Ons praat met

7de Laan se Aggie – “Dis ‘n vol dag om in ‘n sepie te speel”

Sy het met Marguerite van Wyk gesels oor onder meer haar lekkerste en moeilikste oomblikke by 7de Laan en hoekom sy daarvan hou om die karakter Aggie te vertolk.

Wat was jou lekkerste oomblik by 7de Laan?
Ek dink dit was toe Paula ontvoer is en Mandla, Altus en Aggie moes gaan om haar te red. Dit was pret, maar ook harde werk. Dit was ‘n koue dag, maar ons het gedoen wat ons moes doen om die toneel te laat werk.

Wat was die moeilikste toneel om te verfilm?
Nie ‘n spesifieke toneel rondom Aggie nie, maar die groot partytjie-tonele (troues, danstonele en wedstryde) is altyd hectic, want dit behels altyd baie akteurs en gaskunstenaars op ‘n slag. Dié tonele is baie tegnies en almal – die tegniese span, regisseur, akteurs en vervaardiger – moet hard werk om die storie te laat werk en ‘lewendig’ te maak.

Is dit moeilik om ‘n sepie-aktrise te wees?
Die kykers sien slegs die finale produk, maar ek wil hulle graag vertel: Dis nie so maklik as wat dit lyk nie. Ons is reeds om 07:30 by die ateljee, dan begin ons ‘blok’ (oefen aan waar ons staan en wat ons sê), ons hare en grimering word gedoen en klere word uitgedeel vir die tonele en dan begin kleedrepetisies. Dis ‘n vol dag. Gedurende die dag is mens voortdurend besig om jou dialoog te oefen sodat jy perfek is teen die tyd dat jy begin met verfilming.

Hoe het jou toneelspel in 7de Laan jou loopbaan bevorder?
Tot ‘n groot mate. Ek het veel meer as toneelspel geleer. Veral rakende tegniese aspekte in die bedryf. Ek het geleer wat die vloerbestuurder, die beeldmengers en al die tegniese mense doen . . . die lys is lank. Dit het ook vir my die geleentheid gegee om verskillende mense in die bedryf te ontmoet wat vir my die geleentheid gee om ander dinge te doen omdat hulle hou van wat ek doen in dié sepie.

Is jy lief vir die karakter Aggie?
Ja. Sy is ‘n vars bries en baie, baie ambisieus. Sy is lieflik, aangenaam en ‘n snaakse mens.