Mari-Louis Guy

Mari-Louis Guy

Bekendes

5 minute met Mari-Louis Guy

Human & Rousseau, R280

Ons het haar in kykNET se bakreeks Koekedoor leer ken en sy’s eersdaags ook in Kokkedoortjie te sien. Sy en haar broer, Callie Maritz, is pas klaar met Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling. Ons het by Mari-Louis gaan inloer.

’n Hele boek oor melktert! Waar kom dit vandaan?
Ek het ’n obsessie met melktert. Dis ons mees ikoniese gebak en ons staan steeds verstom oor die smaaksensasie wat jy deur klein veranderinge aan die basiese vla en kors teweeg kan bring. Ons kan maklik nog drie boeke vol resepte maak.

Watter melktert uit die boek móét ek bak?
Die Cakebread – ons het dié gewilde melktert uit ons kinderjare probeer naboots, die familie wou nie die resep deel nie. Ook die Bloemfonteinse Roos en die Koekenaap.

Wat is jou gunsteling?
Ek hou van almal – broskors, korsloos, krummels, smeerkors, pofkraag – en elke dag ’n ander vulsel.

’n Paar resepte dra die name van bekendes?
Elkeen het mos ’n opinie oor hoe melktert moet lyk. Dus het ons resepte van bekendes ingesluit en dit hul naam gegee, soos die Zola (TV-aanbieder Zola Nene) en die Riffel (sjef Reuben Riffel).

Geen mens mag melktert ooit … in ’n blik druk nie. Ek bedoel dit natuurlik figuurlik. Daar was onlangs ’n bekgeveg aanlyn tussen dié wat glo ’n melktert is slegs die een met die groot pofkors, terwyl ander, soos ons, melktert in enige vorm ondersteun.

Wat is die geheim van ’n goeie melktert?
As jy ooit die tyd het, gaan leer gerus die vaardighede by meesters soos Theresa de Vries en Annelien Pienaar. Vir my het dit meer te doen met die mondgevoel – daardie sagte, fluweelagtige tekstuur met ’n effense geursel wat deur jou geheue dartel. Vir baie ouer mense was die wit stippeltjies wat op van die melkterte vorm (wanneer die eierwitte te ver geklits is) die hoogtepunt – min wetend dat dit volgens die boek ’n ou foutjie was.

Mari-Louis Guy

Die Suid-Afrikaanse Melktert versameling
Deur Callie Maritz & Mari-Louis Guy