geheime te hou.

Watter TV-reekse volg jy?

Ek is versot op The Newsroom en House of Cards. Maar ek kry nie so baie kans om TV te kyk nie.

Watter musiek luister jy in jou kar?

Daar is nie genoeg musiek op die planeet om my appetite te vul nie – ek luister na alles. Musiek vloei in my are en dit is vir my soos ’n vergrootglas wat elke emosie kan ontbloot en opsom. Ek luister alles – van Metallica tot Die Heuwels Fantasties en Chris Chameleon. Daar is nie ’n CD waarna ek nie na sal luister nie, maar bygesê, ek sal dit sommer vinnig uithaal as ek kan hoor die kunstenaar het nie ’n passie vir wat hy doen nie.

Is dit moeilik om saam met jou te leef?

Ek is ’n redelike perfeksionis wanneer dit kom by my werk. Ek hou nie daarvan om kykers of luisteraars teleur te stel nie. So in daardie opsig kan ek moeilik wees. Maar oor die algemeen het ek lankal geleer dat die lewe te kort is om kwaai te wees oor simpel goed.

En wat maak dit maklik?

Ek sal altyd alles in my vermoë doen om my vriende en geliefdes spesiaal te laat voel.

Wat weet min mense van jou?

Ek kan baie lui wees as ek lus het. Ek snork party aande groot gedeeltes van die Amasone af. En ek geniet skelmpies vanieljeroomys met All Gold-tamatiesous.

Is jy ’n oggend- of ’n aandmens?

My beroep forseer my om albei te wees. Vroegoggend-radio, laataand-geleenthede … daarom sien ek dit as ’n groot voorreg om vroeg op te moet wees of laat te moet wakker bly. Maar kyk, ek is darem lief vir ’n lekker middagslapie op die bank in die son wanneer ek die kans kry.

Moet jy jou wekker snooze om in die oggende op te staan?

Minstens 8 keer. Ek sukkel om op te staan, maar as my voete die vloer tref, kan ek binne minute aan die gang en in die motor wees.

*Frankie is Donderdagaande om 21:00 op die kassie as aanbieder van die kykNET-reeks Hoor-Hoor saam met musikant Ampie du Preez. Hy is ook sanger en kitaarspeler in die Frankie Fire-orkes.