Carla en Sean Else met hul kinders, Vaughn (agter), Caylem (voor) en die nuutste toevoeging, Daniel. By hulle is Chucky, een van die viervoetige lede van hul gesin. FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

“Álles vir my seuns” – Sean Else vertel

Min mense weet dat rolprentmaker Sean Else die trotse pa is van nie net een nie, maar drié oulike seuntjies. Noudat sy oudste bewus is van sy aanneming, spog hy vir die eerste keer in ’n onderhoud: Ons is ‘one big happy family’ … 

Wanneer jy by die voordeur van die Else se spoghuis in Houtbaai instap, ervaar jy onmiddellik ’n warm “tuiskoms”-gevoel. Op byna elke tafel pryk geraamde gesinsfoto’s. Op die mure is gesegdes oor liefde in drukskrif geverf.

Sean wys een bokant die eetkamerstel spesifiek uit. “The thing I love most about my home is who I share it with,” lees hy hardop. “Waarder woorde kry jy nie.”

Hy gaan sit buite op die stoep. Op die grasperk speel drie honde en twee katte tussen kinderspeelgoed. Die bergpieke en blou Atlantiese See skitter in die verte. Dis die ideale plek om ’n kind, of drie, groot te maak.

Hy was al akteur, sanger, musikant, skrywer en filmmaker. Maar bowenal is hy ’n gesinsman, beklemtoon Sean.

Toe hy en sy vrou, Carla, ’n paar maande gelede hul eersteling, Daniel Ryan, verwelkom, het die media berig dat Sean pa geword het. Min mense weet egter hy speel reeds ’n paar jaar lank dié rol vir Caylem (9), die seun wat hy besig is om aan te neem, en Vaughn (7), sy seuntjie uit ’n vorige verhouding.

Hy het nog nooit voorheen in die openbaar oor sy oudste seuns gepraat of in die media met hulle verskyn nie. Deels omdat hy hulle nie aan mense se vooroordele wou blootstel nie en uit respek vir hul biologiese ma. “Veral ook omdat ek sterk voel daaroor dat my kinders geanker moet bly,” sê hy. “Soos hulle ouer geword het, hetek besef hulle vra al hoe meer vrae oor hoekom hulle nooit deel van media-onderhoude is nie. Dis vir my belangrik dat hulle sien hulle is deel van ’n gelukkige gesin.”

FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Dit was sy ouer seuns se groot wens om saam met hul bababoetie in ’n media-fotosessie te wees, vertel hy. Nou wys hy hulle eksklusief vir SARIE-lesers, én die wêreld.

Vandag met ons gesprek is die twee oudstes by die skool en klein Daniel slaap rustig in sy blou-en- wit babakamer, waar sy ma hom pas neergesit het. Sy kom sluit by Sean aan. Die twee koer opnuut soos verliefdes vir mekaar.

My gesin vervolmaak my. Alles wat ek doen, is vir my seuntjies, en vir Carla,” sê Sean. “Ek was nog nooit so gelukkig en vreedsaam nie. Dis grootliks te danke aan Carla. Sy het my twee seuns aanvaar as haar eie, en hulle vir haar as nog ’n mamma.”

Hy was destyds in ’n verhouding met Caylem en Vaughn se ma toe sy swanger was met Caylem, vertel hy. Hy verkies om haar uit respek anoniem te hou. “Ek het van die begin af besluit hy is myne,” sê Sean oor Caylem, wie se biologiese pa nie tóé deel van sy lewe was nie.

Ná Vaughn se geboorte het sy verhouding met hul ma verbrokkel. “Dit het net nie uitgewerk nie en ons het besef ons is beter vriende. Ons het saam besluit dat wanneer die seuns ouer is, hulle by my sal kom bly. Hulle is al die afgelope vier jaar in my sorg. Ons is steeds op baie goeie voet. Hulle het nog gereeld kontak met haar en is baie lief vir haar. En sy vir hulle.”

Dit is ’n lang en ingewikkelde proses, maar Caylem se biologiese pa is bewus van die aannemingsproses en Sean het al kontak met hom gehad. Sean en Carla het geleidelik die nuus oor die aanneming aan Caylem oorgedra sodat dit kon insink.

Sean se beste vriend, die skrywer en rolprentvervaardiger Deon Opperman, wat self ’n aangenome kind is, het hom raad gegee oor hoe om dit te hanteer. Deon het ook met Caylem gepraat.

“Caylem is slim en fyn ingestel. Ons het die nuus op ’n mooi, sagte manier gebreek,” sê Sean. “Ek het vir hom net die waarheid vertel. Ek het gesê: Ek het jou gekies toe jy nog in jou ma se maag was. Jy’s baie spesiaal. Caylem se ma het vir hom gesê dit gaan nie oor die oom wat jou gemaak het nie, maar oor die pa wat jou liefhet.”

Carla voeg by: “Ons het ook die boekie Groot genoeg om te weet saam met hom deurgelees en verduidelik daar was ’n saadjie-pappa en die pappa wat hom gekies het.”

“Dis iets waarop hy baie trots is,” sê Sean. “Hy vertel vir almal: ‘My pappa het my gekies.’ Ek is al pa wat hy ken en ek is so dankbaar vir hom.

“Mense kan ’n ding vinnig op ’n lelike manier sien. Die seuns se geluk kom vir my eerste. Die belangrikste is dat hulle besef daar is in ons oë geen onderskeid tussen ons drie kinders nie. Elkeen moet gewaardeer voel, weet hy het ’n veilige, liefdevolle huis. Ons situasie is ongelooflik positief en spesiaal. Alles gebeur om ’n rede. Eken hul ma het bymekaar uitgekom sodat die seuntjies in my en Carla en ons ouers se lewe kan wees. In hul ma se lewe kan wees.”

Om skielik ma te wees vir twee seuntjies was vir haar ’n groot uitdaging, erken Carla.

Sean het haar nie dadelik van hulle vertel toe hulle tydens 2010 se Wêreldbeker-sokker ontmoet het nie. “Hy’t my eers verlief gemaak op hom!” skerts Carla, en albei lag.

“Met die eerste ontmoeting by ’n Wêreldbeker-dinee het ek gewonder hoekom hy so vroeg huis toe gaan. Later het ek uitgevind dit was om by die seuns te wees. Hy’t my darem al op ons eerste afspraak van hulle vertel. Ek het dus geweet dis ’n package deal. Toe ek hulle ontmoet, was ek dadelik verlief op hulle. Hulle is adorable. Tog het jy ’n prentjie in jou kop oor hoe jou lewe eendag gaan afspeel, en as dit nie so gebeur nie, kan dit ’n uitdaging wees,” erken sy.

“Ek was nog altyd ’n perfeksionis wat in beheer van dinge wil wees. Skielik het ek nie in beheer gevoel nie. Nie geweet hoe om ma te wees nie. Skielik kyk twee seuntjies na my en hulle wil my liefde en aandag hê, en ek weet nie hoe om dit te hanteer of wat ek doen nie. Boonop moet ek eintlik ook nog vir Sean leer ken. Dit was moeilik. Maar ek het geleer ons moet almal net genoeg ruimte hê om in te groei. Dan groei ons saam ook. Dit was ’n proses, dit het nie oornag gebeur nie. Ons leer mekaar steeds ken, groei steeds saam.”

Carla het met gemak in die rol van ma gespring, sê Sean. “’n Huis vol manne kan maklik ‘hard’ raak. Maar Carla het ’n sagtheid, liefde en ’n beskermende hand die huis ingebring.”

FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Die seuns het dit ook vir haar maklik gemaak, meen Carla, omdat hulle so hulpvaardig en liefdevol is. “Hulle was so verwelkomend. Die verhouding was maklik van die begin af, ék moes net aanpas. Hul ma het twee wonderlike seuns in die wêreld gebring en ’n goeie grondslag gelê. Ek is dankbaar dat sy my met hulle vertrou. Vandag het ek hulle lief soos my eie. Dis vir my so lekker om hulle te sien grootword. Elke dag iets nuuts van hulle te leer.”

Pa-wees het hom gedwing om introspeksie te doen, vertel Sean. “Vaderskap beteken verantwoordelikheid. Jy is soos ’n fakkeldraer wat óf kan uitbrand óf ’n lig in die donker kan wees. Dit het my gedwing om eers huis skoon te maak, om myself af te vra of ek gereed is om ’n voorbeeld te wees, die regte besluite vir my kinders te neem. Dis asof elke stukkie van die legkaart van jou lewe skielik pas wanneer jy pa word.”

Klein Daniel se broers is baie trots om ouboet te wees, sê Carla. “Hulle help oral en pas hom op. Met sy geboorte het Caylem ewe gesê hy sal enigiets vir hom doen, behalwe doek aansit,” glimlag sy.

“Elkeen se persoonlikheid is uniek. Caylem is ’n leier, skerp en intelligent. Die realis. ’n Ou siel. Vaughn is kunstig, musikaal. Die dromertjie,” spog Sean.

“Ek wil hulle met liefde, selfdissipline, eerbaarheid en lojaliteit grootmaak. Hulle
moet respek hê vir hulself, vir volwassenes, vir vroue. As hulle besluit om ’n loopbaan in die vermaakbedryf te volg gaan hulle hard moet werk om dinge te bereik. Ek sal hulle ondersteun, maar ek gaan nie dat dinge sommer in hul skoot val nie.”

“Soos nou die dag. Toe Caylem ’n fliekrol losgeslaan het,” sê Carla trots. “Hy’t self by die drama- juffrou ingestap en gesê hy wil dramalesse hê. Die volgende oomblik het ons gehoor hy’t ’n rol in ’n fliek gekry.” Dié fliek met Louw Venter, Konfetti, begin April draai.

Sean, eens lid van die sanggroep Eden, meen die plaaslike film- bedryf is besig om sy voete te vind. Hy is so te sê klaar met musiekmaak. Dié dat hy sy platemaatskappy, Mozi Records, gesluit en ’n filmvervaardigings- maatskappy, Collective Dream Studios, gestig het.

“Ek het drama geswot om flieks te maak en in my finale jaar ’n kortfilm geskiet. Die musiek het net toevallig gebeur. Dis iets waaroor ek dankbaar is, want dit het deure vir my oopgemaak en ek het soveel geleer. Maar jou prioriteite verander. Ek doen nou wat ek nog altyd wou doen. Dis ’n groot rede waarom ons hele gesin Kaap toe getrek het. Om meer betrokke by die internasionale filmbedryf te raak.”

Sy maatskappy het onlangs help vervaardig aan die internasionale fliek, The Perfect Wave, met Clint Eastwood se seun Scott.

FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Hy en Deon skryf en ontwikkel tans twee rolprente en ’n TV-reeks wat reeds internasionale belangstelling lok. Hulle is ook medevervaardigers van twee internasionale films wat vanjaar in Suid-Afrika geskiet word.

Carla sê sy het by Sean geleer wat dit verg om sukses te behaal. Mense kyk na hom en dink, jis, daai ou is suksesvol. Maar dit het harde werk geverg. Ek is baie trots op hom.”

As sakeman met ’n besige agboek is gehaltetyd met sy gesin belangrik. “Ek het geleer
om ’n roetine te volg. Ek en Carla maak tyd vir saamwees. Sy het my geleer om in die nóú te leef. Elke oomblik saam te waardeer. My grootste uitdaging is om genoeg liefde en tyd aan al drie seuntjies te gee. Veral nou met Daniel in ons lewe, is dit belangrik om die balans tussen al drie te handhaaf. Vir elk die aandag, liefde en dissipline te gee wat hy benodig.

“Carla speel ’n groot rol hierin. Sy’s meer as net ’n liefdevolle ma. Haar mooiste eienskap is haar eerlikheid. Ek dink die kinders het dít dadelik raakgesien en haar daarom aanvaar.”

Ek raak skoon emosioneel as ek aan ons gesin dink,” sê Carla, haar oë liefdevol. “Dis werklik spesiaal. Sean en die seuns behandel my soos ’n koningin.” Sy kyk ’n oomblik na Sean. “Maar ek dink ons kort nog ietsie pienks in die huis. ’n Dogtertjie.”

Sean glimlag. “Ja, beslis,” sê hy.

“Nog enetjie vir dié one big happy family.”