sr1112goud_34_
Ons praat met

2011 se goue oomblikke

Goud, wierook en mirre – die kosbare geskenke wat die Wyse Manne aan die baba Jesus se voete gelê het. Van dié drie dinge het net goud die toets van die tyd deurstaan.Wierook koop jy deesdae vir ’n paar stuiwers op elke vlooimark, en mirre (olie) is nie juis deel van ons alledaagse woordeskat
nie, hoewel dit steeds in aromaterapie gebruik word.

Goud, daarenteen, is steeds sinoniem met weelde en glans.

GOUE PRESTASIES

  • Sandra Prinsloo, een van ons gewildste aktrises, sal nóóit haar glans verloor nie. Dié 60-plusser het ’n ere-kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria, haar alma mater, ontvang. “Ek voel skoon geskok daaroor en knyp myself nog elke dan en wan.”Sy reken al die goue oomblikke in haar lewe is toe te skryf aan geluk, die inspirasie van wonderlike mense en mentors, asook haar ouers.    
  • Daar’s ’n goue draad deur Charlize Theronse lewe. Sy’s ons goue meisie van Benoni, wat in 2004 die goue Oscar-beeldjie verower het vir haar hoofrol in Monster, en sy is al agt jaar lank die gesig van Christian Dior se “goue”parfuum, J’adore, ’n topverkoper in SA. In die jongste advertensie slaan sy weer eens asems weg in haar klewende, goue rok.

Charlize Theron met die maak van die J' Adore advertensie

  • Op 1 Augustus 2010 verskyn die ontstellende foto van die geskende Afgaanse vrou Bibi Aisha op TIME se voorblad. Haar neus en ore is afgesny nadat sy van haar gewelddadige man probeer vlug het. Jodi Bieber, die fotograaf, het haar vroeër vanjaar in Queens, New York opgesoek. Dit was huleerste ontmoeting sedert die fotosessie. Jodi, ’n Suid- Afrikaner, is vanjaar as die wenner van die 2010 World Press Photo Awards aangewys. “Bibi het nog nie rekonstruktiewe chirurgie ondergaan nie, sy moet nog eers deur baie sielkundige trauma werk,” sê sy. “Danksy die TIME-voorblad het ek die afgelope jaar baie gereis en in groot wêreldstede oor die krag van fotografie gepraat.”
  • Die pianis Ster, oftewel Sigrun Paschke, inspireer met haar unieke vertoning Ster in die donker en haar lewensuitkyk. Ster, wat blind gebore is, speel haar oorspronklike komposisies in die donker, aangevul deur Stef Bos se poësie op die klankbaan. In Junie vanjaar was sy met dié produksie op ’n kort toer deur SA. Dit was ten bate van Operation Smile South Africa, wat rekonstruktiewe operasies vir kinders met gesig-abnormaliteite borg. Ster is self sonder verhemelte en met ’n gesplete lip gebore. “Ek glo jy moet ja sê vir alles wat jou kant toe kom. Waag liewer asom te huiwer, selfs al beteken dit dat jy op jou neus val! Dis die beste manier van leer.”
  • Cynthia Jele se boek Happiness is a Four-Letter Word (Kwela) is vanjaar met twéé pryse vereer: die 2011 Commonwealth Writers’ Prize (Afrika) vir beste eerste boek, en die 2011 M-Net- Letterkunde-toekenning in die rolprent-afdeling (die prys word toegeken aan die boek met die meeste belofte om in ’n rolprent omskep te word). Die dialoog sal die “skerm laat lewe”, was die beoordelaars se kommentaar. Happiness is a Four-Letter Word gaan oor vier vroue van Johannesburg se goue vriendskap. “Baie mense kan identifiseer met die kwessies wat aangeraak word. Soos hoe my generasie die vryheid van materiële welvaart hanteer.Mense dink dit was dapper om daaroor te skryf!”
  • Ons “goue seun van riller-letterkunde”, Deon Meyer, het met Thirteen Hours (13 Uur) die prestigeryke Amerikaanse Barryprys vir die beste riller van 2011 losgeslaan. Die wenners is in St. Louis, Missouri, aangekondig. “Die Amerikaanse mark is waarskynlik die mededingendste ter wêreld en die kortlys het bestaan uit mense wie se werk ek bewonder en respekteer,” sê Deon. “Die ruimhartigheid van veral skrywers oorrompel my elke keer. En die reaksie en gelukwensings was oorweldigend, dalk omdat alle skrywers in dié genre weet hoe moeilik dit is om sukses te behaal. Ek was erg bewoë, natuurlik omdat jy op só ’n oomblik kwaai huis toe verlang.”

  • 26 000 toeskouers, 51 vertonings, 4 stede. En alles uitverkoop! Die blyspel Stuur groete aan Mannetjies Roux het beslis ’n snaar aangeraak. “Dit het ons stoutste verwagtings oortref,” sê Johan Badenhorst, vervaardiger. “Mense smag na behoorlike volksteater, wat oor dinge gaan wat hulle na aan die hart lê.” Mannetjies Roux, een van rugby se goue legendes, is vereer in dié blyspel. (SARIE was die media-vennoot.) Dis gegrond op Laurika Rauch se gelyknamige trefferliedjie van die jare negentig, en is geskryf deur haar man, Chris Torr.
  • Die musiek-ikoon Hugh Masekela het ’n eredoktorsgraad in lettere en wysbegeerte van die Vaal Universiteit van Tegnologie in Vanderbijlpark ontvang. “Sy lewensverhaal en musikale loopbaan behoort ’n inspirasie vir die jeug, veral die swart jeug, te wees. Dit wys hoe vasberadenheid jou kan ophef uit die stowwerige strate van die townships tot ’n internasionale ikoon,”het die vise-kanselier, prof. Irene Moutlana, gesê.

Hugh Masekela

  • Ons gee die akteur Hykie Berggoud vir sy oorwinning oor dwelms en die oorgawe waarmee hy ja sê vir die lewe.Net so vier jaar gelede het hy in SARIE vertel van sy jare lange stryd teen dwelmverslawing.Vanjaar was die nuwe Hykie die wenner van die emosioneel en fisiek uitmergelende Survivor SA: Maldives. Sy leuse? “Jy kan net dit wat jy het, behou as jy bereid is om dit weg te gee.
  • Dr. Elmi Muller, ’n chirurg by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, het in 2008 ’n MIV-positiewe mens se nier op nog ’n draer van dié virus oorgeplant – die eerste keer in die geskiedenis. Sy het sedertdien nog 11 sulke operasies gedoen. Vanjaar is sy aangewys as Shoprite Checkers se Vrou van die Jaar (gesondheidsorg). Volgens Elmi het die toekenning mense bewus gemaak van haar werk en die waglys vir sulke oorplantings het gegroei. Haar prysgeld van R100 000 gebruik sy onder meer om pasiënte elders in die land te besoek.

Dr. Elmi Muller

  • Het jy saamgejol met Riverdance, Rammstein,U2 of Neil Diamond? Wat van Roxette,Coldplay, Julio Iglesias of John Cleese? Dis maar ’n paar van die grotes in die vermaakbedryf wat vanjaar plaaslik opgetree het. Big Concerts, wie se fyn voetwerk dit moontlik maak, verdien goud. Attie van Wyk, die grootbaas, sê hulle is nie verniet dertiende op die ranglys van die wêreld se 100 top-promotors nie. “Ons doen vooraf deeglike marknavorsing oor watter kunstenaars gewild gaan wees,” sê hy.
  • Die trefferprent Roepman word vroeg aanstaande jaar met Engelse onderskrifte in Amerika uitgereik. “Só moet ’n [Suid-] Afrikaanse rolprent mos lyk!” sê die rolprentresensent Leon van Nierop. Hy gee die fliek drie uit vier goues. Regisseur van die jaar: Paul Eilers, Roepman. “Hy het die moed gehad om ’n kontroversiële onderwerp kaalkop te takel en dit met deernis, sensitiwiteit, insig en goeie smaak uit te beeld.” Beste aktrise: Rika Sennett, Roepman: “Sy beeld haar karakter se vrese en hulpeloosheid oor ’n gesin wat verbrokkel met sensitiwiteit uit.” Beste nuweling: Paul Loots, Roepman. “Een van die min kere dat ’n kinderster nie vir oulikheid of prettigheid in ’n rol verskyn nie.” Beste akteur: Deon Lotz, Skoonheid. “Vir sy vreeslose en insiggewende karakterisering van seker een van die mees gefolterde karakters en outsiders nóg in die Afrikaanse rolprentkultuur.” (Skoonheid het die Queer Palmtoekenning by die Cannes-filmfees in Frankryk ontvang.) Deon was ook in Roepman te sien, en hy was die ster van Stuur groete aan Mannetjies Roux. En sommer ’n goue beeldjie aan Leon ook. Sy radiovervolgverhaal van drie dekades gelede, Wolwedans in die skemer, word verfilm en in Augustus aanstaande jaar uitgereik.
  • Leon Schuster se nuwe fliek, die veertiende op sy kerfstok, gaan deels deur die Walt Disneymaatskappy gefinansier word.Disney sal ook die verspreiding en bemarking daarvan behartig.Die werkstitel is Bad Buddies en dit gaan oor twee aartsvyande se eskapades. “Gewoonlik is my fliekkontrakte sowat 50 bladsye. Dié keer is dit 150 bladsye! Vir die eerste keer het ek ’n báie groot, professionele bemarkingsmasjien agter my, maar dit is ook ’n reuse-verantwoordelikheid.”
  • Ons eie “Blade Runner”,Oscar Pistorius, word die eerste Paralimpiese atleet wat ’n medalje (silwer) by ’n Wêreldatletiekbyeenkoms ontvang. Hy is boonop vanjaar gekies as die gesig van Thierry Mugler se mans-parfuum A*Men. Mugler het ’n gespierde, silwer man geskep as identiteit van dié unieke geur. En onse Oscar – sy eie J-vormige kunsbene is daarvoor met chroom bedek – is die superheld in die advertensie. Hy het op sarie.com gesê hy wil dié kans gebruik om mense te inspireer. “Om iemand met ’n gebrek in ’n skoonheidsveldtog te gebruik stuur ’n kragtige boodskap uit, want die modelwêreld streef mos eintlik na perfeksie!”

Oscar Pistorius tydens die maak van die Thierry Mugler advertensie

  • Die Universiteit van die Vrystaat het die “koningin van klets”, die Groot O, met ’n eredoktorsgraad in opvoedkunde vereer. Oprah se trane het gerol toe John Samuel, direkteur van die Internasionale Instituut vir Studies oor Ras, Versoening en Maatskaplike Geregtigheid, haar beskryf het as ’n “ere-dogter van Afrika”. (www.ufs.ac.za)

SPORT

Herbert Pretorius, sportredakteur van Die Burger in Kaapstad, herinner ons aan vanjaar se sportuitblinkers.

  • Caster Semenya is nou wel met ’n silwermedalje op die Wêreldatletiekbyeenkoms beloon, maar het aan sport24.com gesê dit beteken meer as Berlyn se goue in 2009.“Toe was ek nog jonk en voortvarend. Ek het nie regtig besef hoe groot die eer is nie.”

Caster Semenya

  • Jacques Kallis het in Desember verlede jaar sy eerste dubbele honderdtal teen Indië aangeteken. En dit in Januarie vanjaar op Nuweland opgevolg met ’n 100-tal in elke beurt – weer teen Indië. In die Nuweland-toets het hy boonop met ’n besering gekolf.
  • Charl Schwartzel het in April die gesogte Amerikaanse Meesters-gholftoernooi op Augusta, Georgia, gewen.Hy is slegs die derde Suid-Afrikaner wat dit kon regkry, naas Gary Player enTrevor Immelman.
  • Jordy Smith, Suid- Afrika se branderplankry-sensasie en die naasbeste ter wêreld, het in Julie die Billabong Pro-byeenkoms op Jeffreysbaai die tweede jaar agtereenvolgens gewen.

GOUE OOMBLIKKE

  • Die koninklike troues: Prins William en Kate Middleton van Brittanje. En ander kant die Britse kanaal: Charlene Wittstock en prins Albert van Monaco. Romantiese siele het wêreldwyd kollektief ahhhh . . . gesug toe die twee paartjies uiteindelik te midde van baie swier en opwinding die knoop deurhak.
  • Romanz sing by die Monacotroue. “Ná maande van opwinding en afwagting was dit byna ’n gevoel van: Is ons nou regtig hier? Ons het eers die volgende dag besef wat met ons gebeur het,” vertel hulle.
  • Madiba vier sy 93ste verjaardag op 18 Julie – en sowat 12 miljoen leerders oor Suid-Afrika heen sing presies vyf minute oor agt die oggend ’n spesiale liedjie vir hom. En ons beaam hartlik: We love you dear Tata/Happy birthday to you!
  • Netti Botha

    Ek kuier op die oomblik by my dogter in Australie ( vir 3 maande). Voor my vertrek het haar tannie vir my ‘n Sarie gegee om vir haar saam te bring… sy was baie verras en het dit ook erg waardeer!!
    Hier in Kalgoorlie WA is daar in die biblioteek, ‘n spesiale afdeling vir die Afrikaanse inwoners hier… ek sien egter nie veel vroue tydskrifte daar nie… net gewonder wat die moontlikheid sou wees om dit aan hulle te voorsien?
    Hier woon omtrent 3000 Suid Afrikaanse gesinne hier….
    Ek was nogal verbaas om die groote van die stad te sien en die netheid is ooglopend!! Dan praat ek nie eers van die veiligheid nie! Voel soos Suid Afrika in die jare 1950-70 -Motors word nie fanaties gesluit nie en soms vergeet mens selfs die voordeur ongesluit…geen probleem, glo my!!!
    Groete van Kalgoorlie, WA