copy_of_chris_norman_03
Ons praat met

60 sekondes met Chris Norman (Smokie-sanger)

Chris Norman, wat bekend geword het as sanger en kitaarspeler in die popgroep Smokie in die 70’s, se heserige, sielvolle stem het al menige hart bekoor. In die 80’s het hy ‘n solo-loopbaan begin en sy grootste sukses was die treffer ”Midnight Lady”. Sy nuwe album, Chris Norman, The Hits!, wat vanjaar uitgereik is, maak groot golwe in die musiekbedryf. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor hoogtepunte in sy loopbaan ná 44 jaar in die bedryf, sy grootste uitdagings en die vreugdes van sy beroep . . .

Jy sing nou al vir 44 jaar – geniet jy dit steeds ná al die jare?
Ek het begin sing toe ek maar 15 jaar oud was. Ek geniet dit nou meer as ooit omdat ek dink ek raak al hoe beter met meer ondervinding.

Wat is jou gunsteling-liedjie op die nuwe album?
Van my Smokie-treffers is dit ”If You Think You Know How To Love Me” want dit was ons eerste treffer en dit herinner my aan daardie tyd. Van my solo-loopbaan: ”Call On Me” – dis ‘n nuwe liedjie en ek is tevrede daarmee.

Met watter projekte hou jy jou besig op die oomblik?
Ek bemark die nuwe album en ‘n DVD wat daarmee saamhang. Ek het pas teruggekom van Australië en ek is op pad na Duitsland, Denemarke, Noorweë, Swede, Roemenië en Rusland.

Wie is jou grootste mentors in die musiekbedryf?
Mike Chapman. Hy was Smokie se vervaardiger in die beginjare. Ek het baie by hom geleer oor liedjieskryf en produksie. My grootste rolmodelle is die Beatles.

Wat was jou loopbaanplanne as kind? En is jy gelukkig met hoe jou lewe uitgedraai het?
Toe ek baie jonk was, wou ek ‘n voetbalspeler word. Maar toe ek ouer geword het, het ek begin fokus op musiek, so ja, ek is gelukkig.

Wat is die lekkertes van ‘n loopbaan in die musiekbedryf?
Om saam met ander musikante te speel, nuwe musiek te maak en voor ‘n gehoor op te tree.

Wat was jou grootste uitdagings in dié bedryf?

Dis altyd ‘n uitdaging om mense geïnteresseerd te hou in wat jy doen en om nie fokus te verloor as iets nie suksesvol is nie. Jy moet net aanhou probeer.

  • Wat is die grootste droom wat jy nog in jou beroep wil bereik? Ek sal ‘n nommer-een-treffer en nommer-een-album wêreldwyd wil hê!
  • Wat was die gróótste oomblik in jou loopbaan? Die eerste groot treffer wat Smokie gehad het was baie opwindend.
 

Is jy ooit senuweeagtig voor optredes?
Ek raak nie eintlik meer senuweeagtig nie, maar is altyd op my hoede en hoop als werk reg uit. En gewoonlik wérk dit darem uit. Ek is mal daaroor om op te tree voor groot gehore.

Verlang jy ooit terug na die jare wat jy in Smokie was?
Nie meer nie. Maar ek het baie mooi herinneringe. Ons het sulke goeie tye gehad. En ek mis die kameraderie wat ons in die groep gehad het.

Skryf jy jou eie lirieke?
As dit mý liedjies is, skryf ek die musiek en die lirieke.

Na watter musiek luister jy graag?
Enigiets van klassieke musiek tot rock, van die Beatles tot Frank Sinatra, Coldplay tot Radiohead.

Het jy enige formele musiekopleiding gehad?
Nee, maar 44 jaar se optredes in enige plek waaraan jy kan dink voor enige gehoor denkbaar.

Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek is ‘n gesinsman, maar my kinders is volwassenes en uit die huis. Ek hou daarvan om te stap en ek kyk graag na ou flieks. Op die oomblik neem ek opnames van drie van my kinders wat in ‘n band speel.

Wat is die wysste woorde wat iemand ooit vir jou gesê het?
Moenie vergeet om te kyk of jou gulp toe is voor jy op die verhoog stap nie!