Ons praat met

5 lewenslesse van Dieter Voigt

Dieter hou praatjies om ander te inspireer en motiveer. Maar dit gee ook sin in sy lewe.

Dieter Voigt, vryskut-aanbieder van die SABC2-joernaalprogram Pasella, is deesdae ook weer onderwyser by die Laerskool Welgemoed. Hy is die afgelope drie jaar getroud met Martelize, ’n sang- en klavierdosent by die Campus of Performing Arts (COPA) in Kaapstad, en die trotse pa van Mijean. Hy het in 2007 sy eerste motiveringspraatjie by ’n vrouekonferensie in Durbanville gehou en sedertdien wil hy veral ’n verskil onder die jeug maak.

Dieter se 5 lewenslesse

1. Jy kan by alle mense iets leer.

2. Ek het my vrees vir openbare optredes oorkom deur dit in die oë te kyk en myself gereeld daaraan bloot te stel.

3. Ek is ’n “mens” en die “rolmodel”-etiket beteken nie dat ek perfek hoef te wees nie. Ek hoef net te leef. Die res is net genade. Ons is almal rolmodelle.

4. Die grootste behoefte onder jong mense is ’n oor wat luister en nié veroordeel nie.

5. As jy langs ’n sterwende ouer se bed staan, is dit ontstellend, taai en ’n groot ontnugtering. Ek het dit self beleef. Dit gee jou opnuut passie om jou kers aan die brand te hou.

Dieter vertel

Skaam op skool

Ek was ’n skaam seuntjie op skool en het gesukkel om aan te pas op Mosselbaai in die Suid-Kaap. Ek sou sommer in trane uitbars as ek ’n bal misvang. Maar in gr 4. het een van my onderwyseresse, ene juffrou Bakker, my raakgesien en my help ontwikkel.

Ek het aan die Hoërskool Punt op Mosselbaai gematrikuleer. Daarna, in 1997, het ek gewerk vir die organisasie Diensjaar vir Christus. Ons het die land platgetoer en ek het besef ek wil ’n onderwyser word. In 2001 het ek aan die destydse onderwyskollege op Wellington my B.Ed.-graad verwerf.

Dieselfde jaar het ek Michael Mol ontmoet en besluit ek wil ook Mnr. SA word, want ek het geglo dit sou vir my die deur oopmaak om ’n Pasella-aanbieder te word. In 2007 het dié droom waar geword toe ek die titel verower het. Ek het die skoolbanke gegroet en in 2008 by Pasella aangesluit. Die skaam seun het plek gemaak vir iemand met meer selfvertroue, wat die lewe wou ontdek.

Eerste praatjie

Dit het spontaan gebeur dat ek as motiveringspreker begin optree het. ’n Woonstelmaat se meisie het gevra of ek ’n paar vroue sou toespreek. Ek het twee dae voorberei en was baie gespanne, maar alles het goed gegaan.

Nou praat ek gereeld van die Kaap tot Kathu in die Noord-Kaap met die jeug. Dit voel asof ek gister deur hul worstelings is. Jong mense het positiewe energie en onuitputlike potensiaal. As ek een van hulle kan leer wat ek geleer het, is my taak op aarde volbring. Ek sien myself as ’n ouer broer vir hulle en deel graag my lewe: foute, suksesse, lesse. Ek wil hulle leer om groot te droom, hard te werk, te groei, vrygewig te wees en voluit te leef. Hulle moet opgewonde wees oor die lewe.

Dieter en die vroue in sy lewe, Martelize en Mijean (2) FOTO: Samantha du Toit vir ST Photography

Dieter en die vroue in sy lewe, Martelize en Mijean (2)
FOTO: Samantha du Toit vir ST Photography

Ek maak ’n verskil

Soms is ons, onwetend, die antwoord op iemand se gebed. Ek is partykeer skoon oorbluf oor hoe kragtig woorde kan wees. ’n Seun het SA kampioen in 200m-hekkies geword en ’n SMS gestuur om dankie te sê dat ek hom gehelp het om nie moed op te gee nie.

Iemand anders het uit moeilike omstandighede gekom en Suid- Afrika by die vorige Olimpiese Spele verteenwoordig. Toe ek hom bel en geluk toewens, het hy ’n deel uit my boek, Ek dare jou… leef voluit!, aangehaal. Ek was verstom.

Nou skryf ek ’n boekie oor die lewenslesse wat ek by al die belangrike vroue in my lewe [ouma, ma en vrou] geleer het. Die terugvoer wat ek kry op my toesprake, laat die energie bruis in my are. Ek voel oortuig dat ek nie verniet my brood op die water werp nie.”