sr1209_tinarie_lourens
Ons praat met

Aktrise oor haar ma se kankerstryd

Vir my ma… Só het aktrise Tinarie van Wyk-Loots haar SARIE Kanna-toekenning opgedra. Dis hoe haar vriende haar ken: iemand wat gee – vir mense, die natuur, en groot passie, die teater. Hier is ‘n uittreksel van ‘n onderhoud met haar in die September-uitgawe van SARIE.

My motor het kwalik gestop of sy bied aan om my swaar pakkaas te dra.

“Ek het ’n vuur vir ons gepak,” nooi ’n jong Audrey Hepburn-ewebeeld my binne. Haar swartbruin oë glimlag lewendig, haar wange gloei en sy het ’n fyn neus wat ’n beeldhouer na klei sal dryf. Tinarie van Wyk-Loots het vroeër vanjaar die SARIE Kanna-toekenning gewen vir haar toneelspel in Babbel, die bekroonde buitelugproduksie van Nicola Hanekom, en die laaste in ’n trilogie. Dit volg op Betésda (2010) en Lot (2011).

In Babbel slof haar karakter, Bevel, soms in militaristiese mansklere rond en is die tema, soos Tinarie dit stel: “Die wispelturige verhouding wat ons het met hoop.” Maar op dié grys wintersdag is sy ’n spatsel vrolikheid in haar geel rok, swart kouse en rooi skoene.

“Sy koop haar klere op vlooimarkte, by obskure Chinese winkeltjies – sy kan ’n winskopie enige plek uitsnuffel,” vertel een van haar beste vriendinne, Isabel Maartens, ’n vryskut-rolprentregisseur van Kaapstad. Tinarie lag skaam oor die Hepburn-vergelyking . . . “Ek is mál oor haar, hoewel my styl nie naastenby so klassiek en eenvoudig is nie. Dis veral haar aanhalings wat my beïndruk, soos ‘die belangrikste ding op aarde is om jou lewe te geniet – om gelukkig te wees – dit is al wat saak maak’.”

In haar ouerhuis op Stellenbosch brand twee kerse weerskante van die kaggel. Sy skink ’n glas rooiwyn, wys trots hoe mooi haar ma, Ansie, se tuin is en krul dan op in ’n gemaklike leunstoel. Hier woon sy al sedert Januarie vanjaar, toe sy uit haar Kaapse woonstel getrek het wat sy met haar Italiaanse pianiskêrel en wiskundige, Fabio Damiani, en twee katte, Ethel en Evette, gedeel het. Sy wil naby haar ma wees nadat kanker in 2008 by haar gediagnoseer is. (Ansie het ’n doktorsgraad in kultuurfilosofie en meestersgrade in sosiologie en musiek.) Sy was al male sonder tal in en uit die hospitaal, maar sy het chemoterapie in 2009 gestaak.

Tinarie se stiefpa, Gerrit, ’n gekwalifiseerde teoloog, wat haar help met haar ma se versorging, se bemoedigende woorde aan hulle is daagliks: “We are chasing daylight.” Sy het haar Kanna aan haar ma opgedra. “Is dit nie ongelooflik nie, my ma en stiefpa het haar suurstofmasjien saamgebring na die KKNK sodat sy na my kon kom kyk.”

Tinarie meen egter haar ma se siekte het haar in voeling gebring met dít wat werklik saak maak in die lewe.

“Klein tierlantyntjies dribbel weg. ’n Mens wonder dikwels wat is jou doel in die lewe. Op dié oomblik weet ek presiés. Ek moet hier wees vir haar. Dis nie altyd aangenaam nie, maar dís iets wat ek nog nooit ervaar het nie. Dinge waaroor ek vroeër bekommerd was en wat my van stryk af gebring het, is skielik net nie meer so belangrik nie.”

Tinarie van Wyk-Loots

Hulle stoei reeds ’n paar jaar saam-saam teen kanker.

“Ek het in 2008 die eerste keer, op pad na Europa vir vakansie, gehoor my ma is siek. In 2009 hoor ek wéér die siekte het hervat. Ek sou toe drie maande lank saam met die Royal Shakespeare Company in Stratford-upon-Avon en deur Engeland toer met die Baxter-produksie van The Tempest; teenoor die befaamde Shakespeare-akteur Antony Sher – my grootste droom. Dit was verskriklik en ek het nie
geweet of ek moet bly of terugkom nie. Sy het my verseker ek moet my speelvak voltooi.

“Skielik het dit vir my gevoel ek is besig met die banaalste beroep op die planeet. Ek het geweet dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie, dat my lewensuitkyk heeltemal sal verander en wanneer ek terugkom, gaan ons ’n lang, nuwe weg inslaan. My ma sou nog toetse moes ondergaan en chemoterapie kry.

“Ek het op die internet navorsing oor kanker gedoen, vitamiene vir haar aangeskaf, geween vir my mooie ma wat so swaar moes hê. Jy begin ’n wispelturige verhouding aanknoop met hoop en geloof.” Maar Tinarie is gewoond aan aanpassings. Sy moes al op sewe haar ouers se egskeiding hanteer.

“Ek was altyd ’n enkelkind. Toe word ek skielik die middelkind van vyf. My biologiese pa, ook Gerrit, ’n uroloog, is met sy derde vrou getroud en woon in Kanada. Ek het oor die jare geleer om geduldig te wees en dat almal in ag geneem moet word. Die ergste was om te sien hoe hartseer my ouers net ná die egskeiding was. Ek het geleer dat ’n verhouding ’n groot verantwoordelikheid is wat albei moet deel. Ek het ook gesien dis oukei om op jou eie te wees en dat jy nie jouself hoef te definieer deur jou lewensmaat nie.

“En wanneer jy jouself hopelik goed ken, kan jy saamgroei soos twee bome wat skadu bied vir baie, eerder as twee rankplante wat mekaar verstrengel. Nie dat ek dit al bereik het nie. Ek leer maar nog.”

Dis wyshede soos dié wat haar vriende bekoor.
Haar jare lange pêl Nico Dreyer, kantoorbestuurder by ’n Kaapse advertensiemaatskappy, sê sy is een van die onselfsugtigste mense wat hy ken, iemand wat dié soort skadu aan ander bied . . .

“Tinarie leer my die waarde van lewe. Neem nou hierdie ding met haar ma, sy laat selfs swaarkry maklik lyk. Byna soos sy toneel speel.”

Sy sê bloot: “Ek besef al hoe meer my ma is deel van my wese. Ons het baie gesprekke oor die dood. As ek haar verloor, sal ek haar net fisiek verloor, en natuurlik haar stem verloor. Maar jy is nooit voorbereid op die dood van ’n ouer nie, maak nie saak hoe oud jy is nie. Dis ’n voorreg om soveel tyd saam met haar te bestee. Ons drink tee, gesels in die bed, brei, hekel. Ons neem dit, soos my wonderlike oupa my altyd geleer het, net een dag op ’n slag. En ons bly lig en positief.”

Lees die volledige onderhoud in die September 2012-uitgawe van SARIE