Ons praat met

Adeline Mocke oor haarself

Wat is jou beste eienskap?

Ek het geleer om elke mens en situasie op sy eie te hanteer, nie te veralgemeen nie en almal te waardeer en te respekteer nes hulle is. Dit het my tot dusver baie gehelp in die vermaakwêreld.

En die slegste een?

Ek gee nie my lyf genoeg rus nie. My bestuurder raas knaend omdat ek myself te hard druk en nie genoeg “asemhaal” nie. Hy het seker ’n punt beet.

Waarsonder kan jy nie lewe nie?

My selfoon! Dit bring my vriende en familie nader aan my. Ek het in Februarie vanjaar van Kaapstad na Johannesburg getrek om op my musiekloopbaan te fokus.

Wat maak jou hartseer?

So baie mense volg nie hul drome nie. Jy moet jou passie 24/7 uitleef. En armoede en hongersnood, in Afrika, ja, maar ook op ons voorstoep in Suid-Afrika.

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het?

My ouma het altyd gesê (en ek pas dit steeds toe): “As jy nie kan deel wat jy het nie, verloor dit sy waarde.”

En jou beste raad vir ander?

Dis ’n cliché, maar ek glo vas as jy ’n passie vir iets het, moet jy dit ’n kans gee. Respekteer jouself en jou medemens en gaan voluit vir die dinge waarin jy glo.

Wat was die aakligste oomblik in jou lewe?

Toe ek gehoor het my pa, Avril, het kolon- en lewerkanker. Hy is nou in remissie.

Wat maak jou gelukkig?

My familie, vriende, sang, aanhangers. En die wete dat ’n ongelooflike loopbaan vir my voorlê solank ek my deel doen.

Waar is jou gunsteling-plek om van alles weg te kom?

Daar is twee: Lambertsbaai (waar my ouers deesdae woon) en die Drakensberg.

Jou gunsteling-kos?

Braaivleis en potjiekos.

Hoe hou jy jou lyf so mooi?

Ek hou baie van eet. Dus sorg ek vir balans deur ook baie te oefen.

Wat weet mense nie van jou nie?

Ek is versot op skryfbehoeftes, alle kleure en geure!

Het jy ’n kêrel?

Dis persoonlik, jammer!

Waarvoor is jy bang?

Ek wasaltyd bang vir perde. Onlangs moes ek vir ’n Pasella-fotosessie op een ry . . . Nou is ek alte gemaklik met hulle. Wat my regtig bang maak, is as mense na aan my seer kry of in die moeilikheid is.

Jou lewe in 3 woorde?

’n Lekker avontuur.

  • HENDRIK

    EK DINK SY IS WONDERLIK,, TE GOED OM WAAR TE WEES, N ENGEL OP 2 BENE.
    MOOIER, AS MOOI EN NET N IETSIE EKSTRA,, EK HET EERS ONLANGS VAN HAAR
    GEHOOR ,, EN SAL NOU ALTYD BIETJIE DIE TV DOP HOU…..