Foto: Phyllis Green

Foto: Phyllis Green

Ons praat met

Shaleen Surtie-Richards gesels ná haar ma se dood PLUS sy vind weer liefde

Villa Rosa-aktrise Shaleen Surtie-Richards se ma, Ellen (beter bekend as Sakkie), is aan die begin van die maand oorlede. Shaleen gesels oor haar hegte verhouding met haar ma

“Ek was vanoggend weer hartseer,” het die aktrise gesê toe sy gister met SARIE.com gesels het.”Maar ek cope.”

Die organiseerders van die Royalty Soapie Awards, wat volgende naweek plaasvind, het haar gisteroggend laat weet dat sy ’n spesiale toekenning by dié geleentheid gaan ontvang.

“Die eerste mens vir wie ek wou vertel, was my ma,” sê Shaleen, wat eersdaags in twee produksies by die KKNK te sien is. Sy word ook by vanjaar se KKNK vereer vir haar bydrae tot die teaterbedryf in Suid-Afrika.

Shaleen en haar ma het tot haar dood toe saam gewoon. Nie net het sy haar vir 15 jaar opgepas nie, sy het haar ma ook gereeld met blomme bederf.

“Ek hou haar kamerdeur toe sodat ek dit nie kan sien nie,” vertel sy. “Ek mis haar verskriklik baie.”

Sy was my alles, als was vir haar.

“Die huis was vir haar, alles was vir Mamma. Ek is waar ek vandag is danksy hulle tweetjies [haar ma en pa].”

Shaleen praat oor haar ouers

“Maar ek weet sy is op ’n beter plek en dit help,” voeg sy by. “Ek is maar moeg en hartseer, maar daar is ook blessings in my lewe – als kom tot ’n punt met die twee toekennings en die werk by die KKNK.”

Daar is ook weer ’n spesiale man in Shaleen se lewe. Sy het dié nuus Woensdagaand op kykNET se Kwêla verklap, maar wil nie veel meer hieroor sê nie.

“Ek het al 16 kg verloor. Ek voel soos ’n jong meisie,” vertel Egoli se Nenna op ’n ligter noot.

Shaleen word maerder

Shaleen se wenke om deur ’n moeilike tyd te kom

  • Jy moet jou tyd uitdien – jy gaan nie môre al beter voel nie…
  • Omhels die leed en ervaar jou gevoelens
  • Huil jou hart uit! As jy hartseer is, moet jy ween sodat jy die emosie uit jou sisteem kan kry
  • Hoe gouer jy kan besig raak, hoe beter
  • Vier jou geliefde se lewe