Ons praat met

3 x aksie: Emma, Dezi, Paula

Eendag was daar drie prinsesse wat feitlik elke dag vir ’n groot monster moes werk.

Wag, wag, dit was glad nie ’n aaklige monster nie, eintlik nogal ’n opwindende een. Maar praat van veeleisend! Hy móés elke dag van vroeg tot laat – letterlik – sy mond vol stop met karakters, intriges, storielyne en skandaal. Die prinsesse was ook nie áltyd prinsesse nie. Hulle is op ’n dag raakgesien deur ’n rolverdelingsagent en ’n vervaardiger genaamd Danie Odendaal, wat totaal betower was.

En voor jy kon sê “7de Laan” het Elma Postma, Bertha le Roux en Diaan Lawrenson bekend geword as Dezi, Emma en Paula. En hulle het nie gewoon in ’n land ver, ver van hier in ’n paleis nie, maar gewerk in ’n ateljee so ’n klipgooi weg van die inkopieparadys Sandton – waar hulle eintlik nie meer hul gesigte kon wys nie, want bewonderaars het hulle van heinde en ver oorval vir handtekeninge en ’n tikkie van die betowering wat hulle uitstraal.

’n Klompie jare gelede was dié drie onbekende aktrises. Vandag is hulle welbekende gaste in jou sitkamer, soos familie. En nie uniek nie, want daar is baie ander sepiesterre in dié land. Nou wat maak dié drie – die twee blondines en die rooikop – so spesiaal, so ekstra gewild dat hulle uitstyg bo die res? Daarom weliswaar uniek . . . Ek soek die antwoord by al drie om ’n tafel in Danie Odendaal Produksies se kafeteria. (Terloops, selfs sonder tiaras en towerstaffies lyk hulle vreeslik mooi. Én hulle is nice – Elma en Bertha warm en vriendelik, Diaan effens meer terughoudend en ernstig.)

Bertha reken dis omdat haar karakter so gaaf is. “Emma is iemand waarop mense kan staatmaak, sy is die goeie dogter.” Sy voeg met ’n laggie by: “Sy is ook die enigste een van die girls wat nog ’n maagd was op haar huweliksnag, tot Ryno se groot spyt.” Danie Odendaal stem saam, Emma ís sag en vol deernis. Maar, sê hy: “Sy laat nie op haar trap nie. Sy het baie passie, sy het die droomman in die reeks gevang.” Dis nie hy wat so sê nie. Julle, die kykers, sê so: “Navorsing het vir ons gewys Ryno is nie net die droom-hunk nie, maar die droom-man.”

Sepie-kenner en joernalis Martjie Roos reken nog ’n belangrike deel van Emma se aantrekkingskrag is haar letterlike rondheid waarmee vroue kan identifiseer. “Sy is nie net ’n glansryke sepie-pop nie, sy is ’n karakter van vlees en bloed.”

 

Daar is geen beproefde wenresep om sterre soos Dezi, Emma en Paula te kry nie . . . Karakters se groei het baie te doen met die eienskappe van die akteurs self – Danie Odendaal, 7de Laan-vervaardiger

 

Daarteenoor is Diaan se Paula ’n boerekugel de luxe – ’n regte oordadige drama queen (ekskuus, prinses). Maar weer eens het sy ’n snaar in die volk geraak. Of jy van haar hou of haar haat, of sy jou inspireer of irriteer, jy kan haar nie ignoreer nie. Diaan sien haar karakter as ’n go-getter wat deesdae meer dinamies is, en ook meer bewus van hoe ander voel. Sy’s stout en sy kry goed reg en kom met alles weg.

“As Emma en Dezi die hoofdogters was, was ek die stout meisie!” En die stout meisie is duidelik wat kykers soek. Danie sê: “Paula het ’n geweldige aanhang onder veral jong meisies. Sy stuur die boodskap uit dat ’n mens funky en fun kan wees, maar ook intelligent. En met haar soms verskriklike modekombinasies laat sy mense ook verstaan dat jy nie hoef te konformeer nie.”

Volgens hom is die belangrikste egter dat sy haar eie ding doen: “Sy is nie ’n stereotipe blondine nie.” Nie dat dié nie-stereotipe blondine se kassie-lewe altyd ’n lied is nie. Effens verlangend merk Diaan op: “Elma en Bertha se karakters word ernstig opgeneem, maar ek kan nie van Paula se karakter af wegkom nie!”

Wat van die ander hoofmeisie, Dezi, wat, volgens Danie, “ingekom het as ’n bright jong kelnerin met ’n graad, wat met die regte man in die regte familie ingetrou het, maar nie om die verkeerde redes nie?” Martjie reken kykers het baie empatie met Dezi oor haar kwessies, haar situasies en omstandighede. “Dezi, anders as Paula, verteenwoordig die goeie, konvensionele Afrikaanse meisie. En tog – en dis my persoonlike mening – is daar ’n tikkie misterie, ’n hoekie van haar hart wat ’n mens vermoed Jan-Hendrik niks van weet nie . . .” Wanneer Bertha die grappie maak dat Emma op haar huweliksnag ’n maagd was, voeg Elma laggend by: “Dezi is nog altyd een!”

Dit alles laat ’n mens natuurlik wonder hoe word ’n ster (lees, sepieprinses) gebore, en wat gebeur dan? Danie is aan die woord: “Daar is geen beproefde wenresep om sterre soos Dezi, Emma en Paula te kry nie. Soms word ’n karakter gesoek om ’n spesifieke gaping te vul, soos toe Wilmien weg is. Ander kere skep ’n mens ’n karakter met ’n spesifieke akteur in gedagte.” Maar wat presies is die ster-kwaliteit wat hulle onderskei? Danie antwoord met ’n geheimsinnige glimlag wat suggereer dat dit ook vir hom ’n raaisel is: “Dis ’n ondefinieerbare iéts, iets wat vir jou iets kan gee.” En iets wat duidelik aanhou gee. “Karakters se groei en ontwikkeling het baie te doen met die eienskappe van die akteurs self,” meen Danie.

In die hier en nou, om die tafel, vra ek vir die drie prinsesse: Wat van jul private lewe? Elma rol haar oë: “Private lewe?”

 

Elkeen van hulle is uniek, maar tog lyk hulle goed saam – Saadique, een van die haarstileerders

 

En Bertha lag: “Wat is private lewe?” Dan raak Elma ernstig: “Aan die positiewe kant gee dit ons ’n boost – daar is meer geleenthede. Maar ons moet veg vir ons privaatheid. Mense verwag van jou om hulle s’n te wees.”

Bertha stem saam: “Die Laan maak beslis deure oop, maar jy kan nie meer gaan fliek of uiteet nie. ’n Paar jaar gelede kon ek nog in die Westgate-winkelsentrumrondloop, maar deesdae is dit onmoontlik, mense oorval my.”

Diaan sê: “’n Mens moet regtig veg om eerlik te wees oor wie jy is. Mense wil soms nie aanvaar dat jy nie jou karakter is nie. Hulle raak kwaad as jy nie oor jou private lewe wil praat nie, of as jy hulle aan jou regte naam herinner.” Of, soos Bertha verduidelik: “Ek sal iemand daaraan herinner dat my naam eintlik Bertha is, en dan sal hy sê: ‘Ag, vir my sal jy altyd Emma wees.’” Met nog so ’n misterieuse Mona Lisa/Dezi-glimlaggie voeg Elma by: “Dis soos daardie ou Hollywood-aanhaling: You work a lifetime to become famous and then you spend another lifetime trying to avoid it.”

En tog kan ek in my wildste drome nie een van dié drie sien gemeen wees met ’n bewonderaar of ’n fotograaf se film uit sy kamera pluk nie. (Wel, Paula miskien, maar beslis nie Diaan nie!) Ek vermoed Elma som dit namens almal op: “Dis lekker om vir mense iets te gee wat hulle in hul lewe kan gebruik.”

Diaan reken 7de Laan is van die lekkerste produksies om van deel te wees. “Ek sou nie by enige ander program of soapie wou wees nie.” Elma beaam: “Ons is ’n groep wat lekker saamwerk, hier’s nie tyd of plek vir ego’s nie.” Dit gaan oor respek, vervolg Diaan. “Die meeste mense hier het respek vir mekaar se talent, hulle gee ondersteuning.” Waarby Bertha effens geheimsinnig aansluit: “. . . wat nie noodwendig elders gebeur nie.”

Elders sluit ook die produksies in waarby hulle buite 7de Laan betrokke raak, met die volle ondersteuning en aanmoediging van Danie en medevervaardiger Annie Basson. Dis opwindend, dit bou hulle as akteurs, maar dis weer eens ’n geval van die dubbelkantige 7de Laan swaard. Diaan vertel van haar onlangse betrokkenheid by die produksie Pleiboyz by die KKNK. “Die voordeel van 7de Laan is dat dit mense trek. Die negatiewe kant is dat mense kom om vir Paula te sien, en hulle het dan ’n verskriklike reaksie as die karakter baie anders is.”

Elma was al in dieselfde bootjie. Met die produksie Monsters is vooraf aangekondig dat mense nie Laan-karakters moet verwag nie, maar die gehoor het steeds sleg gereageer. Die publieke druk om die lyn te verdof – nie net tussen hul Laan-karakter en hul eie lewe nie, maar ook tussen die Laan-karakters en teaterkarakters – is en bly ’n frustrasie. Soos Bertha dit stel: “Die rede hoekom ons aktrises geword het, is juis om diverse verhoudings, diverse kompleksiteite en verskillende stories te verken.” “Mense moet verstaan ons veg vir waarvoor ons lief is,” voeg Dezi by. En wat teater spesiaal maak, sê Diaan: “Dit hou jou tools skerp, dit hou jou fiks as akteur, dit help jou om nie te stagneer nie.”

Dis nou as die publiek net soms van Paula en Dezi en Emma kan vergeet en vir Diaan en Elma en Bertha kan toelaat om alles te wees wat hulle sou wou wees . . .

Want Elma wil “met haar hele hart ’n koningin in ’n Middeleeuse drama met ’n verskriklike groot begroting” wees. Bertha sou graag in ’n Jane Austen-produksie wou speel, of iets uitdagends aanpak soos Audrey Hepburn se Breakfast at Tiffany’s. Diaan wil uiteindelik meer op produksie en redigering fokus vir die lekkerte om ’n span mense bymekaar te kry en die kreatiewe keuses en beheer te hê.

Die tweede wens van die drie prinsesse is natuurlik ’n bietjie meer privaatheid, ’n erkenning van wie hulle is en waar hulle is. En hul derde wens is om aan te gaan om ’n positiewe impak op die lewe van mense te hê. En ek vermoed hulle weet dit maak nie seer om ’n vierde wens te hê nie. Maar daaroor moet ons maar bly wonder . . .

Ondertussen is dit nog lekker vir die drie prinsesse om te werk vir daardie welwillende, veeleisende, honger monster . . . wat beslis nie gebrek ly as dit by sy aanbevole daaglikse dosis van intrige, opwinding en aksie kom nie.