Ons praat met

60 Sekondes met Willie Strauss

Daai een met die vlerke, Willie Strauss se nuwe vertoning, is iets wat hy uit sy lyf moes kry. Dis ‘n show wat hom geleer het om stil te word. Om te luister na die engele rondom hom.

Hy het met Phyllis Green gesels oor vlerke, liedjies en die magiese van sy spirituele reis.

Vertel my van jou nuwe vertoning, Daai een met die vlerke.
Ek wou baie graag ‘n konsert oor engele doen, iets met ‘n engel-tema. Asseblief, sê vir die mense ek gaan nie Helen Steiner Rice-versies opsê (nie dat daar iets fout is daarmee nie) of preek in my show nie. Ek hou konsert. Ek en Lizz Meiring het weer saam die teks geskryf en sy doen ook die regie.

Waar het jy eerste die gedagte gekry om iets oor engele te doen?
So twee jaar gelede het ek in die Renaissance-gemeente in Pretoria gesit en die preek het oor engele gegaan. Weet jy, dit was asof daar ‘n switch in my kop aangeskakel is en ek het net besef dis die tema vir my volgende show. Ek werk lank aan ‘n show. Elkeen is “rêrigkipêrig” iets wat uit my lyf kom. En ek is op ‘n spiritual journey. Hierdie is ‘n magiese produksie vir my. Ek moet elke nou en dan stilstaan en myself knyp oor almal wat saam met my aan die show werk. Almal en alles het net saam gebeur.

En jou eie vlerke?
Hulle is baie klein, maar ek voel hulle darem. Die meeste van die tyd steek ek hulle nog weg.

Wie werk saam jou?
Die duiwel dra Crocs, wat veertiende op die KKNK se lys van top-20-vertonings was, moes ek dit met ‘n goeie show opvolg. Sanna Swart, daai wonderlike beeldhouer (sy’s die enigste vrouebeeldhouer wat haar eie gietery het), het vir my ‘n engelbeeld uit yster gemaak. Dis een van die visuele elemente in die vertoning. Ek noem hom Daai een met die vlerke. Sy gaan ook ‘n beperkte hoeveelheid klein bronsengele maak, wat by die konsert te koop sal wees. Dan het Lynette ten Krooden die most amazing skildery gemaak, wat die doek is waarteen die hele produksie afspeel.

Waaroor gaan die konsert?
Dit gaan oor ‘n plattelandse Krismis-konsert en elkeen van daai plattelandse karakters se journey. Daar is ‘n sterk element van celebration. Dis karakters en insidente waarmee almal kan identifiseer.

Watter gedagte wil jy by mense wat na die vertoning kom kyk agterlaat?
Dat jy in stilte met engele kan praat. Hulle is die hele tyd daar. Ek wil jou ‘n bietjie trigger oor engele en wil hê jy moet met ‘n ander gevoel oor engele daar uitstap. Ek put geweldige vreugde uit die projek.

Daai een met die vlerke se musiek is op jou nuwe CD, Ek kon sweer.
Ja. Ek het ‘n klomp liedjies geskryf en Anna Davel het party getoonset. Karin Hougaard het spesiaal vir my ‘n liedjie geskryf. Christa Steyn het ook musikale verwerking vir my gedoen. Al die liedjies pas perfek in die show in. Wat my baie opgewonde maak is, al die goed wat net so in plek val. Dis vir my ‘n ongelooflike voorreg om saam met Christa te werk.

Hoekom?
Net oor Christa se manier hoe sy musiek hanteer en hoe sy my op my beste laat klink wanneer ek sing. Sy het my as performer na ‘n nuwe vlak geneem.

Hoe verskil dit van hoe jy voorheen gesing het?
Christa se verwerkings is nommerpas vir my. Ek is ‘n vertolker en Christa verwerk musiek met passie. Mense sê vir my hulle kan die emosie in my nuwe vertolking hoor. Dit was vokaal vir my ‘n uitdaging, want ek wou hierdie songs reg sing. Ek sê mos die engele het in die ateljee rondgevlieg.

Wat hoor ek van “Willie se Engel se tee”?
Ek love tee, maar uit ‘n outydse silwerpot en geskink in ‘n koppie. Ek het nou my eie tee, Willie se Engel se tee, wat ek spesiaal bekend stel saam met hierdie vertoning. Elke teesakkie het ‘n Afrikaanse slagspreuk op – om vir ligter oomblikke en inspirasie-oomblikke te sorg. Die tee word saam met ‘n spesiale teekoppie verpak en sal by vertonings beskikbaar wees.

* Daai een met die vlerke is op 21 Julie by die Centurion Teater te sien, bespreek by Computicket. Op 25 Julie by die Pierneef Teater, bespreek by 012 329 0709. En op 1 Augustus by die Pro Musica Teater, bespreek by 011 674 1356.

** Die CD Ek kon sweer is reeds by www.take2.co.za beskikbaar.

*** Luister hier na sy liedjies.

  • Baie mooi Willie. Ek hoop jy verkoop tonne. Skryf nou n klomp orr die kat,Stellenbosch se kat, die kaalkat, die kat man en maak dit n kat cd.
    Liefde,
    Taldi katte

  • Theresa Fouche

    Johan julle MOET eendag na een van sy shows gaan kyk. Dis rerig baie goed.

  • Carina Barnard

    Ek kan nie wag vir jou show in die Kaap nie Willie, sien jou beslis dan – en hopenlik bring jy somr nog n katkind saam!!

  • Elizabeth Swart Gauteng

    Ek het albei jou vertonings baie geniet. Dit is verfrissend anders, natuurlik, en elkeen het n les. Soms n traan soms histeries van snaaksheid. Jy het die vermoe om die gehoor saam met jou op jou reis te neem. Die die storielyn van jou vertonings vloei malkik en mens wil nog he wanneer die gordyn sak. Ek sien uit na wat volgende uit jou en jou kreatiwe span se penne gaan vloei. Sterkte met die Klein karoo fees die wat nie jou vertonings bywoon nie mis iets groots.