melloney_marais
Ons praat met

7de Laan laat jong akteurs se drome waar word

William Michaels (23) van Heidelberg en Melloney Marais (29) van Atlantis se puik spel tydens vanjaar se Eden-dramafees vir amateurtoneel het dié deur vir hulle oopgemaak. Albei is lede van die Kairos-dramagroep, wat as die wengroep by die fees bekroon is.

Die toneelstuk Up in Smoke is deur Michaels geskryf en takel ernstige sosiale kwessies soos dwelms en bendes op ‘n humoristiese wyse. Vanweë die groep se sukses by die fees het hulle ook die geleentheid gekry om die stuk by die Baxter-Zabalazafees in Kaapstad, asook by vanjaar se KKNK, op te voer.

Michaels is al ‘n geruime tyd by amateurtoneel betrokke, maar Marais het eers in Mei verlede jaar haar liefde vir die teater ontdek. Hul besoek aan die 7de Laan-stel was albei se eerste kennismaking met televisiekameras.

Volgens Michaels is dit regtig ‘n droom wat vir hom waar geword het. “Ek het hard hiervoor gewerk en soek al lankal so ‘n geleentheid.”

Vir Marais, wat deur ‘n moeilike tyd is toe sy albei haar ouers verloor het, bied dit ‘n kans om haar lewe in ‘n nuwe, positiewe rigting te stuur. “Dis wat ek wil doen. Nou gaan ek nie ophou nie.”

Die Eden-dramafees, wat in samewerking met die departement van sport en kultuur gehou word, is ‘n saak waaraan 7de Laan se vervaardigers graag hul steun gee. Volgens die sepie se lynbestuurder, Colin Howard, is hulle altyd op soek na nuwe talent onder Afrikaanssprekende akteurs.

En as hierdie jong kunstenaars se oudisies en klein rolle goed genoeg is, is daar altyd ‘n kans dat hulle teruggeroep kan word vir groter rolle.

“’n Geleentheid soos hierdie bied akteurs blootstelling aan teater- en televisiegehore en moedig hulle aan om te streef na die volle ontwikkeling van hul potensiaal,” sê Moeniel Jacobs, die departement se projekbestuurder: drama-ontwikkeling, wat die twee akteurs na Johannesburg vergesel het.

“Ons is dankbaar vir 7de Laan se ondersteuning in die saak.”

Michaels en Marais sal in die episode van 1 Mei te sien wees – Michaels in die rol van ‘n fotograaf by ‘n geselligheid en Marais as ‘n vrou met wie Gita se handlanger, Alan, in Oppiekoffie sit en konkel.