Ons praat met

60 sekondes met Yudhika Sujanani

Dis waar ek Yudhika Sujanani ontmoet. In haar kombuis in haar huis in Fourways, Johannesburg, agter die stoof waar sy doenig is met die geregte vir my eerste kennismaking met die Curry Club se meesteres en sjef. Die klub bedryf sy reeds die afgelope jaar as ‘n manier om plaaslike liefdadigheidsorganisasies te ondersteun. Phyllis Green het vir haar ‘n paar vrae gevra:

Hoe het die Curry Club begin?
Nadat ek my restaurant in Fourways Gardens verkoop het, hou ek my besig as ‘n persoonlike sjef, geleentheidspreker en handelsnaam-ambassadeur (brand ambassador). Ek gee ook kooklesse, maar ek is mal oor kook en kos en wou my passie uitdra na nog meer mense. Terselfdertyd wou ek ook ‘n bydrae lewer tot liefdadigheidsorganisasies en ek het ‘n manier gesoek om my twee behoeftes met mekaar te versoen. So het ek op die idee van ‘n curry club gekom. Een keer ‘n maand hou ek ‘n ete waarvan ek ‘n gedeelte van die inkomste aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van my keuse skenk. Ek kan my wonderlike kerries kook en mense kan meer daaroor leer en heerlik kuier. Dis groot pret.


Waar kom jou liefde vir kos vandaan?

Van die vroue in my familie. My ouma Nan en my ma, Gladys, het my geleer kook. Ek het as kind my tuiswerk in die kombuis gedoen en was so heeltyd blootgestel aan hul vaardighede en liefde vir kook. Dis ook iets wat ek vandag met my kinders, Hetal, Tanvi en Rushil, doen. Wanneer ek kook, is hulle altyd by my in die kombuis. Ek maak die leerdery pret en stuur hulle tuin toe om die kruie vir die geregte te gaan pluk en hulle leer hoe om die speserye bymekaar te sit vir die verskillende geure. Dit leer hulle om hul sintuie te gebruik. Ons bring sodoende ook gehaltetyd saam deur.

Hoekom is jy betrokke by liefdadigheid?
Ek het dit as kind nie breed gehad nie. Ons was ontsettend arm. Dit was baie moeilik. Al wat ek soms as kind nodig gehad het, was om te sien iemand gee darem om. Dit sou ons omstandighede meer draaglik gemaak het. Dit het my lewensfilosofie geword om betrokke te wees op my beskeie manier. Ek spits my veral toe op organisasies wat op die lot van kinders fokus, soos die Starfish Greathearts Foundation, Door of Hope en Choc. Ek het ‘n kookboekie met my twintig gewildste kerries gepubliseer en ‘n gedeelte van elke boek se verkope word aan Starfish geskenk. Wanneer groepe bespreek vir ‘n ete, word ‘n gedeelte van die inkomste ook aan ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk. Ek word ook bygestaan deur Spekko Rice wat elke maand kos skenk aan 34 gesinne.

Jy het ook jou eie reeks speserye.
Ja, ek is ongelooflik opgewonde daaroor. Ek maak dit nog op die outydse manier. Elke mengsel word spesiaal gerooster en per hand met ‘n koffiemeuletjie gemaal. Dis die speserye waarmee ek kook. Dis die basiese gereedskap vir mense wat kerrie wil kook. Die een waarna ek die gekste is, is my Magic Masala. Ek gebruik ook geen preserveermiddels in my reeks nie, alles is heilsaam en natuurlik.

Waaraan werk jy nou?
Ek is besig met ‘n nuwe kookboek en is baie opgewonde daaroor. Ek hoop dit gaan uiteindelik ‘n reeks word.

Het jy ‘n gunsteling-gereg?
Lamskerrie, maar dit moet regte aartappels in hê. Die aartappels moenie blus wees nie, die sous moet in dit intrek. Ek voel so geseënd vandag. Net om te kan eet. Ek het regtig met niks gekom en deur harde werk en toewyding vir my en my kinders ‘n lewe geskep.

*Om te bespreek vir ‘n ete of klasse kontak Yudhika by 079 511 0952 of info@yudhika.com.