nianell_smile2
Ons praat met

60 sekondes met Nianell

Sangeres Nianell tree op 25 Julie eenmalig by die Lyric-teater by Goudrifstad in Johannesburg op. Dié Namibies-gebore sangeres het reeds twee SAMA-musiektoekennings losgeslaan. Drie van haar albums het tot platinum-status verkoop en die vierde een, I know I am lucky, het goue status bereik. Só ook haar DVD, As One. Sy het met Marguerite van Wyk gesels oor Dozi, moederskap en ‘n nuwe CD later vanjaar.

Vertel meer van jou optrede by die Lyric-teater – wat gaan dit so besonders maak?
Al my optredes is vir my besonders. Ek is só lief vir musiek en om dit met mense te deel. Ek gaan dié aand liedjies van al vier my CD’s – Who Painted the Moon, Angel Tongue, Life’s Gift en I Know I’m Lucky – sing, en ‘n paar nuwe liedjies. Melanie Lowe open die vertoning. Ek is ‘n groot aanhanger van haar musiek.

Jy en Dozi werk op die oomblik aan ‘n nuwe projek. Is jy opgewonde daaroor?
Baie. Ons sing 14 treffer-duette op die CD It Takes Two en neem ook ‘n DVD daarvan op op 27 Junie. Ons bring die beste in mekaar se stemme uit en dit is lekker om saam met hom te werk. Ons werk ook aan danspassies en toneelspeel. Ons word ‘gestrek’ in vele opsigte met dié projek en ek is seker dit gaan ‘n reuse-sukses wees.

Wanneer kan ons jou volgende CD verwag?
Ek beplan om dit in Oktober vanjaar vry te stel.

Hoe kombineer jy moederskap met jou loopbaan? Dit moes baie moeilik gewees het toe jy in 2007 ma geword het van die drieling Tayden, Kaeley en Jade . . .
Andrew, my man, is ‘n rots en help baie. Ek spandeer 90 persent van my tyd by my kinders. As ek optree en moet werk, kyk my man met die hulp van my kinderoppassers na hulle. Ons het ook ‘n engel genaamd Ronel wat by ons bly en baie help.

Wat is jou gunsteling-liedjies om te sing?
”Finally”, ”It’s so absurd”, ”Who Painted the Moon” en ”As One”.

Jou stem is baie soepel en jy kan gemaklik binne vier oktawe rondbeweeg. Is dit bloot talent, of doen jy baie stemoefening? En neem jy nog sanglesse om jou vaardighede te slyp?
Ek is geseënd met my talent, maar jy moet woeker daarmee, so ek oefen ook baie.

Wat is die projekte oor die afgelope vyf jaar waarop jy die trotsste is?
Ek is ongelooflik bly oor die CD wat ek en Dozi opgeneem het. Ek het nooit gedink ek sou iets opneem met liedjies wat ek nie self geskryf het nie en noudat ek dit gedoen het, is ek dankbaar dat ek iets nuuts probeer het!

Klik ook by www.nianell.co.za