Elize Cawood

Elize Cawood

Ons praat met

Aktrise Elize Cawood troef servikale kanker

Toe Elize Cawood die oproep kry, het sy geweet daar is fout. Haar ginekoloog wou haar en haar man, die akteur Wilson Dunster, onmiddellik in sy spreekkamer hê. Abnormale selle is met ’n roetine-Papsmeer in haar baarmoedermond (serviks) gevind. ’n Biopsie is gedoen. Sy het servikale kanker.

Ons ontmoet mekaar dag en datum presies drie jaar later. Die groot skrik is verby. Ná twee jaar is die kanse min dat die kanker sal terugkom. Sy lyk goed, al is sy steeds 6 kg ligter as vóór die behandeling. (Sy sukkel nog om gewig aan te sit.)

Ons het dié geliefde aktrise met die jare leer ken as aards en sonder fieterjasies. En net só het sy die kanker die stryd aangesê.

Dis Vrydag, 13 Oktober 2006. Ek het pas gehoor ek het servikale kanker. Ek sê vir Wilson ons moet klaarkry hier by die ginekoloog; ons moet ry. Ons moet vanaand op die verhoog wees met ons vertoning, Art of Charf. Ons loop in stilte. Ek wil hardloop, ek het so geskrik. Maar my knieë is jellie, ek kan nie hol nie.

Ons is albei flou van skok, sê ek in die kar vir hom. Maar ons moet die skrik op ys sit; ons kan nie dat dit in ons kom nesskop nie. Die mense het betaal om ons te sien optree.

Ek het kanker, maar ek voel nog net so goed soos die vorige dag. Dis nie ’n rede om nie die show te doen nie. Ons kan môre verder skrik – en daaroor praat. Ons kom by die teater, pak ons toerusting uit, toets die klank, doen ons grimering en trek ons kostuums aan. Ek weet tot vandag nie hoe ons deur daardie vertoning gekom het nie. Toe ons die aand by die huis kom, was ons gedaan.

Op ’n manier was dit ons behoud. Die volgende dag was dit minder erg.

Daar was geen simptome nie, maar die gewas was reeds 2 cm groot. Ek het myself eers gekasty omdat ek 18 maande gewag het om vir ’n Pap-smeer te gaan. Sê nou maar ek het ná ’n jaar vir my ondersoek gegaan, soos my gewoonte was? Dan was daar dalk net ’n blerts van iets wat met ’n biopsie verwyder kon word.

Maar ek kon nie aanhou om só te dink nie. Ek het geweet ek moes daarmee vrede maak.

Niemand kon my op die volgende agt weke voorberei het nie. Ek moes vyf dae van die week bestraling kry. Tussendeur was daar chemoterapie.

Aan die begin was dit niks. Ek het op ’n bed gelê terwyl ’n radioloog my ’n paar minute lank bestraal. Ek het uitgestap en gedink: Piece of cake! Die eerste twee weke het ek goed gevoel. Teen die derde week toe vat dit my. Hierna het dit net slegter gegaan. Ek het toe reeds twee chemoterapie-sessies gehad.

My immuunstelsel was afgetakel en ek het infeksies gekry. Ná ’n be-handeling het ek gewoonlik in die bed geklim: Jy is net so onbeskryflik móég. Maar ek het elke dag opge-staan, gestort, my mooigemaak en kos gekook. Dit was my manier om te baklei. Ek kon nie tob oor “wat as” of “hoekom” nie.

Ek het besluit ek gáán gesond word.

Dit was ’n stil tyd, maar ons het steeds baie gelag. Dit was nog altyd my behoud in enige situasie. My dae het om die behandeling gedraai. Dit het my uit die bed gekry.

Wilson sê dit het gevoel of ek my weke lank in die fetusposisie opgekrul het.

Omdat jou immuunstelsel so afgetakel is, kan jy nie tussen groot groepe mense kom nie. Jy kan nie gaan fliek of inkopies doen nie. Jy raak geïsoleer.

Wilson kon eers nie die woord “kanker” sê nie.

Ek wou hê ons moet dié ding op sy naam noem, want dan raak dit minder bedreigend. Anders is dit iets wat in die donker skuil. Solank dit “meneer” is, is dit bedreigend. Maar as dit eers “Piet” word … Piet kan jy hanteer. Ek het nie vir mense gesê ek is siek nie. Ek het gesê ek het kanker.

’n Ou kennis by ’n holistiese apteek in Johannesburg het gesê ek moet met “daai ding” in my lyf praat – dat ek dit uit my lyf moet kry. Ek het dit gedoen. Ek het gesê: “Gee pad uit my lyf.

Ek soek jou nie hier nie;

jy is nie welkom nie.”

Ek dink dis ’n manier om positief te bly. Dis maklik om in selfbejammering te verval en te vra hoekom dit met mý gebeur. Dan kan jy netsowel opgee. Ek was nie bereid om dit te doen nie. Ek het nog te veel om te doen.

Wilson, my man vir 28 jaar, my lover vir 31, was ongelooflik. Hy het so mooi na my gekyk; al die inkopies gedoen. Maar ek kon sién hoe bang hy is iets gaan skeefloop. Dat die kanker erger gaan word. Dis of hy nie geweet het hoe om aan my te vat nie; asof ek gaan breek as hy dit te hard doen.

Luke, my seun, het gereeld by my op die bed kom sit. Hy verwoord nie maklik wat hy dink en voel nie. Hy’t net met sulke bekommerde oë na my gekyk. Hy wou heeltyd weet of dit regtig nodig is dat die dokters my so siek maak. Dit lyk dan of daar niks fout is nie. Hy was net 17. Dit was onregverdig dat hy op so ’n jong ouderdom daarmee gekonfronteer moes word.

Jenna, my dogter (nou 22), het in Londen gewerk. Sy het my eers gesien toe sy Kersfees kom kuier het. Die behandeling was toe al verby. Ek was nog geswel van die kortisoon. Dit het my beter laat lyk; nie so maer nie.

Daar was baie ligter tye ook. Eenkeer het ek ’n werksessie met die tema “lyk beter, voel beter” by die Sandton Onkologie-sentrum (waar ek behandel is) bygewoon. ’n Vrou het ons gewys hoe om te grimeer en serpe stylvol te gebruik (vir dié wat nie pruike wou dra nie). Sterk chemoterapie laat jou hare, wenkbroue en wimpers mos uitval. Myne het gelukkig nooit uitgeval nie; my chemoterapie was lig.

Ek wou nie gaan nie – ek kon nie sit nie. My onderlyf was rou van die bestraling. Toe sê sy: “Kom! Ons gee vir jou twee stywe pynpille en ’n lekker, vet kussing!”

Daar was agt vroue van alle ouderdomme. Jy kon sien almal kry chemoterapie: Almal se gesig was dieselfde grys kleur. Maar só vrolik! Ek het afgebuk om iets uit my handsak te haal. En toe ek opkyk, is almal skielik kaalkop! Ek het nie agtergekom hulle het pruike op nie. Ek was die enigste een met hare. Ek het so sleg gevoel.

Dit was nie lank nie, toe begin hulle met hulself spot. Elkeen van daardie vroue is deur hel – en het die beste of die slegste van hul ervaring verwoord. Dit het nogal rof geraak. Die humor was baie donker. Maar ons het naderhand gehuil soos ons lag.

Dit was wat ons almal toe nodig gehad het – ’n goeie lagsessie. Ek weet nie of ons daarna beter gelyk het nie. Maar ons het beslis beter gevoel!

Hul positiwiteit en veglus was inspirerend. Dit het my aangespoor om nie in te gee nie. Ná die behandeling het my lyf stadigaan herstel. Ek gaan nog elke drie maande vir ’n Papsmeer.
Ek is oor baie dinge dankbaar. Ek het mense gesien met wie dit baie slegter gaan. Elke keer as ek by die onkologie-sentrum uitloop, het ek dankie gesê dat ek oukei is. Ek het nooit gedink ek gaan nié oukei wees nie. Ek het altyd geweet ek sal nie doodgaan nie. Die kanker was nog in ’n vroeë stadium.

Hier is ’n stukkie uit ’n gedig waarin ek my gevoelens ná my behandeling verwoord het:

Saliglik besef ek dat ek my nie meer met energiediewe hoef op te hou nie,
dat my tyd mildelik aan my geesgenote gewy mag word, dat
die wag voor die mond ’n day-off kan kry.
En … die diepste wete dat ek
met baie genade en die krag van
’n tier deur die donker gekom
het sodat ek weer die lig kan waardeer.

  • Olga Kruger

    Vroue besef nie altyd hoe belangrik dit is om ELKE jaar vir ‘n papsmeer te gaan nie. Dis nie vir een van ons lekker nie, maar ons moet gaan. Ek werk by ‘n ginekoloog in johannesburg, en ek kan nie vir jou sê hoeveel vroue daar aankom en dan het hulle vyf of 10 jaar laas ‘n papsmeer gehad nie.

    Die tegnologie het in die afgelope 10+ jaar so verbeter en die meeste abnormaliteite kan deesdae opgetel word lank voor dit ‘n ernstige siekte word.

    As jou dokter jou bel om te sê jy moet jou papsmeer herhaal oor drie of ses maande, DOEN dit asseblief. So baie mense kom dan eers weer oor twee jaar terug en kan dan nie verstaan as daar dringend ‘n biopsie of so iets gedoen moet word nie.

    Mens kan nooit jou gesondheid as van selfsprekend aanvaar nie.

  • annette

    Ai julle, ons hoop saam met Elize dat sy ‘n 100+ sal oudword – sy is pragtig. Ek is ookal na aan vyftig, lyk soos ‘n dogterjie en is gesond – maar niemand ken my vrees om DAAR te gaan lê vir ‘n ondersoek nie – ek kan net nie gaan nie, ek was jare trug vir ‘n smeer maar dis ‘n besluit wat ek moet diep oordink en kalmeerpille drink!! Kan julle dit verstaan? Is daar nog so iemand… ek vrees dit..

  • Marianne de Swardt

    Hierdie stories het my so verskrik ek gaan net vandag n bestelling by n ginekoloog maak.