Ons praat met

60 sekondes met Dave Pepler

Immergroen stories oor plante deur Dave Pepler en foto’s deur Lien Botha (Human & Rousseau, R275) het pas verskyn. Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met ‘n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf. Pepler het ‘n M.Phil.-graad in soölogie aan die Universiteit van Cambridge verwerf en is in 2007 met die Stevenson Hamilton-toekenning bekroon vir sy buitengewone bydrae tot soölogie. Marguerite van Wyk het met hom gesels.

Hoekom het jy besluit om dié boek te skryf?
Die hele ding het begin toe Sumien Brink, eertydse redakteur van die dekortydskrif Visi, my uit die bloute gevra het om hul plantrubriek oor te neem. Haar eerste opdrag was oor anthuriums, een van die mees afstootlike plante wat ek ken. Ek het gekla, maar Sumien het volgehou. En ek het geskryf – nou is dit vyf jaar later – en ek skryf nog. Toe kom Ansie Kamffer, opdraggewende redakteur by NB uitgewers by, en soos dit redakteurs betaam, het sy my nie vir ‘n oomblik met rus gelaat nie. Blameer Sumien, blameer Ansie!
 
Hoekom is jy so lief vir plante?
My ma het tuingemaak, soos my ouma en oumagrootjie. As kind het ek op someraande met mandjies groente straatop geloop en stuk-stuk by die bure afgegee. Hulle het weer iets uit hul eie tuin in my mandjie gesit. My kinderdae is deurdrenk van tuinbeelde.
 
Watter uitsonderlike nuwe dinge oor plante het jy geleer met die skryf van dié boek?
Die skrywery het eenvoudig bevestig wat ek reeds jare vermoed, en dit is dat plante ‘n skakel met die aarde is. Ons het so vervreemd geraak van grond en bodem, dat plante ons laaste skakels met die grond is.
 
Hoe lank het jy navorsing hiervoor gedoen?
Meeste van die stories was in my kop (natuurlik met ‘n hele klap geil verbeelding). En ek moes eintlik net wetenskaplike name nagaan. Gevolglik kon ek met bitter min formele navorsing wegkom.
 
Het jy dit geniet om die boek te skryf en waar het jy oral gereis om jou stories te versamel?
Stories in die boek is meestal uit Afrikaanse bodem geskep, maar ek reis wyd en van hulle het verbindings met indrukke en beelde in plekke soos Atacama in Chili en met Kazachstan.
 
Wat is jou gunsteling-plante en hoekom?
Streng gesproke is ligene nie klassieke plante nie, maar hulle fotosinteer wel. Hulle sit op ‘n klip in die sentraal-Karoo en die Namib en hang soos baarde uit die reënwoude van Uganda. Daar is geen liefliker plant nie.
 
Word jy sedert kleintyd gefassineer deur die planteryk en het jy altyd geweet jy wil eendag as jy ”groot” is met plante werk?
My ma en my oupa het my veld toe geneem. Dit beteken dat ek in van my eerste gewaarwordings uit die natuur met plante te doen gehad het. Die soek na veldkos soos num-num en vinkels het my leer kyk en skerp oë gegee – tot vandag toe.
 
Wat maak Suid-Afrika se plante so spesiaal?
Ná ‘n leeftyd van reis weet ek dat ons plante van die verruklikste plante op aarde is. Tekstuur en vorm en kleur en ‘n groot folkloristiese rykdom daarom maak dit ‘n skatkis.
 
Dink jy die deursnee-Suid-Afrikaner doen genoeg om ons plantelewe te beskerm?
Nee, ‘n duisend maal nee. Ons verniel uit onkunde, die verdowing wat buitensporige rykdom meebring, en ‘n gebrek aan algemene respek vir alles wat lewe.
 
Sou jy nog so ‘n boek wil skryf en indien wel, wat sou jy volgende onderwerp wees?
Hou jou hart vas. Ek torring aan ‘n boek oor parfuum en tuine. Dit gaan nie soseer oor soet walms nie, maar oor prikkels vir die verbeelding, ‘n soort storie vir ‘n hedendaagse Sjeherazade .
 
Wat is jou ”lekkerste” plantstorie?
Ek het hulle nogal almal lief, maar ”Klein katedrale van die veld” het my die grootste plesier verskaf.
 
Die foto’s in die boek is droom-mooi. Het jy lekker saam met Lien gewerk en hoe belangrik is foto’s in ‘n boek soos dié om die eindproduk te versterk?
Min mense besef dat foto’s die EERSTE prikkels was vir die stories. Sonder Lien sou ek nie kon droom nie – dís wat haar foto’s doen – dit maak drome in ‘n mens los.
 
Is jy ‘n ywerige tuinier?
Ek was ywerig, helaas. Omdat ek deesdae ‘n alleenloper is, en baie reis, spesialiseer ek in onkruid. My huisie is omring deur ‘n welige soom van onkruid, vol spinnekoppe en voëltjies en slakke. Grassade is net so boeiend soos ‘n roos.