Ons praat met

Aletté Winckler oor baba Simeon se koms + nuwe familiefoto’s

Met Simeon se koms om die draai, hoe kry jy dit reg om op die rooi tapyte te verskyn? Waar kry jy die energie?
In hierdie stadium is elke minuut saam met my man alleen vir my soos ‘n date. So, as ek die kans kry gaan ek dit vat! En menige swanger vrou voel nie altyd sexy en aantreklik nie, so ek is baie dankbaar vir ‘n geleentheid waar ons bietjie kan opdollie en moeite doen. Die energievlakke is nog redelik goed op hierdie stadium, maar ek kan nou begin agterkom na middagete wil hierdie ogies toeval.

Hoe het julle op sy naam besluit?
Met Lian was ek goed voorbereid (soos dit maar met ‘n eerste baba is). Voor ons uitgevind het wat die geslag is het ons ‘n dogtertjie- en seuntjie-naam gehad, alhoewel ek gewéét het ons gaan net die seuntjie-een gebruik. Met Simeon was dit heel anders, daar was nie tyd vir dink en droom oor ‘n naam nie. Ek het my vriendin gevra om saam met my te bid en te droom oor my baba (dit was die dag voor ek uitgevind het dit is ‘n seuntjie). Sy het vir my gesê sy het dit al gedoen en dadelik die gevoel gekry dat hierdie baba soos Samuel van die Bybel gaan wees wat God se stem kon hoor. Samuel is vir my ‘n mooi naam in Engels maar wou iets anders in Afrikaans hê. Ek het in my naamboeke gaan kyk wat Samuel beteken en dit was “God het gehoor” toe sy ma, Hanna, vir hom gebid het. Maar die naam is twee-ledig, hy sal God hoor en God sal hom hoor. Dit was vir my baie spesiaal. Ek het 2 aande in die bad gelê met die boek en ander name gesoek met dieselfde betekenis. Ek het op Simeon afgekom (ek het dit reeds gemerk voor Lian se koms want dit was vir my ‘n baie mooi naam). En toe wraggies, toe ek kyk wat dit beteken was dit presies dieselfde as Samuel. En net daar en dan was hy baba Simeon Carl (Heinz se naam) Winckler.

Aletté-Johanni Winckler

Hoe voel Lian oor sy bababoetie se koms? Dink jy hy gaan bietjie jaloers wees? En hoe voel dit vir jou om te weet dat jy binnekort nie nét meer vir Lian het nie en dat jy jou aandag tussen 2 sal moet verdeel?
Ek moet eerlik wees ek is bietjie bekommerd hieroor. Ons vertel Lian die hele tyd van “boetie” en hy soen my magie en ons het nou pas die cot en enkelbed uit Lian se kamer gehaal en in die babakamer gesit. Hy het nou ‘n groot bed, maar ek dink steeds nie hy besef lekker wat aangaan nie. Lian is versot op aandag en ek kan dink die aanvanklike aanpassing met ‘n nuwe baba gaan seker vir hom moeilik wees, veral omdat hy nou vir bykans 2 jaar ons alles was. Ons gaan regtig baie moeite met hom doen as Simeon kom om hom deel te maak van die proses, en ek sal graag ook elke dag nog alleen-tyd saam met hom wil hê. Ek moet ook sê ek kan dit nie dit indink om nog ‘n babatjie te hê en vas te hou en lief te hê nie. Al my vriendinne sê dit gebeur so natuurlik en jou kapisiteit van liefde verdubbel sodra jy daai baba vashou. Ek sien baie uit, maar ek is baie senuweeagtig!

Aletté-Johanni en Lian Winckler

Met ‘n lewe in die kollig, Heinz se optredes, jou eie baie besige skedule . . . Het jy hulp? Hoe gaan jy ‘cope’ met 2 kleintjies? Watter planne het jy gemaak om dit vir jou te laat werk?
Ek en Heinz het aan die begin van die jaar vir ons ‘n assistent aangestel en dit help alreeds BAIE, en dit gaan dit baie makliker vir my maak om af te skakel en net op die kinders te fokus en te weet dinge in die kantoor gaan aan.  Ek vat doelbewus 3 maande af om net “mamma” te wees. Lian is van Januarie af so 3.5 ure per dag in die skool en hy floreer, so in die oggende gaan ek net op Simeon fokus en in die middae sal Lian betrek word met als. Ons het ook ‘n “nanny” wat help deur die dag, maar net gistraand se ek vir Heinz: “Wat maak ek op naweke wanneer hy nie by die huis is nie en ek geen hulp het nie?” Sy antwoord aan my: “Daar is baie vrouens wat al met baie erger omstandighede die mas opgekom het.” So… nie baie simpatie nie..

Aletté-Johanni en Heinz Winckler

Aletté-Johanni, Heinz en Lian Winckler

Kry jy en Heinz dit nog reg om ‘n tydjie vir julleself af te knyp? Hoe werk julle dit so tussendeur julle skedules? ‘n ‘Date night’, ‘n vinnige gereelde ontbyt so in die week…?
Oe, jitte, vang julle ons nou uit. Ons het baie INTENSIES om dit te doen, maar eerlikwaar kom ons nie daarby uit nie. Ons alleentyd is gewoonlik na 7 in die aande wanneer Lian reeds slaap en ons ‘n paar van ons stories wat ons opgeneem het kan inhaal. Ons eet darem ook meestal elke middagete en aandete saam en ons werk darem ook in kantore REG langs mekaar ,so ons kry baie van mekaar te sien, alhoewel ons nie altyd alleen is nie. Ons gaan darem nou vir so 5 daggies bietjie saam met Lian Ballito nou voor Simeon kom, net om daai laaste alleentyd saam met hom te he en en ons gedagtes reg te kry oor die koms van Simeon!

  • Renette Henning

    Aletté – jy word al hoe mooier hoe ouer jy word!~!! Dis verseker die "mommy wees" wat jou laat straal ook.

  • Elize

    Sjoe jy is ‘n pragtige vrou Alette-Johanni, ek kan verstaan waarom Heinz vir jou lief is! Sterkte met die laaste naelloop, binnekort is julle vier!

  • Jana

    Hoekom kom Amor Vitonne by my op wanneer ek alweer oor Alette-Johanni en haar gesin se dinge lees … ?

  • Amelia

    Julle is n pragtige paartjie! Sterkte met die koms van julle nuwe baba.

  • Natasha

    Jana, ek het presies dieselfde gedink toe ek die artikel oopmaak. Hulle sorg dat hulle permanent in die tydskrifte is, vertel ons in detail hoe elke swangerskap vorder, en hou altyd hierdie perfekte lewe voor, maar agter die toe gordyne is daar maar altyd iets aan die broei. Hoop nie dis die geval vir die twee nie.
    Winckler gesin, ek hoop regtig nie julle volg in die vd Westhuizens se voetspore nie.

  • Anita Carstens

    jy is n ongelooflike mooi vrou en die swangerskap doen jou net goed. Julle is n pragtige gesin en baie sterkte met die nuwe seuntjie.

  • Valerie

    Ag nee, Jana, MOET daar sulke mense soos jy wees? Negatiewe gedagtes. Negatiewe uitsprake. Negatief oordeel. En nee, moet nie se dis realiteit nie. Hulle is nie die Vd. Westhuizens nie. Sy lyk op haar mooiste en ontvang die lelikste uitsprake van party lesers.Ek wonder..Gaan verby, kry iets om te doen.

  • Niekie Bushby

    Julle is so ‘n gorgeous gesin! Baie sterkte met Simeon se geboorte en mag God se seën elke dag op julle rus.

  • Isabella Niehaus

    Sjoe …hoekom lees mens ‘n artikel oor mense as jy niks van hulle lewens wil weet nie? As jy nie die artikel lees nie, hoef jy nie mislike kommentare te los nie!? Niemand dwing julle om dit te lees nie…dis uit vrye wil wat julle daarop gekliek het!!! Alette…steur jou nie aan die bitterbekke en geniet jou gesin en julle nuwe baba en julle lewe saam.

  • Marlize Gasson

    dis altyd vir my baie spesiaal om haar artikels of blogs te lees, want ons twee stap indirek die pad so saam. met my eersteling, is hul seuntjie presies twee maande voor ons sin gebore. en wraggies, nou met my tweede gaan dit presies weer so wees! En ook weer ‘n seuntjie vir ons!! so haar issues, vrese, bekommernisse en vreugdes is presies so my verhaal ook. dit maak dit baie meer spesiaal!!
    Baie geluk aan julle!!

  • Zenia Roodt

    Ek moet bieg, ek was bietjie lanklaas hier… maar darem net skaars op die skerm hoor! Ek hou baie van jul foto’s oor die klompie hierbo, behalwe dat ek graag na foto’s kyk, is die onderhoud met Alettè ook ‘n goeie kykie en ‘n vertroosting oor hoe sy die besige lewe hanteer. Goed om te weet dat sy en Heinz nog tyd maak vir mekaar. Sterkte met die bevalling, jy lyk nog pragtig!

  • Karin

    @Jana en Natasha – julle is regtig katterig. As julle nie van die twee hou nie, moet dit nie lees nie – dis nie al wat daar is om te lees nie. Dis voor die hand liggend dat Sarie haar/hulle gevra het vir die artikel en ook die foto’s. Ek dink hulle is 2 wonderlike rolmodelle van wie ek nog nooit ‘n skinderstorie of skandaal gelees het nie en wat hulle Christenskap werklik uitleef. Hulle het my seënwense. Boonop is hulle verlede jaar as SA se gunsteling glanspaar aangewys – deur die publiek nogals. Ek is seker dat daar baie swanger vroue daar buite is wat met haar kan identifiseer.

  • Petro

    Dankie vir die voorbeeld van geloof en vertroue!

  • Dominique Kotze

    Beste raad wat ek vir jou kan gee……betrek eersteling by ALLES van nuwe baba boetie……ek het dit gedoen met my 2 dogters en nie ‘n dag se jaloesie of afgunstigheid gehad nie…..hulle is 26 en 23 jaar oud vandag en die grootste van maats!

    Sterkte, dis nie maklik nou in die doeke en bottel stadiums nie, maar wanneer hulle skool toe gaan is daar die onbreekbare band tussen hulle en dit is dan lekker om hulle saam te sien groot word en die lewe te ervaar.

    Geniet elke dag van hulle baba en kleuterstadiums – DIT GAAN TE GOU VERBY!

  • Dalene Bergh

    Sjoe, ek weet nie hoekom lees die mense of gaan in iemand se blogs in wat so oordeel nie. Net ‘n engel met vlerke mag hom die reg toe-eien om regter oor ‘n ander se lewe te wees. Alette en Heinz kry dinge reg wat meeste van ons net kan van droom en dit is om in alles wat hul doen die regte balans te he. Die mense wat so negatief is wil ek net sê, omdat die lewe julle stief behandel, gee dit jul nie die reg om harde houe aan ander uit te deel nie. Alette en Heinz is SKATRYK, hulle het Vrede en Liefde en gee dit oral waar hul kom. Hul deel hul skatte uit. Alette, onthou net dis die bome wat die meeste wind vang, WAARVAN DIE WORTELS OOK DIE STERKSTE WORD !!!!!

  • Annelie

    Alette….jys pragtig.