i0d3894
Ons praat met

60 sekondes met Binnelanders se Veronica

Binnelanders se Veronica, Chantelle Gertse, vertolk al die afgelope vier jaar die rol van dié donkerkop-verpleegster. Sy gesels met Marguerite van Wyk oor liefdadigheid, moederskap en roem.

Wat het jou rol in Binnelanders jou oor toneelspel en oor jouself geleer?
Ek het geleer dat ek kán act, iets wat ek nooit gedink het ek kan doen nie. Ek discover myself nog elke dag.

Volgens ‘n artikel in Tydskrif Rapport (7 Junie 2009) was jy altyd ‘n rebel, maar jou oom is twee jaar gelede dood aan longkanker en dit was vir jou ‘n wake-up call. Hoe leef jy nóú?
Ek is rustiger en probeer ‘n voorbeeld vir my kinders wees.

Jy het nooit vir jou ‘n lewe as aktrise voorgestel nie en wou eintlik jou merk maak in die korporatiewe wêreld. Hoe voel jy oor die verloop van jou lewe?
Ecstatic!

In dieselfde artikel in Tydskrif Rapport het jy gesê jy wil meer betrokke raak by liefdadigheidswerk. Kon jy al iets daaraan doen?
Ek ondersteun Reik na ‘n Droom en sal graag baie meer betrokke wil wees by ouetehuise. Ons oumense benodig ook aandag.

Jou twee seuns, Trey (7) en Cheylin (1) hou jou seker lekker besig. Wat doen jy graag saam met hulle?
Sjoe! Ja, jong seuntjies is nie speletjies nie en hulle is hiperaktief. Ag, Cheylin is nog so klein, hy verstaan nie wat om hom aangaan nie, solank hy net sy mammie naby hom sien. Ek en Trey gaan movies toe of na ‘n park toe . . . enigiets wat fun is vir hom.

Watter rol sal jy nog graag in die toekoms wil speel?
Die skurk in die verhaal.

Hoe hanteer jy dit as vreemdes jou in die straat stop en jou handtekening vra? Is die glanslewe nie moeilik om te verwerk nie?
Glad nie! Die meeste van die tyd wonder ek hoekom mense na my staar en besef eers wanneer hulle my handtekening vra. Ek is maar net altyd myself.

Wat is jou skoonheidsgeheime? Hoe bly jy so slank?
Jy sal my nie glo nie! Ek was my gesig met groen Sunlight-seep (wasgoedseep). Dis goedkoop en werk vir my. Dis in my gene om slank te wees, want ek eet enigiets. My familie terg my altyd en sê ek is ‘n sprinkaan.