sr1303_anel_alexander_5_
Ons praat met

Aktrise Anel Alexander antwoord lesers se vrae + wys haar foto-album

Anel Alexander kyk onthuts na die drie lagies bruin vloeistof onderin die glaskoppie wat die kelnerin voor haar neersit. “Nee, hierdie is nie mokka nie,” keer sy. “Ek weet hoe lyk mokka, dis my heel grootste gunsteling in die wêreld.”

Die warrelwind rooikop, besaai met sproete, beduie energiek: “Dis warm-sjokolade met ’n enkel espresso in!”

Toe die regte drankie opdaag, lag sy ingenome. “James, my man, sê altyd life’s too short for bad coffee.”
James Alexander, net soos sy ook ’n akteur, kon net so wel gesê het die lewe is te kort vir al die dinge wat hulle nog wil doen. Hy wil ’n Oscar wen, sy in ’n Broadway-vertoning sing en dans. Hulle wil oorsee gaan werk en leer … En dan is daar nog al die wonderlike flieks wat hulle saam wil maak.

Dié gedugte span het al die flieks Discreet (2008) en Semi-Soet (2012) vervaardig – die eerste vernaamlik omdat hulle hoofrolle daarin wou vertolk, en Semi-Soet (wat in Februarie op kykNET gewys word) omdat hulle toe al deur ’n taai leerskool was en weer ’n bydrae tot ons rolprentbedryf wou lewer.

DIS WAT JULLE VAN HAAR WOU WEET

Jy het ‘n aangenome suster, wat is die grootste les wat jy by haar geleer het? – Anelia Jordaan

“Pulane (22) het in Desember met ’n Amerikaner, Phillip Palmer, getrou. Ek was saam en ons het ’n wonderlike tyd gehad. Sy was nog altyd ons sonskyn-sussie en is die positiefste mens wat ek ken. Almal wil altyd om haar wees. Omdat ek ’n groot perfeksionis is met geweldig hoë standaarde – waaraan die wêreld natuurlik nooit voldoen nie – is ek dikwels die glas-is-halfleeg soort mens, terwyl Pulane my baie uitdaag om ’n glas-half-vol mens te wees.”

Wat wys jou navorsing, waarom wend mans hulle tot prostitute? - Lorna Louw

“Mans besoek nie prostitute omdat hulle mooi is nie, maar omdat hulle seksualiteit verstaan. Hulle begryp iets van die mag van hul lyf en wat hulle aan mans kan doen. En hulle gebruik dit.

Praat met jou man, waag ’n bietjie meer. Daar is baie gesonde maniere om kinky goed saam met ’n man te doen. As jy nie weet hoe nie, kry hulp, daar is goeie boeke deur seksterapeute. Dis ’n tweerigtingstraat: Mans moet minder verwag en vroue moet meer gee.”

Wat is jou regte haarkleur? - Paula Rademeyer

“Ek het eintlik muisvaal, bruin hare met ’n rooi skynsel, maar dink aan myself as ’n rooikop. In 2003 het ek my hare blond gekleur vir die kabaret Blondes, en moes toe ook vir ander rolle ’n blondine wees. My hare was in ’n swak toestand van al die stilering en ek moes dit afsny. Vir die eerste keer in sewe, agt jaar is my hare weer rooi.”

Akteurs en aktrises sê altyd dat hulle hul volkome inleef in hul rolle. 
Geld dit ook vir soene in liefdestonele? - Lee Roux

“Ek en James is nie blind vir die gevare van hierdie soene nie, maar ons weet ook dat dit soms deel van ons werk is en ons probeer professioneel wees daaroor.

Maar onthou, dis nie romanties nie. Daar is baie mense rondom jou, en die kamera is teenaan jou gesig. Die soentoneel met Nico Panagio in Semi-Soet is drieuur die oggend geskiet en ek het byna doodgegaan van die koue.”