Ons praat met

Alison Botha oor haar vrese en hoop

Ek hoop . . .

’n Rolprent oor my lewe sal ’n verskil maak in die lewe van baie mense wat ’n traumatiese gebeurtenis beleef het. Die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Uga Carlini het my, soos soveel ander oor die jare, gekontak oor ’n rolprent, maar dit was nog nooit ’n brandende begeerte by my nie. Ek het geglo dit sal na my kant toe kom as die tyd reg is. Nadat ek haar ontmoet het en ons gesels het, het ek geweet sy is die regte mens. Maar daar moet nog baie dinge gebeur, soos finansiering vir ’n dokumentêre fliek, wat die grondslag sal wees vir ’n draaiboek.

dat ek in my kinders die waardes kan vestig wat my ma, Claire, my geleer het. Die manier waarop my ouers my grootgemaak het, het my beslis destyds gehelp om die aanval te verwerk. Hopelik kan ek die lesse ook so diep anker dat my kinders dit instinktief volg.

vir net die beste vir my seuns, Daniël (8) en Matthew (5). Ek is ’n enkelma sedert ek drie jaar gelede van my man, Tienie Botha, geskei is. Ons hanteer die saak rakende die kinders goed. Dit was nie ’n dramatiese egskeiding nie.

my kinders leer ook die boodskap wat ek in my motiveringspraatjies gee: Om deur moeilike gebeure te groei eerder as om die slagoffer te wees.

ek kan vir nog baie jare mense inspireer met die boodskap: As die lewe jou pootjie, kan jy letterlik weer jou lewe optel en aangaan.

mense leer uit my ervaring niks is vanselfsprekend nie. Jou lewe kan binne ure verander. Voor die aanval op my was ek nie so gefokus nie en het geleef asof daar altyd ’n môre gaan wees.

vir geluk en vrede en dat ek die regte keuses sal maak vir my en die kinders se toekoms.

[box:full:red:both]

Ek is bang . . .

Theuns Kruger en Frans du Toit, my aanvallers, kry parool. Om dit nie te vrees nie sal onnatuurlik wees. Maar om hulle te vrees, gee hulle steeds beheer oor my lewe, en ek gaan dit nie toelaat nie. Die publiek se steun was ongelooflik toe daar vroeër vanjaar ‘n moontlikheid was dat hulle parool kon kry. Ek was so verras dat soveel mense nog aan my gedink het. Ek wens eintlik daar kon nog meer fokus wees op die groter prentjie, nie net op my geval nie, want daar is soveel oortreders wat so maklik in aanmerking kom vir parool.

ek kan nie behoorlik vir my kinders sorg nie. Ek is die soort mens wat my oor klein goedjies bekommer, nie die groot dinge nie. Ek weet my geloof sal my deur die groot dinge dra, want ek het dit al reggekry.

vir gesondheidsprobleme. Veral ná my hewige allergiese reaksie op haarkleurmiddel. Ek het ook vir jare aan prikkelbaredermsindroom gely en moet beken daar was vrees in my agterkop dat dit kanker kan wees. Veral Daniël vra soms wat gaan van hulle word as ek doodgaan. Ek probeer hulle gerusstel dat hul pa en ander familie altyd daar sal wees vir hulle.

vir die gevare van Suid-Afrika. Maar ek sal nie emigreer nie. Ek wil my kinders hier grootmaak. As iets skeefloop, sal ek dit hanteer soos dit kom.

[/box]

Wat ek geleer het

Dit is nie maklik om uit depressie op te staan nie. Ek moes groei van ’n depressiewe slagoffer tot ’n vrou wat weer haar menswees teruggeëis het. Ek het besef die keuse was myne. Ek was oukei tot en met die hofsaak destyds, daarna het ek in ’n diep depressie verval en moes myself letterlik dwing om eers een aand saam met vriende uit te gaan en later sonder vrees die huis te verlaat.

Bly weg van negatiewe situasies en gedagtes. Dit trek jou net af.

Vergifnis is moeilik, maar ek het my aanvallers vergewe. Dit beteken nie ek voel hulle mag parool kry nie. Hulle het ’n verskriklike daad gepleeg en moet die gevolge dra.

Moenie te veel op ander staatmaak nie. Ek maak my eie keuses. Dit is noodsaaklik as jy as enkelma wil oorleef. Jy is in beheer van jou eie lewe. Ek kon nie die res van my lewe wegkruip agter wat met my gebeur het nie, net so kan ek nie die houding inneem nie van: “Siestog, help my, ek is ’n enkelma.”

I Have Life - Alison's Journey Gryp die lewe! Dit help nie jy wag totdat iets dramaties gebeur voor jy wakker skrik nie. Begin sommer vandag. Daar is soveel wat ek die afgelope 17 jaar geleer het dat ek dink dit is tyd vir ’n tweede boek. Dié keer wil ek dit self skryf. Ek was destyds nog te getraumatiseer om my boek I Have Life (Marianne Thamm, Penguin) self aan te pak.

Ek het soveel vroue langs die pad ontmoet by wie ek weer baie geleer het. Ek is nie die enigste mens met wie iets verskrikliks gebeur het nie.

Dr. Tiaan Eilerd Die aanval het my van die empatie en liefde van my medemens geleer. Ek het al dikwels gewonder of ek in daardie donker nag langs ’n bebloede meisie sou stop om haar te help? Die wonderlike ding is dat Tiaan Eilerd, wat my daardie nag twee uur lank alleen aan die lewe gehou het, destyds ’n student in veeartsenykunde was en daarna besluit het om medies te studeer. Hy is nou ’n dokter en het my bygestaan met Matthew se geboorte.

Ek herinner myself elke dag hoe bevoorreg ek is. Soms as ek af voel, sê ek vir myself: “Alison, jy is oukei, jy het al groot dinge bereik.”

  • Madelyn Lomas

    Wat ‘n merkwaardige vrou…ek salueer jou, Alison Botha! Mag die Here jou elke dag net meer bemagtig.

  • Linda

    @Madelyn ek stem saam omtrent ‘n merkwaardige vrou niks en niemand kry haar onder nie!!God is met jou!

  • Erika

    Op Vrouedag 2011 het jy ons toegespreek by ‘n werksfunksie – dit was ongelooflik om jou storie te hoor en hoe jy as ‘n beter mens daaruit kon stap! Jy is werklik ‘n Inspirasie vir my as Vrou!

  • MONICA VISAGIE

    Ek het onlangs in Australie na jou oor die radio geluister op ‘Conversations with Richard Fidler " se program op ABC en is van vooraf geinspireer!! Dit was ‘n heruitsending van die program en ek was so verheug dat ek dit weer kon hoor.Sterkte vir jou Alison.Jy is ‘n voorbeeld vir menige!

  • Erika

    Hoe sal ons jou ooit kan vergeet? Ek het jou boek gelees en jare terug in Sabie onder die bome na jou geluister. Jy bly n inspirasie!

  • Sue

    ‘n Inspirasie vir vroue so waar. Mag God se liefde jou omvou. Jy is ‘n pragtige mens.

  • Monica

    Alison,ek het jou boek gelees en was geskok oor dit wat hierdie barbare aan jou gedoen het. Die meeste van ons vroue sou tou opgegooi en gesterf het,maar jy het n wil van staal gehad om te oorleef. Dit is fantasties en ek bewonder jou daarvoor. Hulle verdien nie vryheid,maar eerder die doodstraf. Die feit dat jy hulle vergewe is prysenswaardig,want ek sou dit nooit kon doen nie. Ek kan jou net geluk toewens . Jy is n vrou duisend.

  • Riaan F

    Dit is snaaks dat net vrouens op jou artikel kommentaar lewer. Ek weet van soveel vrouens wat slefs deur hul eie mans verwoes word in die naam van ‘n huwelik. Maar wat jy deur gemaak het, en bereid is om aan te gaan, prys ek ons Pappa daarvoor. Dit is hoog tyd dat vrouens begin opstaan vir dit wat teen hulle gepleeg word, veral in die huwelik. En die feit dat mans daarmee kan wegkom, dit is ‘n skreiende skande en ek moet my kop as man in skaamte lat sak en sê: "Ek is jammer".

  • Jofranie Venter

    Alison, ek was by ‘n geleentheid waar jy die spreekster was. DIt was so LEWENSVERANDEREND. Sal jou NOOIT vergeet nie!

  • Elize Noëth

    Na ons ontvangsdame dag in Nelspruit op 29 September 2012 het ek vaneggend terug gekom kantoor toe en sover as wat ek enigsins kon jou naam en webwerwe verkondig sodat almal wat kan dit kan gaan lees. Hoop hulle vind inspirasie daardeur. mag jy die berskerming van die Here en die mense rondom jou vir altyd ervaar en die positiewe mens bly wat jy is.