Ons praat met

Alexa Strachan in nuwe Candid Camera-fliek

Rainbow Skellums deur die bekende rolprentvervaardiger André Scholtz word in Desember deur Ster-Kinekor uitgereik. Dis ‘n skreeusnaakse candid camera-fliek waarin sekuriteitswagte, pizza-afleweringsmanne, motoriste, ‘n bruid, restaurant-eienaars, taxi-passasiers, sakemanne en selfs die sanger Kurt Darren lekker uitgevang word. Die drie ”skellums” is akteurs Kevin Ehrenreich, Louw Venter en Alexa Strachan. Marguerite van Wyk het met Alexa gepraat oor dié rol, veertig word en hoe sy haar vriend Mathys Roets bygestaan het nadat hy vroeër vanjaar in ‘n motorfietsongeluk verlam is.

Dis jou eerste rol as aktrise in ‘n vollengte-rolprent. Hoe was dit?
Candid camera is vrek moeilik. Jy moet onthou dat die fliek nie oor jou gaan nie, maar oor watter reaksie jy uit jou arme slagoffer kan kry. Dan is daar natuurlik die ding om die slagoffer (en glo my, hulle ís slagoffers) voor die versteekte kameras te hou, en naby aan die mikrofone.

Jy speel die karakter van ‘n hoogswanger vrou wat met haar beskonke man (Louw Venter) argumenteer nadat ‘n pizza-afleweringsman ‘n pizza kom aflewer het. Jy begin kraam nadat Louw die woonplek verlaat en die arme pizzaman moet jou ondersteun. Vertel bietjie meer van dié toneel.
Ek was half ongelukkig, want altwee die slagoffers was ervare vaders, albei het al ‘n paar kinders en was by met die geboortes. So, toe die pyne kom, toe begin hulle time. Ek moes dus ook die pyne time vir geloofwaardigheid. Jy kan ook nie dat hulle aan jou ”maag” raak nie, dan sou hulle voel dis plastiek. André het van die begin af gevoel die slagoffers gaan weghol, ek het geweet hulle sal bly en my probeer help. Die ergste is dat ek soos ‘n groot skurk gevoel het, want ‘n mens buit mense se emosies uit. Beide mans was ongelooflik. Hul vroue is sekerlik baie gelukkig.

Hoe het die mense oor die algemeen op die poetse gereageer?
Nie almal lag nie. Party mense se ego’s is dalk bietjie groot, dan word hulle kwaad. Snaaks genoeg, veral vrouens. Dis soms nogal ‘n truuk om mense sover te kry om toestemming te gee dat ‘n mens die insetsels mag gebruik. Al lag hulle, wil hulle nie noodwendig hê die hele wêreld moet sien hoe hulle uitgevang is nie. Daar is ‘n hele paar wat botweg geweier het.

Wat het jy by die rolprentvervaardiger André Scholtz,geleer?
Ek het al saam met André gewerk. Dit was PG du Plessis wat my destyds met Andries Plak aan hom en Koos Roets afgesmeer het. Ek het belang gestel in die rolprentwêreld en ek was broke, want dis mos maar wat gereeld met ons teatersiele gebeur. PG het nog vir my gesê: ”Moenie my drop nie. Jy speel nou saam met die eerste span.” Die eerste ding wat opkom as mens aan André dink: onkreukbare integriteit. ‘n Ouskool-jintelman. Nie so volop in dié bedryf nie. Nadat hy my op PG se aanbeveling aangestel het, het hy my binne twee weke ‘n verhoging gegee. Min of meer met dié woorde. ”Ek het mos nie geweet waarvoor ek my inlaat nie, maar nou weet ek.” Ek hoor hy sê ek moet nog bietjie aan my people skills werk, dan sal ek oukei wees. Maar ek dink nie eens André gaan van my ‘n diplomaat kan maak nie.

Jy het op 3 September veertig geword. Hoe het jy dit gevier?
Pels van my het Fellowship of Rock and Roll in Mosambiek begin – onder andere Piet Botha, Bed on Bricks, Albert Frost . . . die menere van SA rock. Die fees het op 3 September die lig gesien. Ek het gedink dis nogal nice om vir my dié verjaardagfesie te reël. My broer en skoonsus het saam met my en my vriende gegaan. Ek was lanklaas in my lewe so broke soos nou. Een of ander tyd iewers in September gaan ek nog al my geliefdes nooi om my veertigste te vier. Soos alle hekse kan ek mos my verjaardagdatum kies. Ek beplan niks groots nie, maar om soveel as moontlik fun te hê.

Jy was vanjaar baie betrokke by jou vriend Mathys Roets se geldinsamelingsprojekte nadat hy verlam is. En nou? Mathys wil nie meer geld insamel nie. Hy staan nou weer op sy voete, of sit op sy eie wiele. Hy samel alreeds geld vir ander in! Ek en hy wou in die week sit en beplan aan wat ons met die Met Mathys Fonds gaan doen. Die idee is om die ding aan die gang te hou, maar direk gemik op ons bedryf.

Watter rol speel jou kinders in jou lewe?
Ag, hemel, hoeveel gigabytes het jy? My kinders is en bly terselfdertyd my grootste saving grace asook die ding wat my die meeste terughou. As ek hulle nie gehad het nie, het ek nie nodig gehad om ‘n adres en ‘n huis en ‘n kar en, en, en te hê nie. Ek is ‘n drifter. Eintlik nogal useless. Maar as dit nie vir hulle was nie, het julle my waarskynlik jare gelede in ‘n sloot opgetel. My oudste het pas sestien geword, so ons het baie om te vier vanjaar.

Sal jy graag in ander soorte rolprente wil speel?
As ek enigiets kon kies? In ‘n perfekte wêreld sou alle movies deur die Cohen Brothers gemaak word, so in enigiets van hulle of natuurlik enigiets waarin Meryl Streep ook speel. Ek sal eintlik enigiets doen solank ek nie jare later daarop terugkyk en skaamkry nie.

Wie is jou rolprent-ikone?
Meryl Streep
en Sandra Prinsloo is vir my onaantasbaar. En dan hang my mond oop vir die werk van Robert Altman, Guy Ritchie, Robert Rodriguez, Luc Besson, Eric Serra (vir daai soundtracks), Sean Penn, Benicio Del Toro, Gary Oldman (is daar ‘n beter villain as hy?), Michelle Pfeiffer (het die gode ‘n mooier mens gemaak?), Julianne Moore, Judy Davis, Mel Gibson (sy regie) . . .

Wat het jy by jou medespelers in Raibow Skellums geleer?
Louw is ‘n meesterlike improviseerder. Hy was altyd ‘n paar tree voor. Ek is nogal spyt ons kon nie meer saamwerk nie. Kevin is sekerlik een van die mooiste mense wat jy ooit sal leer ken – sag, simpatiek, fyn oplettend.