2229
Ons praat met

‘7de Laan’ se Maria oor haar uitdagings in die Laan

Sy het met Marguerite van Wyk gesels oor hoekom sy dit so geniet om dié karakter te vertolk, waarom sy dink Danie Odendaal is ‘n goeie vervaardiger en hoekom sy dink dié sepie werk.

Noem van die grootste uitdagings as aktrise die afgelope 10 jaar op die stel van 7de Laan:

Die grootste een was Afrikaans. Ek het nog nooit so baie Afrikaans gepraat soos wat ek hier doen nie. Soms wou ek weghardloop! Maar met die hulp van die dialoog-afrigters voel ek nou baie gemaklik.

Hoekom dink jy wérk 7de Laan?

Dit is gewild onder swart en wit mense. Baie swart mense wat dit kyk, is mal daaroor. Dit gaan oor ‘n gevoel van ‘behoort’. Die gemeenskap – swart en wit – voel dat hulle daarmee kan identifiseer.

Wat het dié sepie jou oor jouself en oor toneelspel geleer?

Geduld. Van vroegoggend tot laataand. Ek weet mense sê dit is die hurry up & wait-bedryf en ek speel reeds lank toneel, maar geduld is waaroor dit hier gaan. Soms speel jy slegs in een toneel, maar jy verlaat die stel eers saans om 19:00. Daar is dialoog-afrigting, mense wat jou leer hoe om Afrikaans reg uit te spreek. Daar gaan soveel voorbereiding in elke toneel. Ek dink dit is hoekom die gehalte van die sepie so goed is. Die vervaardigers en regisseurs bestee soveel tyd aan die fynste besonderhede en daar word van ons as akteurs verwag om dieselfde te doen.

Hoe is dit om saam met Danie Odendaal, die vervaardiger, te werk?

Danie is soos ‘n pa vir ons almal. Hy verstaan ‘n mens baie goed en toon altyd begrip. Hy is ‘n goeie man wat regtig omgee vir sy werknemers en hy is trots op sy produk en almal wat daarby betrokke is. As ‘n mens sien hoe passievol hy oor 7de Laan is, kan jy nie anders as om ook jou beste vir hom te gee nie.

Hoekom geniet jy dit om die karakter Maria te vertolk?

Sy is ‘n sterk mama. Sy is soos almal se ma in Hillside. Ek hou daarvan dat sy so uitgesproke is, maar ook baie lojaal. Sy is nie bang om haar sê te sê nie. Sy is iemand met wie jy nie sommer mors nie! Dís waarvan ek hou.

  • Rebekka

    Ek voel behoorlik siek as ek n episode mis. Die gehalte van die akteurs is hoog. n Mens leef jou in en will sommer van die rusbank af help wanneer daar probleme is. Hou so aan!

  • Christien Scheepers

    Sewende laan is soos aand godsdiens. Ons familie en vriende weet as jy so onbedagsaam is om tydens Sewendelaan op te daag , sit jy en bly stil totdat dit verby is!!