Ons praat met

5 minute met Rina Hugo

Daarmee het sy ‘n splinternuwe Mercedes-Benz A-klas en Nokia-selfoon losgeslaan. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor dié groot prestasie.

Hoe het dit gevoel toe jy jóú naam hoor?
‘n Mens besef nie jý is al só lank in die bedryf dat jy al so iets kan losslaan nie. En tog, dit is 25 jaar sedert ek my eerste plaat gemaak het. En ek sing al 36 jaar lank, want ek het begin met operamusiek. Dit voel baie lekker. Dis vir enige kunstenaar lekker om so iets te kry. ‘n Baie, baie lekker gevoel.

Jy het ‘n splinternuwe Mercedes A-klas en ‘n Nokia-selfoon gewen. Hou jy van ‘n Mercedes en is jy selfoon-geletterd?
Die motor is ‘n baie snaakse kleur. So ‘n goudgroen-geel kleur. Die nuwe kleure is mos weird. Ek het nog nooit ‘n Mercedes gery nie, maar nog altyd gedink dis ‘n goeie kar. Dis beslis nie te versmaai nie. Dis ‘n regte kár die. Ek is nie iemand wat jaag nie, maar ek hou van ‘n motor wat beweeg as ek wil hê hy moet rý. As ek ‘n voertuig wil verbysteek, moet hy nie sukkel nie. Ek gebruik ‘n selfoon vir SMS’e en om te bel. En ek neem foto’s en stuur foto’s. Dié foon is verskriklik slim. Ek kan baie goed met hom doen. Dis selfs ‘n iPod en ek kan backtracks op hom laai. En dit het ‘n touch screen. Dis ‘n lekker foon. Én ek kan mooi op hom lees!

Wat maak sing vir jou so lekker?
‘n Sanger is ‘n emosionele ding. Ons instrument is deel van ons liggam. Ons emosies beïnvloed ons instrument en is ‘n groot deel van ons bestaan. Dit is moeilik om op te hou, want ons is verslaaf daaraan. As ek sing, voel ek baie lekker. As ek siek of nie lekker voel nie of wanneer ek moeg is, moet ek myself dwing om te sing en dan voel ek ná ‘n kwartier wonderlik, en my energie is terug en my emosies is weer positief.

Met watter projekte hou jy jouself tans besig?
Sondag-Kersdienste in kerke en gewone konserte. Einde November breek die vakansie aan en dan gaan ons Mosselbaai toe. En teen Kersfees gaan ons na ons plaas in die omgewing van Thabazimbi.

Kan ons binnekort ‘n nuwe CD van jou verwag?
Ja, ek wou dit al klaar gehad het. Ek gaan ‘n nuwe gospel-CD eerste ding in die nuwe jaar maak.

Sing jy wiegeliedjies vir jou kleinkind, Enzo (jou model-dogter Anri van der Linde se seun)?
Ek sing vir hom enigiets. Sy gunsteling-liedjie is ”Die padda wou gaan opsit”. Hy is maar een jaar en drie maande oud, maar hy dans te lekker saam as hy musiek hoor. Hy is mal oor Carike Keuzenkamp se kinderliedjies.

Geniet jy dit om ouma te wees?
Dis verskriklik lekker en oorheers enigiets anders wat lekker was.

Na watter musiek luister jy graag?
‘n Wye verskeidenheid. Ek het nooit my liefde vir klassieke musiek verloor nie. My gunsteling-opera is “La Bohéme”. Ek hou ook van oratorias. Ek het self baie daarin opgetree. Maar ek is ook lief vir jazz en country-musiek.

Wanneer het jy vir die eerste keer besef musiek is jou loopbaan-keuse?
My ma, Fienie, het dit eintlik besluit toe ek klein was. Sy het my klavierlesse laat neem toe ek “klavier” op die teetafel gespeel het. Toe koop my ma ‘n klavier. In standerd ses het ek sanglesse begin neem. In die begin wou ek nie juis sing nie, maar toe die gogga my begin byt, kon ek nie ophou nie.

Is jy ooit gespanne voor optredes?
Ek is die bangste sanger in die wêreld. Ondervinding het my geleer om dit te hanteer. Maar dikwels voor ‘n optrede is daar iets in my wat wonder of ek nie maar nié op die verhoog kan gaan nie . . .

Hoe lank gaan jy nog aanhou sing, vir ewig?
Sal dít nie amazing wees nie! Nee, ek sal na my stem en my fisieke toestand luister. Wanneer ek voel ek kan nog oukei sing, sal ek aanhou. Die oomblik wanneer die musiek nie meer reg klink nie, sal ek ophou. Dit sal nie vir my maklik wees om op te hou nie. Ek hoop ek sal my dán kan besig hou met ander goed in die bedryf.

Watter musiek sing jy die graagste?
Dit wissel. Gewoonlik die musiek wat ek opneem vir ‘n CD. Maar ‘n mens raak gou moeg vir goed. Ek verkies die musiek uit blyspele.

Verkies jy ernstige of ligte musiek?
Ek het twintig jaar gelede besluit om eerder ligte musiek te sing. Ek is nie spyt nie. ‘n Mens het meer kontak met jou gehoor. Klassieke musiek is baie styf en presies en as jy dit nié so doen nie, is jy in die moeilikheid. Ligter musiek pas meer by my geaardheid. Ek het ook gevoel my gesin kon meer deel wees van ‘n ligtermusiek-loopbaan. Dit was bloot ‘n beter opsie vir my.

Wat het sang jou oor jouself as mens geleer?
Ek was ‘n baie onseker kind. Op partytjies het ek moeilik met mense gemeng. Die feit dat ék die onsekerheid kon oorwin en op ‘n verhoog kon klim en voor mense kon optree, wys dat enigiemand daartoe in staat is om selfvertroue te kry en hul vrese te oorkom. Die Here het my in ‘n loopbaan gelei wat ek nooit gedink het ek met sukses sou kon aanpak nie. Enigiemand met twyfel moet net in homself glo en volhou en in sy drome glo.

Vir nog foto’s en inligting besoek Rina Hugo se webtuiste

  • Amanda Knoetze

    Baie baie geluk Rina jy verdien dit.

  • Rita Nel

    Baie geluk Rina, jy was nog altyd ons ster wat skyn…