Hennie by sy jongste dogter, Tali FOTO: Twitter

Ons praat met

7de Laan se Hennie Jacobs se stout kant

Ons ken hom jare as Diederik van 7de Laan, maar Hennie Jacobs se talente strek veel verder. By vanjaar se KKNK het hy drie uiteenlopende rolle vertolk. En sy nuwe album is nie lank gelede nie uitgereik. SARIE het onlangs met hom gesels …

Jy lyk soos ’n soet skoolseun met jou netjiese hare en kuiltjies. Is Hennie ’n bietjie stout ook?

Ek het baie nonsens aangevang toe ek jonger was. My naam is op skool van die leerlingraadlys afgehaal nadat ek skelm gerook het. My ma was ontvangsdame en het so skaam gekry toe die hoof my uittrap. Die ware Hennie kom gewoonlik na vore in die keuses van karakters wat ek speel en veral in my musiek. Dis soos terapie vir my. As ek enige emosie in my eie lewe wil aanspreek, of dit nou hartseer of blydskap is, kies ek ’n karakter waarmee ek die spesifieke emosies ten volle kan uitleef en oplos. Met my musiek skryf ek liedjies wat luisteraars opbeur, hoop gee.

Waaroor voel jy sterk?

Ek glo jy moet jou persepsies verbreed en elke dag probeer om ook ander te help om dit te doen. 7de Laan speel ’n belangrike rol hierin omdat dit ’n multi-kulturele sepie is en al hoe meer só word. Ons kry dalk baie kritiek daaroor, maar al is die kritiek ’n bietjie eng, beteken dit ons het jou bereik en jy’t daaroor gedink.

Hennie Jacobs kry soos ’n marionetmeester dit reg om byna tegelyk verskillende rolle seepglad te vertolk. “Hoe meer uiteenlopend die genres, hoe beter,” sê hy oor sy drie rolle by vanjaar se KKNK FOTO: Phyllis Green

Hennie Jacobs kry soos ’n marionetmeester dit reg om byna tegelyk verskillende rolle seepglad te vertolk. “Hoe meer uiteenlopend die genres, hoe beter,” sê hy oor sy drie rolle by vanjaar se KKNK
FOTO: Phyllis Green

Wat is jou grootste uitdaging?

Om werk te skep en vir my gesin te sorg. En genoeg gehaltetyd saam met my vrou, Marissa, en ons twee dogtertjies, Nua (4) en Tali (1), deur te bring. Jou prioriteite verander wanneer jy ’n gesin het. Jy kom agter waaroor die lewe regtig gaan.

Wat wil jy jou dogtertjies leer?

Ek wil hulle met liefde en respek vir hulself en ander grootmaak. Hulle moet sterk wees, opkom vir hulself. Ek is op skool geboelie omdat ek so maer is; ek wil nie hê hulle moet op ander mense neersien nie. Om op te kom vir myself is iets wat ek eers later in my lewe begin doen het. Dis nonsens dat mense oor jou loop.

Hennie by Tali (links) en Nua (regs FOTO: Twitter

Hennie by Tali (links) en Nua (regs)
FOTO: Twitter

Waarna sien jy uit?

My nuwe album, Dit is die land, is pas uitgereik en ek werk aan ’n aksiefliek [nog ongetiteld]. Maar bowenal sien ek uit na tyd saam met my gesin.